Harley Joe Morgan (19) en Rhiannon Boudreaux (20), van Texas in die VSA het op Vrydag, 23 Augustus, pas die Orange-hofgebou verlaat ná hul troue, toe die verskriklike ongeluk plaasvind.

Terwyl die paartjie glo besig was om by die parkeerterrein uit te ry om by die snelweg aan te sluit, het ’n aankomende vierwielaangedrewe voertuig wat ’n trekker op ’n sleepwa gesleep het, hul motor getref.

Die pasgetroudes se motor het verskeie kere gerol voordat dit in ’n grasbedekte sloot tot stilstand gekom het.

Volgens die nuusdiens KDFM het die bruidegom se ma, Kennia Lashawna Morgan, wat agter die paartjie gery het, tevergeefs probeer om hulle te red.

Hulle is op die toneel as dood verklaar.

“Hulle was nie eens vyf minute getroud nie,” was Kenna se woorde.

“Ek moes toekyk hoe my baba sterf. My seun se bloed is nog steeds aan my, want ek het my bes probeer om hulle uit die motor te trek.”

"Dis ’n beeld wat die res van my lewe by my sal spook. Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit sal nooit verflou nie. Ek sal elke nag van my lewe, solank ek hier op aarde is, sien hoe daardie voertuig my baba tref en my baba doodmaak.”

Kenna Morgan (regs) en haar dogter Christina Fonte
Kenna Morgan (regs) en haar dogter Christina Fontenot was in die voertuig agter die pasgetroude paartjie. Foto: Facebook-skermgreep (KFDM)

Die bestuurder van die voertuig is nie in die ongeluk beseer nie en die presiese oorsaak van die ongeluk is ook nog nie bekend nie.

Kennia het voorts aan die New York Post gesê dat die tweejies van kindsbeen af op mekaar verlief was.

"Daardie twee kleingoed," was die verpletterde ma se woorde. “Al wat hulle wou doen was om te trou en met hul lewe te begin. Hulle het so baie drome gehad.”

Sy het gesinne aangespoor om hul tye saam te koester.

Gee jou gesin ’n drukkie, selfs al is julle kwaad vir mekaar. Wees lief vir jou gesin. Selfs al maak hulle jou kwaad, moet jy dinge goedmaak.

"Gee vanaand jou gesin ’n drukkie wanneer jy tuiskom,” het Kenna voortgegaan.

“Indien jy kinders het, gaan huis toe en omhels hulle, want ek het nou nie meer my kind nie. Die enigste bron van vreugde in my lewe is van my af weggeneem.”

“Gee jou gesin ’n drukkie, selfs al is julle kwaad vir mekaar. Wees lief vir jou gesin. Selfs al maak hulle jou kwaad, moet jy dinge regmaak.

“Moenie met kwade gevoelens gaan slaap nie, want jy weet nooit. Jy weet nie hoe maklik jy daardie persoon kan verloor nie.”

Die polisie ondersoek die saak.

Bronne: People, KDFM, New York Post