Die afgelope naweek het hy weer so ’n draai gevlieg. Die keer Villiers toe. “En toe het ek die Vaalrivier se loop gevolg tot die damwal en verder al met die rivier af, verby Drie Riviere tot by die Barage-keerwal op die grens van Gauteng en die Vrystaat,” vertel Johan van sy vlug.

En op die indrukwekkende foto’s wat hy tydens sy vlug geneem het, wys hy hoe vol die Vaaldam is.

“Hy is propvol tot oorlopens toe. Wat ’n ongelooflike gesig so net voor die droë maande hierbo begin. Skud solank julle vere reg, my Kaapse vriende. Julle tydjie is om die draai!” het hy op Facebook oor die foto’s geskryf.


Volgens die departement van water en sanitasie is die Vaaldam die week 106% vol.

Maar ’n bietjie meer as ’n jaar terug, in Oktober 2016, was dit ’n ander prentjie wat Johan teëgekom het tydens een van sy vlugte oor die Vaalrivier en -dam. Toe was die dam skaars 30% vol water, het Netwerk24 destyds berig.




Johan meen dit is wonderlik om van bo te kan sien hoe die Suid-Afrikaanse landskap verander.

“Die beste is om vanuit die lug te sien hoe die seisoene verander. Nou is kosmostyd. Dan volg die dorre vaalheid van die landskap in die winter. Net ná die eerste reëns verander die landskap oornag weer in ’n fees van groen,” sê Johan.

“Enige sig van die aarde van bo af is altyd ’n fees. Jy sien alles vanuit ’n voël se oogpunt. Dit is ’n groot vooorreg veral vanuit ’n girokopter, want hy kan laag en stadig vlieg.”