’n Week lange soektog na die vermiste Siam Lee (20) het Donderdag tragies tot ’n einde gekom.

Die erg verbrande liggaam van ’n vrou is Saterdag deur ’n boer op ’n suikerrietplaas gevind.

Daar is gevrees dat die liggaam dié van Siam was. Die nuus het Donderdag soos ’n veldbrand versprei.

Sue Foster, die Lee-familie se woordvoeder, het bevestig dat die gru-vonds hul ergste vrese bewaarheid het.

“Die familie het Donderdag haar liggaam uitgeken. Dit is Siam se verbrande liggaam wat gevind is,” het Sue hartseer in ’n telefoniese gesprek aan Huisgenoot gesê.

Luidens berigte was haar gesig erg verbrand. 

Volgens Sue was Siam al sedert Oktober 2017 deur iemand agtervolg en gedreig.

“Daar was die man wat ’n verhouding met Sue wou hê en sy het glad nie belanggestel nie. Sy het dit vir hom gesê en hy kon dit nie hanteer nie," vertel sy aan Huisgenoot.

“Hy het aanhoudend lelike en vernederende boodskappe aan haar gestuur. Dit was verskriklik.”

Kringtelevisiebeeldmateriaal in Maytomlaan het glo gewys Siam is ontvoer deur die bestuurder van ’n swart Mercedes met ’n Gautengse nommerplaat.

Kol. Thulani Zwana, ’n polisiewoordvoerder, sê hoewel die familie reeds die liggaam uitgeken het, wag die polisie steeds vir DNS-toetse vir amptelike bevestiging.

"Die DNS-toetse sal die oorsaak van sterfte en die datum van die slagoffer se sterfte kan bepaal."

Thulani het ook gevra dat enigeen met meer inligting oor die saak na vore moet kom. Die polisie het ’n identikit uitgereik van ’n man wat hulle moontlik met hul ondersoek kan help.

Geen arrestasies is nog gemaak nie.

Die man kan die polisie moontlik help met hulle ondersoek.

Medelye vir die familie het in die sosiale media ingestroom.