Ruan Nagel is op 2 Mei in 'n fratsongeluk oorlede.
Ruan Nagel is op 2 Mei in 'n fratsongeluk oorlede. Foto: Verskaf.

“Ek gaan vir jou eerlikwaar sê, dit is moeilik. ’n Mens het nie antwoorde nie,” begin Sakkie (51) toe Huisgenoot met hom gesels.

“Ons vat dit maar dag vir dag met die genade van ons Hemelse Vader. Dit is die beste wat ons kan doen in hierdie stadium,” sê hy.

Sakkie, sy vrou, Marlene (48), en hul oudste seun, Wouter (27), is steeds onseker hoe die ongeluk plaasgevind het op daardie Sondagoggend vroeg in Mei.

Ruan was in sy motor op pad na die Kruin-gemeente waar hy voltyds multimedia-, klank- en video-werk gedoen het toe hy in Vleistraat verongeluk. Geen ander motors was by die ongeluk betrokke nie.

“Ons weet net dit was ’n fratsongeluk. Ons weet nie presies wat gebeur het nie, want ons het nog geensins die ongeluksverslag gesien nie,” vertel Sakkie.

Sakkie en Marlene was reeds by die AGS Pharos-gemeente toe hulle onraad begin vermoed het. Ruan was al tien voor sewe die oggend by die huis weg, en vorige Sondae sou hy sowat 20 minute later ’n boodskap stuur om te sê hy is veilig by sy bestemming.

“Ons gebruik ons iPhones om mekaar te track en ons probeer sover moontlik in kontak bly. Op die foon kon ons sien sy kar staan stil in Vleistraat,” verduidelik Sakkie.

“Twintig oor sewe het ons begin om hom te bel, maar ons kon hom nie in die hande kry nie. Ná sewe oproepe het ’n paramedikus die foon opgetel en vir ons gesê Ruan was in ’n ernstige ongeluk,” sê hy.

Ruan tydens sy verjaardagvieringe.
Ruan tydens sy verjaardagvieringe. Foto: Verskaf.

Toe Sakkie en sy vrou by die ongelukstoneel aankom, het die paramedici verbied dat die egpaar hul kind sien terwyl hulle besig was om vir Ruan in die ambulans te stabiliseer. Hulle het die ambulans tot by Tambo Memorial-hospitaal in Boksburg gevolg, maar kon steeds nie hul kind sien nie.

“Twee uur nadat ons by die hospitaal aangekom het, het hulle vir ons laat weet hulle het alles in hul vermoë gedoen, maar hulle kon hom ongelukkig nie help nie,” vertel Sakkie.

Die tradisionele roudiens of begrafnis is laat vaar om eerder op Dinsdag 11 Mei vir hul geliefde seun ’n lewensvieringsdiens te hou.

“Ons het gevier wie hy was en sy Christenskap wat hy uitgeleef het. Die diens was twee en ’n half uur gewees, en ons het dit net aan Ruan toegewy en huldeblyke gedoen,” vertel Sakkie.

Ruan het in 2018 aan die Hoërskool Jeugland gematrikuleer en het werklik ’n impak op mense se lewens gehad.

“Alles wat hy aangepak het, het hy met ’n passie aangepak. Hy was lewenslustig en het geglo dit wat hy takel, sal hy maak werk en hy sal dit deurvoer,” vertel Sakkie. Dit is veral sy liefde vir musiek wat hy self vervaardig het wat sy gesin sal bybly.

“Dit is nog diep en dit is nog seer en daar is nog baie vrae wat gevra wil word en jy weet nie of jy al die antwoorde gaan kry nie,” vertel Sakkie.

“Die werklikheid begin nou eers inskop; Ruan is nie meer met ons nie. Maar vir ons as ouers kan ons maar net dankie sê aan ons Hemelse Vader en weet dat ons ons werk as ouers gedoen het,” sê hy.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe