Irena Milosevic het in haar ouers se huis in Serwië gestort toe die tragiese voorval gebeur.

Die 30-jarige was volgens berigte saam met haar ma en pa, Vesela en Nebosja, en haar ouma by die huis toe sy badkamer toe gaan om te stort. 

Haar ouers het bekommerd begin raak nadat sy ’n uur lank in die badkamer was. Hulle het aan die deur begin klop, maar geen antwoord gekry nie. 

Toe haar ouers eindelik die deur oopkry, het hulle Irena dood in die badkamer aangetref. 

’n Polisieondersoek het getoon sy het gegly weens die stoom en gladde teëls in die badkamer. Die trefkrag van die val het haar nek laat breek, en sy is aangetref waar sy op die badkamervloer lê. 

Haar ouers het die nooddienste gebel, maar die paramedici kon net hul dogter se dood bevestig. 

Irena is in ’n plaaslike begraafplaas te ruste gelê en al die inwoners van die dorp het die begrafnis bygewoon. “Sy was positief en altyd bereid om ander te help,” het een van haar vriende aan die plaaslike media gesê.

“Ons het met haar gespot dit was tyd dat sy trou, want haar broer is verlede jaar getroud. Dit maak ons siel seer dat so ’n pragtige en goedhartige meisie so tragies dood is.”