Só het Sharnelle Hough se gebroke ma, Sonja Hough, Dinsdagmiddag aan Huisgenoot gesê nadat Xander Bylsma in die landdroshof in Vryburg onskuldig gepleit het op twee aanklagte van moord.

Hy word van die moord op Sharnelle (17) sowel as dié van haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), aangekla.

Marna was Xander se kleinniggie. Dié twee vriendinne is op 26 Mei in die vroeë oggendure in die Hoërskool Stella se meisieskoshuis dood aangetref.

Sharnelle se lyk het teen die trappe gehang en Marna se lyk is in die badkamer gekry.

Nie Sonja of Ronnie, Sharnelle se pa, het vanoggend se hofverrigtinge bygewoon nie. Hulle het glo geweet die saak sal uitgestel word.

“Ek kan nie vir jou sê hoe ek in my hart voel nie,” het Sonja emosioneel vertel.

“Dis ontstellend.”

Xander het, kort nadat Sharnelle en Marna gekry is, ’n bekentenis aan ’n privaat speurder, Chris Saunders, afgelê waarna hy by die Vryburg-polisiekantoor in hegtenis geneem is.

Hy is sedertdien in aanhouding.

Die saak is vanoggend tot 6 Desember uitgestel. Xander sal dan in die hooggeregshof van Mmabatho verskyn.

Intussen sal hy na Sterkfontein-hospitaal gestuur word vir sielkundige waarneming om te bepaal of hy toerekeningsvatbaar is.