Toe Hannah Edwards haar werk as fotograaf verloor, het haar inkomste ’n groot knou gekry en haar huwelik was boonop nie maanskyn en rose nie.

"Toe alles so op ’n hoop gebeur, het ek by myself gedink, 'Wat nou?'"

"Dis toe ek besluit het om ’n lewe uit bak te probeer skep. Ek het gedink ek sal dit vir ses maande ’n kans gee en as dit nie uitwerk nie, probeer ek iets anders."

Sneak peek. #WIP 3 bulldogs and a pug. Dog cake overload. ????

A post shared by The Cake Illusionist (@thecakeillusionist) on

En nou, vyf jaar later, is Hannah ’n internetsensasie en haar lewensgetroue dierkoeke het omtrent die mense aan die gons.

Een voorbeeld is ’n olifantkoek wat sy uit fondant, modelleersjokolade en eetbare kleurskaduwees geskep het. Die oë, tande, slurp en vel lyk kompleet soos die ware Jakob.

Die eetbare deel van die dier is met kleurryke Indiese blomstringe bedek. Oorbelle en fyn brokaatserpe – wat alles eetbaar is – versier verder die dier.

Hannah (35) het die eerste keer koeke en kolwyntjies begin bak toe sy swanger was met haar seun Oscar. Sy het besef sy het ’n talent nadat vriende én vreemdelinge haar gekomplimenteer en aangemoedig het.

"Vir Oscar se eerste verjaardag het ek ’n leeukoek gebak. Dit was baie eenvoudig, maar toe ek dit op Facebook plaas, was die mense gaande daaroor," onthou die enkelma van twee. "My vriende het gesê, 'Bak jou koeke, die mense sal dit koop'."

Maar in daardie stadium was Hannah nog ’n voltydse beroepsfotograaf en het sy nie tyd gehad vir bak nie.

Toe sy die tweede keer swanger word, tref ’n ramp haar: Sy verloor haar werk en moes noodgedwonge ’n tuisblyma word vir Oscar (nou 6) en Felix (nou 3). Sonder die vaste inkomste waaraan sy gewoond was, het Hannah – wat in Hemel Hempstead, Engeland, woon – haar stokperdjie opgesaal om ’n inkomste te verdien. 

"Ek het twee klein kindertjies gehad om te versorg en het besluit om die geld van my skeidingspakket te gebruik en te begin bak." Hannah en haar eksman se paaie het reeds in dié stadium geskei.

"Wat destyds as ’n drie maande lange eksperiment begin het, werk nou al langer as drie jaar.”

Die bakster verdien tussen R2 555 en R42 598 per koek en werk maklik 80 uur aan een skepping. Sy begin haar mengsels aanmekaarslaan eers wanneer haar seuns in die bed is – so seweuur se kant – en werk dan byna dwarsdeur die nag.

"Sulke lang ure is maar moeilik," erken dié perfeksionis.

"Ek sou graag ’n maand lank aan elke koek wou werk om dit nog beter te maak, maar dan sou die koek natuurlik oneetbaar wees. Ek moet die koeke dus ná drie dae laat gaan en tevrede wees met hoe dit dan in daardie stadium lyk."

Hoewel haar besigheid, wat sy The Cake Illusionist noem, floreer en die geld laat inrol, is daar aktiviste wat haar daarvan beskudig dat sy dieremishandeling aanmoedig.

"Die probleem wat hulle het, en ek kan dit so vaagweg verstaan, is as jy barbaars genoeg is om iets te sny wat so hiperrealisties lyk, sal jy ook iets kan sny wat werklik is," sê sy.

Maar sy dink dis ’n bietjie te ver gevat en hanteer al die kritiek wat na haar kant toe kom so goed as wat sy kan. En dit keer haar nie om haar kliënte vreeslik gelukkig te maak en ’n glimlag op hul gesigte te sit nie.

"As jy as ’n kunstenaar so ’n reaksie kry, kan jy seker aanvaar jy’s op die regte spoor."

Sy sê mense se reaksie op haar voltooide skeppings is ongelooflik en dis genoeg aansporing om aan te hou, al werk sy sulke lang ure.

"Ek het al soveel uiteenlopende reaksies gesien van mense wanneer hulle hul troeteldier as ’n koek sien – van sprakeloosheid tot ’n tranedal. Of mense wat gil en van opgewondenheid rondspring en my met drukkies versmoor.”

En as daardie kunswerke gesny en geëet word?

"Ek gee glad nie om as mense dit sny nie. Dis waarvoor die koeke geskep is en as dit nie binne ’n paar weke opgeëet word nie, sal dit weggegooi moet word. En dít sal nou vir jou ’n vermorsing wees!"

Bronne: Storytender.com, Huffingtonpost.co.uk, DailyMail.co.uk, TheSun.co.uk