“Pedré se ouers is plat teen die grond. Hulle is stukkend,” vertel Jaco Billing, die voorsitter van Laerskool AG Visser se beheerliggaam, waar Pedré de Beer (11) ’n leerder was. 

Pedré is by ouers, Rhödine en Paul, op Maandagaand 6 April in ’n fratsongeluk oorlede terwyl hy buite gespeel het. Hulle het ’n rustige dag tuis met die familie tydens inperking geniet.

“Pedré was ’n vreeslike geliefde kind. Hy was ’n rugbyspelertjie en baie aangenaam,” sê Jaco.

Volgens kaptein Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, is ’n nadoodse ondersoek van stapel gestuur. 

“Die seun het glo op ’n springkasteel gespeel toe hy ongelukkig afgeval het en op die elektroniese kabel geval het wat ’n kraak ingehad het,” vertel Thivhulawi. Klein Pedré is op die toneel oorlede.

Elzona Meyer van die Heidelberg Volunteer Medics vertel dat sy omstreeks kwart voor nege die aand ’n noodoproep van Pedré se ouma, Debbie de Beer, ontvang het. “Ek kon oor die foon hoor hoe sy heeltyd Pedré se naam skree,” vertel Elzona.

Sy het onmiddellik vir Netcare ontbied en vir Debbie oor die foon verduidelik hoe om kardiopulmonêre resussitasie op Pedré toe te pas.

Sowat 10 minute later was Elzona die eerste mediese helper op die toneel. “Toe ek by hom kom was sy pupille reeds vergroot en hy het geen pols of hartklop gehad nie,” verduidelik Elzona. “Pedré se ma het onbeheersd gehuil,” voeg sy by. Elzona en die drie paramedici van Netcare het sowat ’n uur gesukkel om Pedré aan die lewe te kry voordat hy op die toneel dood verklaar is.

Elzona praat nog gereeld met ouma Debbie. “Ek dink Pedré se ouers het nou daai lam gevoel waar jy nie meer weet wat om te doen nie; jy huil nie meer nie, jy lag nie meer nie,” sê sy.

“Dit is moeilik om in hierdie tyd van die inperking by die gesin te wees, maar ons is gereeld met hulle in telefoniese kontak,” vertel Jaco hartseer.

“Die skoolhoof (Selma Marx) het van haar kant af beraders gereël. Wanner die skool begin sal ons vir die kinders met berading help wat dit nodig het,” voeg hy by. Pedré se sussie (5) is ’n graad R-leerder by Laerskool AG Visser.

Die skoolbestuur het ook reeds begin reëlings tref om ná die staat van inperking ’n gedenkdiens by die skool te hou.

“Namens die skool het ons ook deur die week gehelp om vir die ouers kos te vat. Ons het net van ons kant af probeer om dinge vir hulle makliker te maak, sodat hulle nie nog daaroor ook hoef te bekommer nie,” verduidelik Jaco.

“Ons is ’n klein gemeenskap in Heidelberg. Ons skool is baie geheg en lief vir mekaar,” voeg hy by.