En nou praat ons nie van die skare op Loftus Versfeld nie, maar van klein George Mountbatten-Windsor, soos dié Britse prins onder sy klasmaats bekend sal staan.

Vandeesweek moes die klein toekomstige koning van Brittanje ’n reuse-tree gee.

Dit was die vierjarige se eerste skooldag en gelukkig was sy pa, prins William, by om die kleinding se hand vas te hou.

Op 7 September het prins George sy pa se hand vasgeklem toe hy in sy splinternuwe skooluniform by die eksklusiewe Thomas’s Battersea aankom, berig die Britse nuuswebtuiste The Daily Mail.

Dit kos ’n tamaai £20 000 (sowat R330 000) per jaar om jou kind daar op die lewe voor te berei.

Balletklasse is verpligtend, maar leerders kan kies of hulle wil huiswerk doen of nie.

Dit was ’n besonderse ervaring vir prins William, want 30 jaar gelede het sy oorlede ma, Diana, die prinses van Wallis, ook sy hand vasgehou toe hy skool toe gaan. William en sy broer, Harry, was leerders aan die seunskool Wetherby in Notting Hill, terwyl die Thomas-skool seuns sowel as dogters toelaat.

Sy ma, Catherine, die hertogin van Cambridge, kon weens oggendnaarheid nie deel in haar dapper seun se eerste skooldag nie.

“Ongelukkig is die hertogin van Cambridge steeds siek en sal sy prins George nie kan vergesel op sy eerste skooldag nie. Die hertog van Cambridge sal prins George aflaai,” het ’n woordvoerder van die Kensington-paleis gesê.

Kate verwag hu derde kind.

Prins George sou een van 22 kinders in sy klas wees en om te keer dat hy nie te oorweldig word nie, sou hy soos enige leerder by hierdie skool slegs ’n half dag op sy eerste dag by die skool spandeer het.