Intussen hou die wêreld asem op, want hoewel ’n paar gevalle in Nigerië, Egipte, Senegal, Algerië en Marokko aangemeld is, het grootskaalse verspreiding Afrika nog nie getref nie.

Huisgenoot het by twee kenners gaan aanklop oor moontlike redes hiervoor en of en wanneer die coronavirus die suidpunt van Afrika gaan tref.

Hoekom het die coronavirus Afrika nog nie getref nie?

“Ons weet nie regtig nie,” sê dr. Jantjie Taljaard, hoof van aansteeklike siektes by die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

“Enige poging om dit te probeer verduidelik sal bloot bespiegeling wees.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Mense wat die Afrika-beraad in Addis Ababa, Ethiopië bygewoon het, moes met hitte-kameras nagegaan word om seker te maak hulle het nie die coronavirus onderlede nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

“In die huidige atmosfeer van onnodige en ongegronde gissings oor baie dinge aangaande COVID-19, wil ek nie graag bydra tot die ‘infodemic’ nie,” voeg hy by.

Daar was nou al ’n paar gevalle in Afrikalande, maar daar is nog geen aanduiding dat dit deur Afrika versprei nie, verduidelik prof. Wolfgang Preiser, hoof van geneeskundige virologie aan die US se fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe.

“Dit kan maar net ’n gelukskoot wees of omdat daar nie so baie tussen Afrikalande, China, die VSA en Europa gereis word nie. Of dit kan wees dat daar wel gevalle is, maar dat hulle nog nie as COVID-19 gediagnoseer is nie.

Kan dit wees dat die virus nie in die Afrikaklimaat floreer nie?

“Dit is onbekend, maar onwaarskynlik,” sê Jantjie en voeg by dat verskillende virusse – soos verkoue en griep – wel meer aktief is in die wintermaande.

“Temperatuurverskille alleen verklaar die verskynsel egter nie ten volle nie, want hierdie virusse kom deur die jaar voor in meer tropiese omgewings en kom ook in die somermaande in Suid-Afrika voor, hoewel dit minder algemeen is,” sê hy.

Wolfgang beaam dat dit onwaarskynlik is en voeg by dat klimaatsomstandighede in Afrika baie verskil. Al het die virus in koue Wuhan en Beijing, in China, vatplek gekry, het dit ook in die warm en klam klimaat van Singapoer versprei.

Hy voeg by dat Suid-Afrika se griepseisoen in Mei begin en omtrent tot die einde van September duur. Hy meen die coronavirus kan moontlik in ons volgende winter maklik versprei.

“Dit is eintlik nog te vroeg om te sê, want dié virus is nog slegs vir sowat drie maande in die omtrek,” verduidelik Wolfgang verder.

Is die SA winter koud genoeg vir so ’n virus om mense hier aan te steek?

“Dit gaan nie oor temperatuur nie. ’n Mens word aangesteek deur nabye kontak te hê met ’n persoon wat siek is – presies soos griep,” verduidelik Jantjie.

“Beslis en ongelukkig,” sê Wolfgang en voeg by dat die meeste asemhalingsiektes van elders in die wêreld – ook in die koudste van streke – in Afrika voorkom.

Wolfgang se raad aan Suid-Afrikaners is om hierdie jaar beslis ’n griepinspuiting te kry, aangesien die gesondheidsorgstelsel onder ekstra druk kan wees as COVID-19 hier versprei.

Die twee siektes se simptome is ook eenders, en die inspuiting kan jou dokter help om COVID-19 by jou te diagnoseer sou jy dié soortgelyke simptome toon.

Hy beklemtoon dat meer as 11 000 Suid-Afrikaners jaarliks aan griep sterf en dat inentings hierdie sterftesyfer kan help bekamp.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.