“Dit is uit die aard van die saak baie sleg vir die universiteit en vir die bestuur van die fakulteit om ’n kollega te verloor, maar omdat dit ’n fratsongeluk is, is dit nog erger,” het Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, aan Huisgenoot gesê.

Volgens Louis kon toegangsbeheer van die universiteit bevestig Rudi het Saterdagoggend ongeveer halftwee by die kampus ingekom. Hy het in ’n sloot geval wat vir herstelwerk op kampus gegrawe is en is deur 'n sekuriteitswag kort ná sesuur gevind. Hy was toe reeds dood.

“Die studente begin binnekort met eksamen, maar ons kan nie bespiegel wat hy Saterdagoggend so vroeg by die universiteit gemaak of wat gebeur het nie. Dit sal die geregtelike doodsondersoek deur die polisie moet bepaal,” sê Louis.

“Die omstandighede is baie moeilik om te aanvaar. Rudi was ’n besonderse mens. Hy was baie slim en ’n uitstekende wiskundedosent,” vertel prof. Lloyd Conley, dekaan van die fakulteit opvoedkunde, waar Rudi doseer het.

Rudi van de Venter
Rudi. Foto: NWU webblad.

“Vir die meeste mense was dit ’n groot skok,” het een van Rudi se kollegas aan Huisgenoot vertel.

“In hierdie stadium verwerk almal die nuus op hul eie manier, maar daar is darem baie steun van die fakulteit se kant af.”

Louis het bevestig dat hulle Maandagoggend reeds beradingsdienste vir personeel van die fakulteit opvoedkunde, die studente en familielede van Rudi beskikbaar gestel het.

“Die studente begin einde volgende week met hul eksamen; dus is daar onmiddellik aandag gegee om seker te maak dat studente nie verontrief word nie,” verduidelik Louis.

Lloyd het sy kollegas Sondag genooi om Maandagoggend saam met hom in sy kantoor ’n oomblik van stilte vir Rudi te handhaaf.

“Ek het hulle ingelig oor waar die situasie hom nou bevind en ons het ’n minuut van totale stilte gehad. Daarna het ons met ons dag aangegaan.

“Dit was ons manier om te begin met die proses van verhaling en te begin aanvaar wat gebeur het,” voeg Lloyd by.

Van Rudi se kollegas het blomme voor sy kantoordeur gesit. “Hy was ’n briljante dosent en ’n wonderlike mens,” het ’n kollega vertel.

“Hy het baie mense se lewens aangeroer. Ek is ontsettend trots om te kan sê hy was deel van ons fakulteit,” beaam Lloyd.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.