So bring 'n kleindogter van Fanie (78) en Colleen Engelbrecht (74), wat op Moedersdag wreed op hul plaas Welgevonden naby Poortjie in Gauteng vermoor is, hulde aan haar grootouers.

"Julle was die beste ouma en oupa waarvoor enige kleinkind nog ooit kon vra. Ek gaan julle vir altyd mis. Julle is vir altyd in ons harte," skryf Tessa Engelbrecht in 'n boodskap op Facebook.

In reaksie daarop vertel ander wat die egpaar geken het watter meelewende mense hulle was. "Tannie Colleen" het vir haar "die wêreld beteken", skryf een.

Colleen was volgens haar altyd opgewek, sprankelend, 'n regte dame, en het haar deur haar ouers se siekte en afsterwe bygestaan.

"Nooit het sy 'n week laat verbygaan dat ons nie gepraat het nie. My hart is gebreek."

Niemand verdien so iets nie, "veral nie sulke twee liewe mense nie", beaam 'n ander.

In een van talle gewelddadige aanvalle op bejaardes wat Suid-Afrikaners onlangs geskok het, is die egpaar Sondag deur vermoedelik drie rowers oorval kort voor hulle 'n Moedersdag-middagete saam met hul seun, Jo-An, sou geniet. Fanie is blykbaar keelaf gesny en Colleen met 'n strykyster-koord verwurg.

'n Tabletrekenaar, selfoon, kontant en twee vuurwapens is gesteel, en die rowers, wie se spore op die werf gevind is, het blykbaar ook vergeefs met 'n voertuig probeer wegkom voor hulle te voet gevlug het.

Jo-An het aan Netwerk24 vertel sy ouers was nog in hul kerkklere toe hy gaan kyk het waarom hulle nie vir die ete opdaag nie en hy op hul liggame afgekom het.

Sy familie boer al amper 40 jaar op die plaas, en Fanie en Colleen was baie geliefd in hul gemeenskap.

Volgens John Moodey, DA-leier in Gauteng, is die moord op die Engelbrecht-egpaar een van verskeie "hartseer verhale van toenemende aanvalle op mense wat op plase en kleinhoewes in Gauteng leef en werk".

Sy party het al telkens " 'n beroep op die ANC- provinsiale regering gedoen om die herontplooiing van gespesialiseerde plattelandse veiligheidseenhede 'n voorkeursaak te maak. Maar die pleidooi het tot dusver op dowe ore geval, en inwoners wat in afgeleë gebiede in die omgewing woon, bly kwesbaar vir aanvalle.

"Gauteng is die tuiste van talle plaasgemeenskappe, maar die ANC verontagsaam die veiligheid van boere en plaaswerkers," meen Moodey.

Kapt. Kay Makhubela, SAPD-woordvoerder in Gauteng, sê die polisie soek steeds na die moordenaars.

Bronne: Facebook, Crime Intelligence Community Network, politicsweb.co.za, netwerk24.com