Dit gons behoorlik oor die tweestryd tussen die
Dit gons behoorlik oor die tweestryd tussen die Formule 1-renjaers Max Verstappen (regs) en Lewis Hamilton (links). Foto: Gallo Images/Getty Images

Min supersterre van wêreldsport gryp die verbeelding so aan soos die komkommerkoel renjaers van Formule 1.  

Die tweegevegte tussen die voorste jaers van dié adrenalienbelaaide sport is verbete en hul aanhangers fanaties. Selfs in die middel van die pandemie het 2020 se Grand Prix-renne altesaam 443 miljoen televisiekykers gelok. 

En die kampioene word legendes: James Hunt en Niki Lauda in die 1970’s; Michael Schumacher en Kimi Räikkönen in die 2000’s . . . Jy hoef nie ’n petrolkop te wees om te weet wie hulle is nie. 

Die afgelope sewe jaar is die sport deur Engeland se Lewis Hamilton (36) oorheers en is hy selfs deur koningin Elizabeth tot ridder geslaan.

Hy het die bynaam “Billion Dollar Man” losgejaag: 98 oorwinnings op die pad na sewe wêreldtitels. Kort voor saktyd het hy wéér koning gekraai toe hy die Britse Grand Prix ná groot drama gewen het. 

Maar dit gons steeds dat dié veteraan van die Mercedes-span dalk vanjaar onttroon kan word.

Sy uitdager? Die Belgies gebore Max Verstappen (23), wat in Nederlandse kleure vir Red Bull Racing jaag. Max is in die Britse ren vroeg van die baan af nadat hy en Lewis teen mekaar gebots het; hy was woedend dat hy die aftog hierdie keer moes blaas. 

“Super Max” het immers vier van sy laaste vyf Grands Prix gewen, en hy het gehoop hy sal ook in Lewis se tuisland amok saai. 

Op die Red Bull-span se tuisbaan in Oostenryk het Max Grand Prix-geskiedenis gemaak as die jongste jaer ooit om ’n Grand Slam te behaal: eerste in die wegspringposisie, die vinnigste baanrondte, voltydse voorloper en eerste oor die wenstreep. 

Lewis vertel die mededinging met Max vernuwe net sy passie vir die sport: “Dit laat my dieper binne my grawe, en ek is mal daaroor. Ek wedywer teen myself; nie teen Verstappen nie.” 

En Max?

“Ek gee nie om wat Lewis sê nie. Ek is vinniger as hy,” het hy laat hoor. 

Ander jaers meen ook Max is een om dop te hou.

“Max het al die talent, dis net ’n kwessie van tyd,” voorspel sy voormalige spanmaat, Daniel Ricciardo. En Zak Brown, die grootbaas van McLaren, verkondig Lewis het vir die eerste keer sedert 2016 ware teenstand.

“Lewis het dit maklik gehad,” sê hy. 

Een ding is seker: Aanhangers kan hulle gereedmaak vir ’n tweegeveg vol drama en koel maar beheersde aggressie.

DIE OPGANG VAN ’N NUWE STER

Sy Nederlandse pa, Jos, het tussen 1994 en 2003 in Formule 1 meegeding. En sy Belgiese ma, Sophie Kumpen, was ’n rensteljaer. 

Max is sedert driejarige ouderdom saam na wedrenne.

“Van kleins af wou ek aan F1 deelneem, en tot dusver gaan dit goed. Dis wat ek my lewe lank doen en ek wil niks anders doen nie,” vertel hy. 

Hy het in Maaseik op België se grens met Nederland grootgeword, maar verkies om in Nederlandse kleure te jaag.

“Ek het eintlik net in België geslaap. Bedags was ek in Nederland, want my vriende was daar. Ek voel Nederlands.”

Ná Jos se uittrede uit motorsport het hy daarop gefokus om ’n mentor te wees vir sy seun – en Max het goed geleer. 

Max se pa het ’n groot rol in sy opkoms in die spo
Max se pa het ’n groot rol in sy opkoms in die sport gespeel. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2015, in die Australiese Grand Prix, het hy op die ouderdom van net 17 die jongste deelnemer ooit van ’n internasionale F1-wedren geword. In 2016 is hy in die Red Bull Racing-span aangestel. Hy het onmiddellik hul vertroue beloon deur in sy eerste wedren vir die span die Spaanse Grand Prix te wen. 

Sy rekords stapel op: jongste wenner van ’n Grand Prix, eerste Nederlandse jaer wat ’n Grand Prix wen . . . En in 2019 het hy die 100ste jaer geword wat die wegspringposisie inneem nadat hy die kwalifisering oorheers het.

JONK, SUKSESVOL . . . ÉN ’N BIETJIE ARROGANT

Met elke oorwinning het sy reputasie as ’n onaangename grompot en roekelose mededinger gegroei. By 2019 se Mexikaanse Grand Prix is Max gekritiseer omdat hy in kwalifisering geel waarskuwingsvlae geïgnoreer en in die resies teen Lewis vasgery het. 

Hy het ook sy eie band geskeur teen Valtteri Bottas se kar.

In die mediakonferensie agterna het hy dit afgemaak. “Moet ons oor veiligheid praat? Ek dink ons weet wat ons doen, anders sou ons nie ’n F1-motor bestuur het nie.” 

Sy uitlatings is sleg ontvang in die F1-bedryf, veral in die lig van die Franse renjaer Jules Bianchi se ongeluk in 2014. 

Baie word gesê oor die jong renjaer se houding op
Baie word gesê oor die jong renjaer se houding op en van die baan. Foto: Gallo Images/Getty Images

In Netflix se dokumentêre reeks Formula 1: Drive to Survive is hy as “voorbarig” beskryf. “Ek kan nie altyd vriendelik wees nie, dis nie hoe ek werk nie,” het hy in Julie aan The Guardian gesê. 

“ ’n Mens moet hard op mekaar kan wees, veral in moeilike tye of wanneer jy nie gelukkig is met iets nie. Dit gaan albei kante toe, jy moet kan kritiseer én kritiek vat.”

SY NAASTE MENSE EN HUL INVLOED OP HOM

Die voormalige renjaer David Coulthard is een van talle bronne wat vertel hoe hard Max se pa, Jos, hom gedryf het. Jos het glo sy tienerseun in die winter op ’n renstelbaan laat oefen met geen beskerming teen die ysige weer nie. 

Dit was glo so koud dat Max nie die stuur kon vashou nie. Wanneer Max oor die pyn en ontbering gekla het, is hy afgejak. 

In nog ’n voorval het ’n ontstoke Jos sy seun ná ’n wedren waarin hy derde gekom het, voor ander mense gestamp. 

Jos het ’n gewelddadige reputasie.

In 2008 is hy daarvan aangekla dat hy Max se ma, Sophie, fisiek aangerand het. Die egpaar, wat ook ’n dogter, Victoria (21), het, is in die laat 2000’s geskei. In 2011 is soort gelyke aanklagte teen hom gebring deur ’n eksmeisie. 

Dit lyk egter of Jos sy onstuimige verlede agter hom gesit het en ’n goeie verhouding met sy seun het. 

Oor sy liefdeslewe verklap Max min. In Januarie vanjaar het hy onthul dat hy in ’n verhouding is met die Brasiliaanse model Kelly Piquet (32). 

Kelly is die dogter van die F1-legende Nelson Piquet en was voorheen in ’n verhouding met Daniil Kvyat, die einste Russiese renjaer vir wie Max in 2016 by Red Bull vervang het. Kelly en Daniil, wat nou die reserwejaer vir die Alpine-span is, het ’n tweejarige dogter saam. 

Kelly deel nie Max se voorkeur vir privaatheid nie, want haar Instagram is propvol foto’s van haar kêrel. 

Kelly spog gereeld op sosiale media met haar kêre
Kelly spog gereeld op sosiale media met haar kêrel. Foto: Instagram (@kellypiquet)

Motorsportkenners sê Max doen baie om belangstelling in F1-wedrenne aan te blaas. Hy het 5,1 miljoen volgelinge op Instagram en die Nederlandse ondersteuners – die Orange Army – is gereeld langs die baan spesiaal vir hom.

Max se getroue aanhangersklub, die Orange Army, vo
Max se getroue aanhangersklub, die Orange Army, volg hom na wedrenne regoor die wêreld. Foto: Gallo Images/Getty Images

HOE GAAN DIT EINDIG? 

In die Britse Grand Prix op 18 Julie wou Lewis kort ná die wegspring vir Max verbysteek, maar die twee het gebots. Max se kar het die versperrings getref, maar hy kon wegstap. Hy is na ’n hospitaal geneem, en Lewis is met 10 sekondes gestraf. Tog het die Brit die tyd opgemaak en vir die agtste keer op Silverstone gewen.

Uit sy hospitaalbed het Max sy woede teenoor Lewis duidelik gemaak op sosiale media. 

“Bly ek is oukei. Teleurgesteld om so uit te gaan. Die straf wat uitgedeel is, help ons nie en spreek nie tot hoe gevaarlik dit is wat Lewis gedoen het nie,” het Max getwiet. 

Daar is nog 13 wedrenne oor voor die laaste een onder die liggies van Yas Marina in Aboe Dhabi op 12 Desember. Ná die Britse Grand Prix is Max net agt punte voor Lewis op die punteleer.

Maak vas jou sitplekgordel; dis voet in die hoek en geen genade nie.

BRONNE: THEGUARDIAN.COM, FORMULA1.COM, GRANDPRIX247.COM, THE-RACE.COM, REDBULL.COM, AUTOSPORT.COM, PEOPLEPILL.COM, SKYSPORTS.COM

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.