Die 19-jarige outjie met die seuntjiegesig en kappietop wat as universiteitstudent opgeskop het, wou hê sy skepping moet ten goede gebruik word. Dit was veronderstel om mense met mekaar te verbind, hindernisse van afstand en tyd te oorkom en ’n gevoel van gemeenskap te skep. Toe Facebook meer as ’n dekade gelede die mark tref, het dit gelyk asof Mark Zuckerberg dit reggekry het.

Die onderneming wat hy in ’n universiteitskamer by Harvard begin het voor hy opgeskop het, het die invloedrykste sosiale netwerk ter wêreld geword en het nou ’n verstommende 2,2 biljoen maandelikse aktiewe gebruikers. Dit het Mark se utopiese droom van destyds bewaarheid: “om vir mense die mag te gee om te deel en die wêreld oop en meer verbind te maak.”

Namate sy platform gegroei het, het Mark ook ontwikkel. Hy het van ’n sosiaal ongemaklike programmeerder in ’n gladdebek-uitvoerende hoof van ’n groot Silicon Valley-maatskappy ontpop. Maar sy sukses, en dié van sy tegnobaba, het teen ’n groot prys gekom.

Met sy onversadigbare hunkering na ’n ál groter gehoor het Mark (nou 33) die platform die afgelope paar jaar in ’n nuwe rigting begin stuur, een waaroor hy volgens sommige kritici min beheer gehad het. Die maatskappy is sedert 2016 deur verskeie skandale getref, en die idealistiese programmeerder word nou deur moeilike vrae gekonfronteer: Dalk het sy sosiale netwerk die wêreld nie ’n beter plek gemaak nie; dalk het dit juis die teenoorgestelde gedoen.

Facebook is vandag ’n “maatskappy wat worstel met die probleme wat dit veroorsaak het”, het ’n werknemer aan die tegnotydskrif Wired erken. Dié publikasie het onderhoude met 51 Facebook-werknemers gevoer; van hulle het hul mond erg oor Mark uitgespoel.

Die Facebook-stigter “het berou oor wat gebeur het”, het ’n bron aan Wired gesê. “Hy slaap nie saans lekker nie.”

Wie weet wat dit aan ons kinders se brein doen?
Mark het Amerika die afgelope ruk deurkruis om Facebook-gebruikers te ontmoet. Hy het onder andere plase besoek.

Selfs mense wat eens aan die voorpunt van Facebook se vooruitgang was, kritiseer nou die impak wat die platform op die wêreld gehad het. Sean Parker, een van Facebook se vroeë beleggers en die stigter van die aanlyn musiekdiens Napster, noem homself nou iemand met “gewetensbesware” teen sosiale media soos Facebook.

“Dis presies die soort ding waarmee ’n kuberkraker soos ek vorendag sou kom, want jy buit ’n kwesbaarheid in die menslike sielkunde uit,” sê hy. “Die uitvinders, skeppers – dis ek, dis Mark, dis Kevin Systrom (die stigter) van Instagram, dis al dié mense – het dit bewustelik begryp. En ons het dit in elk geval gedoen. Wie weet wat dit aan ons kinders se brein doen?”

Facebook se voormalige ondervoorsitter van gebruikersgroei, Chamath Palihapitiya, het ook onlangs gesê hy sal nie sy kinders naby “dié twak” toelaat nie. Hy ervaar “geweldige skuldgevoelens” oor sy rol in Facebook se groei. “Ek dink ons het die gereedskap geskep wat die sosiale struktuur van hoe die samelewing werk, uitmekaarskeur.”

Hy sê die sosiale media skep “dopamiengedrewe terugvoerlusse”. Wanneer ons met mekaar op dié platforms omgaan, moedig die sosiale interaksie die afskeiding van die goedvoelhormoon dopamien in die brein aan, maar die interaksie vind telkens binne ’n beperkte konteks plaas. Jy word op Facebook net blootgestel aan dit waarvan jy hou, nie aan die groter prentjie nie.

'Dit vernietig hoe die samelewing werk.'

Chamath sê dit “vernietig hoe die samelewing werk”, want dit veroorsaak dat mense nie noodwendig blootgestel word aan ingeligte diskoers wat uiteenlopende insigte in ag neem nie. Hy sê dit veroorsaak ook dat verkeerde inligting en onwaarhede versprei word. Dit het waarskynlik ’n probleem geword omdat Facebook se hoofde nie mooi gedink het hoe dit sal werk as hulle die grootste verspreider van nuus word toe die maatskappy in 2013 besluit om nuus in sy nuusvoer bekend te stel nie, meen die Wired-redakteurs Nicholas Thompson en Fred Vogelstein.

Die maatskappy het reëls oor gehalte en akkuraatheid, maar het daarin misluk om prosesse in plek te stel wat die kaf van die koring skei wat die verspreiding van nuus betref. Daar is niks wat keer dat vals nuus op die platform versprei word nie en dit kan net soveel mense bereik soos feitelike berigte deur gesaghebbende mediabronne. En hoe meer mense daarvan “hou”, hoe meer word dit met ander gedeel.

Op Facebook word jou vriende se babafoto’s, politieke onthullings deur geloofwaardige publikasies, satiriese artikels deur parodiewebtuistes en selfs wolhaarstories immers op dieselfde manier in die nuusvoer aangebied. Tydens die Amerikaanse presidentsverkiesing het Donald Trump se veldtogspan dié swak plek vindingryk ingespan.

Sy span het Facebook gebruik om moontlike kiesers op te spoor wat ooreenkomste toon met sy bestaande ondersteuners en advertensies na hul nuusvoer gestuur. Dan het Trump boodskappe gedeel soos: “Die verkiesing word gemanipuleer deur die media wat valse en ongegronde stories en blatante leuens publiseer.”

Hy het ook kerke besoek.

Sy teikengehoor het dit vir soetkoek opgeëet, die boodskap het in die sosiale media begin versprei, en Trump se sienings het vastrapplek gekry.

Toe die fopnuus: Hillary Clinton het kwansuis wapens aan die Islamitiese Staat verkoop; ’n FBI-agent wat glo Clinton se e-posse uitgelek het, is dood gevind. Die bewerings was nie waar nie, maar dit het soos ’n veldbrand in die sosiale media versprei. Die ergste? Fopnuus het dikwels meer reaksie as regte nuus ontlok en selfs meer mense bereik.

Facebook spartel nou om die uitdagings rondom fopnuus te oorkom. Die maatskappy het in September verlede jaar oop kaarte gespeel oor die R1,16 miljoen wat hulle betaal is om sowat 3 000 advertensies te publiseer wat daarop gemik was om die Amerikaanse politiek tydens die 2016-verkiesing te beïnvloed. Die advertensies is deur Russiese geld gefinansier.

Die Russe het gedoen waarvoor die platform ontwerp is, sê ’n gewese lid van die Facebook-binnekring, die belegger Roger McNamee. Hy sê hulle het mense gesoek wat “kwaad en bang is” en hul advertensies op Facebook gebruik om dié mense in groepe saam te snoer.

Ná die onthulling oor die Russiese advertensies het Sandy Parakilas, Facebook se gewese privaatheidsbestuurder, in ’n woedende rubriek in The New York Times geskryf: “Facebook moet strenger gereguleer of opgebreek word sodat geen enkele entiteit al sy data beheer nie. Die maatskappy gaan ons nie op hul eie beskerm nie, en ons demokrasie is hier op die spel.”

Die onrus het sy tol op Facebook se onverskrokke leier geëis. In wat lyk soos ’n projek om die probleme reg te stel wat sy geesteskind geskep het, het Mark onlangs op ’n veldtog vertrek wat byna aan ’n politieke veldtog herinner het. Hy het oor Amerika heen met verslaafdes op die herstelpad in rehabilitasiesentrums gepraat, in kerkbanke gesit en melkplase besoek waar hy kalwers met die bottel gevoer het. Hy het selfs ’n strateeg, Tavis McGinn, aangestel wat moes tred hou van klein veranderings in hoe die publiek hom beskou.

“Dit was my werk om peilings en fokusgroepe wêreldwyd te hê om te verstaan hoekom mense van Mark Zuckerberg hou en of hulle dink hulle kan hom vertrou,” sê Tavis. Mark het in Januarie op Facebook sy plan uiteengesit om die platform te transformeer.

Mark het ook by rehabilitasiesentrums 'n draai gemaak.

“Die wêreld voel angstig en verdeeld, en Facebook het baie werk om te doen,” het hy erken. Hy het aangekondig die maatskappy maak veranderings aan sy nuusvoer wat “betekenisvolle interaksies” sal prioritiseer. Die algoritmes sal sorg dat inskrywings en foto’s wat deur vriende en familie geskep en gedeel word of reaksie ontlok meer mense bereik as inskrywings deur maatskappye, handelsname en nuusdienste.

Die klem is weer op gemeenskap, nie inligting nie. Die aankondiging was ’n reuse-ommeswaai.

“Dit was soos om ’n motor in trurat te plaas wat vir 14 jaar teen volle spoed in een rigting gery het,” sê Wired. “Mark se ambisie was van die begin af om mense te oorreed om dit soveel moontlik te gebruik. Nou het hy gesê hy verwag die veranderings sal maak dat mense Facebook minder gebruik,” sê ’n uitvoerende beampte.

“Verlede jaar het sy persoonlike tegno-optimisme baie verander. Dit het hom paranoïes gemaak oor die maniere waarop mense die ding wat hy gebou het, kan misbruik.” 

Bronne: Wired, The Verge, Business Insider, Breitbart, Gizmodo, CNN, The Guardian; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Gallo Images/Reuters