Dirkie Brits, vroulief Ilana en hul sewejarige dogtertjie, Lienka, het op 10 Augustus van Parys af op die R500 teruggery toe ’n vragmotor glo oor die pad gery en hul voertuig getref het.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, verduidelik dat die egpaar reeds oorlede was toe die ER24-paramedici sowat 11:35 op die ongelukstoneel gekom het.

Foto: ER24
Die ongelukstoneel op die R500. Foto: ER24
 

“Ons paramedici het ’n ander paramedikus by die ongeluk gevind wat besig was om die sewejarige dogtertjie te behandel, wat ook in die motor was,” vertel Russel. 

Dié paramedikus was nie aan diens gewees nie en het die dogtertjie, wat in ’n kritieke toestand was, vir haar talle wonde behandel toe hy op die ongelukstoneel afgekom het. 

Lienka is met ’n helikopter na ’n private hospitaal in Alberton vervoer, waar sy steeds is.

Volgens ’n nabye familielid gaan dit al baie beter met die dogtertjie. “Sy het baie inwendige beserings gehad en baie kneusings op haar lyf waar die sitplekgordel haar seergemaak het,” vertel hy aan Huisgenoot.

“Sy is nog in die waakeenheid en sy is nog op ’n ventilator, maar ek dink dit gaan vandag ontkoppel word. Dit gaan elke dag beter en beter,” voeg hy by.

Dominee Johan Brink van NG Kerk Fochville-Noord, waar Dirkie en Ilana gemeentelede was, vertel dat vriende in die gemeente en die insleepdiens hom oor die ongeluk gebel het.

Foto: Verskaf
Dirkie en Ilana Brits is oorlede toe ’n vragmotor glo oor die pad gery en hul motor getref het. Foto: Verskaf

Dirkie het ook twee ouer dogters, 13 en 15 onderskeidelik, uit ’n vorige huwelik gehad wat by hul ma in Klerksdorp bly.

“Die ouer dogters was ook elke tweede week hier by ons in die gemeente in die Sondagskool. Hulle was deel van ons gemeente. Dit is maar vir hulle baie traumaties,” vertel Johan.

Sover beplan Johan en die familie om Maandag 24 Augustus ’n roudiens by NG Kerk Fochville-Noord vir die egpaar te hou, nadat hulle veras is.

“Ek weet nog nie waar hul sewejarige dogtertjie gaan bly as sy uit die hospitaal is nie. Ek weet nie of daar ’n testamentêre bepaling daarvoor is nie,” vertel Johan.

Intussen spoel die rou en seer deur die gemeenskap wat so lief was vir Dirkie en Ilana.

“So iets is vreeslik. Dirkie en Ilana was beide baie innemende mense,” sê Johan. “Hulle het baie vriende veral onder die jonger mense in ons gemeenskap gehad. Almal was lief vir hulle,” sê Johan.