Die tienjarige Miguel Louw het op 17 Julie buite die Laerskool Rippon in Sydenham in die hartjie van Durban verdwyn.

’n Verdagte, wat vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem is nadat hy op kringtelevisie saam met die kind gesien is, het Maandag vir die eerste keer sedert sy inhegtenisneming in die landdroshof in Durban verskyn.

Landdros Mahomed Motala het tydens dié verskyning beveel dat sy naam nie genoem mag word nie uit vrees dat dit met die ondersoek sal inmeng.

Arlene Omardeen-Paul, Miguel se ouma, het Dinsdag aan Huisgenoot vertel die Louw-familie is verpletter oor sy verdwyning en is naarstiglik op soek na antwoorde oor die voorval. 

Sy sê Raylene, Miguel se verpletterde ma, het Maandag in die hof baie emosioneel geraak toe sy die verdagte in die saak vir die eerste keer sedert haar seun se verdwyning gekonfronteer het.

“Sy wou weet wat enige ander ma in so ’n situasie wou weet: Sy wou antwoord hê oor waar haar seun is. Dis vir ons baie erg. Niemand slaap nie, niemand eet nie; ek is self op sterk medikasie – ons lewe byna nie eens nie. Ons lewe elke dag in vrees dat ons ’n oproep gaan kry dat Miguel iets oorgekom het,” sê Arlene.

Sy sê die hele Sydenham-gemeenskap, waar Miguel saam met sy ouers woon, is in rou en “bid konstant vir goeie nuus”. “Baie van die gemeenskapslede kom na ons toe en sê hulle was nog nooit so ten gronde soos hulle tans is nie. Miguel en sy sussie, wat ons nie te veel in die media wil blootstel nie, het ’n ongelooflike sterk band. Dit is vir haar ewe erg – ons weet nie wat om haar te antwoord op vrae of haar boetie ooit weer terugkom nie.” 

Kol. Thembeka Mbhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die verdagte sal weer volgende week in die hof verskyn. Sy kon nie onmiddellik ’n nuwe datum vir sy hofverskyning bevestig nie.

Mbhele sê die die aanklag teen die verdagte is intussen van ontvoering na kinderhandel verander. Sy sê meer inligting oor die ondersoek en die verdagte mag nie in dié stadium bekend gemaak word nie omdat die ondersoek steeds voortduur.

Sy sê die saak is weens die sensitiwiteit daarvan aan die direktoraat vir prioriteitsmisdaad (Valke) oorhandig.