Hulle het hul sabbatsreis in Januarie in Rio de Janeiro, Brasilië, begin, waar hulle ook later die reusagtige karnaval bygewoon het. 

Lande wat die twee avonturiers al plat getoer het, is Colombia, Ecuador, Peru, Bolivië en Chili. Die twee is op die oomblik in Argentinië.

“Ons het deur die Chubut-provinsie gereis en weet eintlik lankal van die Afrikaanse gemeenskap daar en besluit om te gaan loer of ons iets bekends kan kry,” het Louise per e-pos aan Huisgenoot vertel.

“Op die internet lees ons ook van oom Martín Blackie se bakkery in die dorp Rada Tilly net buite die stad Comodoro Rivadavia, wat blykbaar steeds melktert en koeksisters maak. Ons gaan sonder aankondiging daarheen op soek na ’n Suid-Afrikaanse happie,” sê Louise. 

“Ons kry toe heelwat meer en oom Martín se dogter bel hom en hy kom loer self in, stop ons elk ’n Medialuna de Blackie (Blackie’s Croissant, geregistreerde handelsnaam) in die hand en neem ons op ’n toer van die splinternuwe gemeenskapsaal van die Asociación Colectividad Sudafricana del Chubut, losweg vertaal na die Gemeenskapsorganisasie van die Suid-Afrikaners van Chubut. Hier in die gemeenskapsaal is daar ’n klein museum en winkeltjie met Boere-onthougoed en ook boeke en CD’s. Wragtag, ook ’n CD van Sorina Erasmus, beter bekend as die Flooze,” vertel Louise.

Tersia het kort daarna op Facebook laat weet: “Ek het gister ’n museum besoek van Boere wat vroeg in die 1900’s na die Suide van Argentinië emigreer het. Daar in die stad Comodoro Rivadavia, ontmoet ek oom Blackie wat 78 jaar oud is en ’n mooier weergawe van Afrikaans praat as Afrikaners wat in Suid Afrika woon,” skryf sy.

“En so ewe trots tussen die items in sy museum staan ’n CD van jou uitgestal,” het sy vir Sorina op Facebook laat weet.

“Nou voel ek super-geëerd. Dit maak al die werk wat ’n mens in dié loopbaan insit die moeite werd. Is dit oom Blackie in die foto?” het Sorina geskryf.