Toe haar ma, Kimberley Shultz, ’n bietjie later as haar dogter opgestaan het, het sy Brianne in ’n bad tot oorlopens toe vol met water aangetref. Brianne se lang hare het waarskynlik die water-uitlaat blokkeer en veroorsaak dat die badwater nie gedreineer het nie. Dit wil voorkom sy het in die stort gegly of flou geval en sodoende in die bad beland.

Die tiener van Butler, in die Amerikaanse deelstaat Pennsylvanië, wat gek was oor haar familie, sang en skilder en deur vriende beskryf word as “iemand wat altyd daar was vir haar vriende en haarself nooit eerste gestel het nie”, het verdrink.

Michael Rapp, Brianne se pa en Kimberley se eks, het aanvanklik gedink Brianne het weggeloop toe Kimberley hom Vrydagoggend buite haarself gebel het met die woorde: “Bri is weg!”

Hy het aan CBS Local gesê Brianne het medikasie gebruik vir skildklierprobleme en dat sy by verskeie geleenthede flou geval het. Maar of dit tot haar dood gelei het, of die moontlikheid dat sy dalk in die badkamer gegly en haar kop gestamp het, is die pynlike vrae waarmee Bri se verpletterde ouers nou mee worstel.

Brianne was ’n leerling aan die Butler Area-hoërskool en baie gewild onder haar maats. Sy word deur haar ouers, haar broer, Tyler Sean Rapp (12) en suster, Maddalyn ‘Maddy’ Jean Leatsch (4), oorleef.

Bronne: pittsburgh.cbslocal.com, dailymail.co.uk, nypost.com, legacy.com