Andrew Machi van Kalifornië, Amerika, het op 22 Maart saam met sy vrou, Brandie, en hul kinders – Trinity (14), Cyrus (12) en Ronan (4) – in Trinidad en Tobago visgevang toe ’n golf hom van die rotse afslaan, berig Fox News

Sy vrou het in die see gespring in ’n poging om hom te red, volgens ’n GoFundMe-blad wat Brandie se suster, Jamie Tracey, begin het.

“Brandie het ingespring en hom probeer red, maar hy was 4,5 m weg en die water het haar teen die rotse teruggegooi,” skryf Jamie.

“Sy het gehardloop om hulp te kry, maar Andrew het gesterf.”

’n Reddingshelikopter is na die tragiese toneel ontbied waar ’n swemmer sy liggaam aangetref het. Andrew is toe per lugambulans na die Mad River-hospitaal in Kalifornië geneem.

Die lykskouer sê hy glo Andrew se kop het teen die rotse gekap toe hy val, en hy het sy bewussyn verloor,” sê Jamie.

Jordan Akiyama, ’n kuswagbeampte, het gesê golwe kom gewoonlik “uit die bloute”, berig Daily Mail.

“Die golf het gekom en hom gegryp,” het Jordan gesê. “Dis baie kragtig. As jy strand toe gaan, moet nooit jou rug op die water draai nie.”

’n Privaat begrafnis word op Saterdag 6 April gehou.

“Dis ’n onderbeklemtoning om te sê hy was toegewyd aan sy gesin,” het in Andrew se doodsberig gestaan.

“Drew is, was en sal altyd die middelpunt van sy gesin wees. Sy lig en leierskap, omgee, onbaatsugtigheid en liefde sal voortgaan om die gesin se hoeksteen te wees.”

Bronne: Fox News, People, Daily Mail