ca.gofundme.com/Julia Davey
Julia Davey en haar kinders, Joel (12), Tom (16) en Eleanor (5). Foto: ca.gofundme.com/Julia Davey

Sy is vasbeslote dat die wrede siekte haar nie van haar groot dag waarna sy so baie uitsien, gaan ontneem nie.

Julia Davey (40) van Dorset, Engeland, was baie opgewonde oor ’n gelukkige toekoms saam met haar geliefde gesin toe sy begin vanjaar verneem chirurgie en ander behandeling om die aggressiewe kanker wat haar lewe skielik omvergewerp het, was blykbaar suksesvol.

Een van die eerste dinge wat sy wou doen, was om met Nick Stoodley, haar lewensmaat van baie jare aan wie sy laas September verloof geraak het – en ook die pa van haar jongste kind – af te haak.

’n Paar maande later moes sy egter verneem die kanker is terug. Maar sy stry moedig voort – haar dryfkrag is dat sy ’n ma vir haar kinders wil wees. . . en steeds saam met Nick voor die kansel wil staan, al word haar troudag nou vorentoe geskuif. Vir haar sal dit die seël wees op ’n liefdevolle gesinslewe.

Julia en Nick Stoodley, haar verloofde en lewensmaat van baie jare. Foto: ca.gofundme.com/Julia Davey
Julia en Nick Stoodley, haar verloofde en lewensmaat van baie jare. Foto: ca.gofundme.com/Julia Davey

“My hele wêreld is die afgelope jaar op sy kop gekeer. Aanvanklik het dit heel beheerbaar gelyk, maar toe het alles verander. Ek het besef ek het ’n groter stryd voor my as wat ek eers gedink het,” het die voormalige sekretaresse die Groot K se impak op haar lewe beskryf. 

Sy is in Junie verlede jaar met ’n seldsame kanker in haar neus se septum gediagnoseer, volgens ’n oorsig van haar stryd op ’n webblad van ’n ondersteuningsgroep vir haar. Dit was nadat sy twee maande tevore vir ’n geblokte neus gaan hulp soek het en ’n groeisel toe uit haar een neusholte verwyder is.

Die kanker het egter betreklik gou baie aggressief geblyk te wees. In Julie verlede jaar is haar septum eers verwyder. Die maand daarna moes ’n verdere groeisel verwyder word, en laas September het dokters helaas bevestig dat die kanker deur haar hele neus versprei het.

Teen einde September het sy met chemoterapie begin, maar twee kursusse was onsuksesvol en die enigste oorblywende keuse was dat haar hele neus verwyder moes word. Sy was twee weke in die hospitaal nadat haar neus, ’n deel van haar verhemelte en betrokke limfkliere na haar nek in ‘n 14 uur-operasie laas November verwyder is.

’n Prostetiese neus, gegrond op foto’s, is toe ook vir haar geskep.

Die herstelpad was bitter moelik, maar teen Januarie vanjaar, met radioterapie-sessies onderweg, het sy die groen lig van dokters gekry. Sy kon nie wag om weer met haar woelige lewe saam met Nick, hul dogtertjie Eleanor (5), en Tom (16) en Joel (12), haar twee seuns uit haar vorige huwelik, voort te gaan nie.

kanker
ca.gofundme.com/Julia Davey

Haar eerste MRI-skandering die afgelope April het egter nog ’n gewas in haar linker-bokaak-area getoon. ’n Deel van haar binnewang en kaak moes toe verwyder word. Tog het die dapper vrou moedig voortgestry op haar pad van herstel en rekonstruktiewe chirurgie.

En toe, in Junie vanjaar, kry sy die ontstellende nuus dat daar verder kankerspore dieper agter in haar neusholte teenwoordig is, waar chirurgie ongelukkig te riskant sou wees. Sy en haar toegewyde gesin, haar ander geliefdes en die omgeemense in haar plaaslike gemeenskap vestig nou hul hoop daarop dat die kanker met langtermyn-immunoterapie beheer kan word.

kanker
ca.gofundme.com/Julia Davey

Sy’s ’n sterk vrou, maar het ook laat blyk hoe kwesbaar dié meedoënlose siekte haar laat voel: “Ek was nog nooit ydel nie, maar ’n mens se neus is so prominent. Dit was verpletterend. Daar’s ’n gat waar my neus was. Daar’s geen ander manier om dit beskryf nie. Net ’n paar mense het dit gesien, en ek wou dit nie vir my kinders wys nie.

“Dit voel asof ek heeltyd teen ’n gety baklei, en dis nou vir my noodsaaklik dat hierdie huidige behandeling werk.” 

kanker
ca.gofundme.com/Julia Davey

Die meelewing van die mense in haar gemeenskap en ander van oraloor wat gehelp met skenkings vir haar ondersteuningsgroep, ook om haar en Nick finansieel te help sodat hulle nou in November kan trou – vroeër as beplan, op onkoloë se aanbeveling – het haar wel diep aangegryp. 

“Ná alles en alles bly dit my doel om ’n ma vir my kinders en ’n vrou vir Nick te wees. Ek wil positief bly.”

Bronne: ca.gofundme.com, dorsetecho.co.uk, survivornet.com