Mariah Carey (47), ’n diva van formaat, is bekend vir haar duur smaak. Sommige mag dit selfs as uitspattig afmaak.

Sy’s boonop glad nie terughoudend om haar waardevolle juweliersware en bykomstighede in die openbaar te dra nie.


Wie kan ooit die 35-karaat verloofring van $7,6 miljoen vergeet wat James Packer haar gegee het?

Daardie verloofring . . . Jason LaVeris / Getty Images

Dan is daar die hangertjie met ’n geel diamant van 18 karaat wat bykans $500 000 (ongeveer R6,8 miljoen) werd is, ook ’n geskenk van James toe hulle nog op goeie voet was.

Sy het ook ’n voorkeur vir diamant-armbande wat sy by die stringe om haar polse drapeer.

In ’n onderhoud met Vogue het sy ewe nonchalant gesê sy is nie so “informeel” soos die meeste mense nie. Sy slaan die spyker - of is dit nou spykerhakskoen? - op die kop. 

Mariah het rakke tot oorlopens toe belaai met skitterende skoene, verstommende uitrustings wat teen haar kasmure ten toon gestel word, ’n benydenswaardige versameling sonbrille en daardie skelpienk Hermes Birkin-sak wat die bokskampioen Floyd Mayweather aan haar gegee het.

Dit kos glo naastenby R725 000. Kleingeld vir die kordaat kampioen.

Congratulations champ!!!!!! ?????? #Mayweather @floydmayweather

A post shared by Mariah Carey (@mariahcarey) on


Dan is daar Marilyn Monroe se wit klavier in haar leefvertrek . . . 


Haar geredelikheid om hierdie waardevolle items te deel, is genoeg om enige voornemende dief se oë tegelykertyd te laat traan en te laat skitter. Diamante by die dosyne is onweerstaanbaar vir sommige.

Maar dit was nie die geval vir hierdie inbrekers nie.

Hulle het glo nie ’n enkele stukkie van Mariah se juweliersware  gesteel nie. Daar word gegis dat daar inderwaarheid net sowat 10 items uit haar huis verdwyn het - wat sonbrille en handsakke van $50 000 (R682 000) in waarde beloop. Die kans is goed dat Floyd se pienk sak nie onder die goedere getel het nie.

Hulle het, buiten haar juweliersware, ook iets agtergelaat: ’n leer waarmee daar vermoedelik toegant tot haar Los Angeles-huis gekry het.

Mariah was in New York ten tyde van die inbraak.

Bronne: etonline.com, dailymail.co.uk, news.com.au