Lali van Zuydam sê dit het haar vyf maande geneem om iets te skryf oor haar niggie wat vroeër in 2017 op Stellenbosch ontvoer, verkrag en vermoor is.

Dit het die land geruk toe Hannah (21) en haar vriend, Cheslin Marsh (20), op die oggend van 27 Mei in Hannah se VW Citi Golf oorval is. 

Hannah is aangerand en herhaaldelik verkrag.

Haar lyk is kort ná halfnege die oggend op die plaas Groenhof naby die Knorhoekpad buite die dorp gevind. Cheslin is aangerand en vir dood agtergelaat. 

Vier verdagtes is intussen aangekeer en het reeds in die landdroshof op Stellenbosch verskyn op aanklagte van moord, verkragting, ontvoering en diefstal. 

Lali sê die wêreldwye #MeToo-veldltog het haar aangespoor om eindelik iets te skryf oor iets wat haar na aan die hart lê.

Deur die #MeToo-veldtog word vroue wat seksueel geteister en/of aaangerand is aangemoedig om hul stories te vertel.  

Lali sê sedert Hannah se dood wou sy al soveel kere iets geskryf het. Sy wou nie skuld gee of kla nie; sy wou graag iets bydra tot die gesprek wat alle Suid-Afrikaners ongetwyfeld moet hê. 

Sy voel die #MeToo-beweging het haar die regte geleentheid gegee omdat vrouens en meisies wêreldwyd hul stories deel. 

“Ek is baie gelukkig om nie my eie #MeToo-storie te hê nie. So baie vroue in Suid-Afrika ly (sommige in stilte) weens seksuele teistering of seksuele mishandeling,” skryf sy. 

“Dit het ’n aaklige tragedie in my eie familie geverg om my te laat besef wat soveel families, vrouens, niggies en ouers elke dag moet deurmaak.

“Dink aan Anene Booysen, dink aan Karabo Mokoena, dink aan al die ander meisies op die voorblaaie van die koerante weens die aaklige goed wat hulle moes deurgaan aan die hand van iemand anders.

“Dink dan aan my pragtige 21-jarige niggie, wat haar hele lewe voor haar gehad het, wat vermoor is in ’n dekade oue VW Golf met geen waarde nie. Verkrag deur verskeie mans. Waarom? Want hulle kon? Vir die pret daarvan? Wie weet.

“Dit het my maande geneem om te aanvaar Hannah se laaste oomblikke definieer haar nie. In een dag het sy ’n hutsmerk en Suid-Afrikaanse statistiek geword. 

“Wat ek sedertdien besef het, is daar is nie so iets soos ’n #MyToo-storie nie. Dit is ons almal se storie. Dit is MY probleem ook. En dit sal eendag ook my dogter se probleem wees, skryf sy.

“My oom en tannie (Hannah se ouers) stel volgende week die Hannah Cornelius Foundation bekend. Dit is hoe hulle oorgaan tot aksie – sodat minder mense deur dieselfde swaarkry hoef te gaan. Ek is so trots op hulle, want hulle DOEN iets. Ek is trots, want hulle wil keer dat dieselfde met iemand anders se dogter, niggie of ma gebeur.

“. . . Onthou dit: Moenie wag tot dieselfde met jou of met ’n geliefde gebeur nie. Praat daaroor. Dink daaroor. Doen iets daaromtrent. As nie vir jouself nie, doen dit vir Hannah of Karabo of Anene.