Ten spyte van derduisende rande en selfs ’n pleitboodskap deur die pous om Madeleine McCann aan haar ouers terug te besorg, is daar vandag, 11 jaar, 20 maande en enkele dae later, nog geen spoor van haar nie.

Maar daar is opnuut ’n beroering rondom die soektog na die oudste dogter van Gerry en Kate McCann. Gaan DNS-toetse dalk die raaisel oplos van wat werklik daardie aand in Praia da Luz gebeur het?

Nou het ’n kenner, dr. Mark Perlin, wat gehelp het met die identifisering van die slagoffers wat in die terreuraanval op 11 September 2001 in New York gesterf het, na vore gekom en gesê hy kan die forensiese vrae rondom Maddie se verdwyning beantwoord.

Volgens hom is die metode wat in 2007 deur die Britse forensiese eenheid ingespan is, verouderd. Hyself is 'n baanbreker op die gebied van DNS-toetse en sy TrueAllele-stelsel word reeds meer as vyf jaar in verskeie Amerikaanse deelstate en in Europa ingespan.

Dié ontwikkeling spruit voort uit Nine.com.au se podsending-ondersoek, Maddie, na die raaiselagtige manier waarop Maddie verdwyn het.

Ook die stroomdiens Netflix het nou 'n dokumentêre reeks oor die opspraakwekkende verdwyning vervaardig: The Disappearance of Madeleine McCann.

Kate en Gerry het glo herhaaldelik geweier om in die reeks te verskyn. En hulle het mense na aan hulle versoek om nie onderhoude toe te staan nie. Volgens hul gewese woordvoerder, Clarence Mitchell, sien Kate en Gerry nie hoe die reeks op 'n praktiese vlak van hulp kan wees in die soektog na Maddie nie.

Hulle het ook geweier om die reeks voor sy uitsending te kyk.

DNS-uitslae nie ’n nuwe teorie

Reeds in 2008 het The Telegraph berig oor bewerings dat die DNS-monsters wat in haar ouers se vakansiewoonstel en die motor gevind is wat hulle tydens hul vakansie gehuur het, "100%" met dié van Maddie ooreenstem.

Die Britse forensiese dienste het die DNS-monsters in 2007 as "onbeslis" afgemaak.

Drie weke ná Maddie se verdwyning het twee snuffelhonde, Eddie en Keela, op 13 plekke die reuk van dood en bloed in die gesin se gehuurde voertuig, onder meer die voertuig se bagasiebak, en vakansiewoonstel opgetel.

Die DNS-resultate is glo afkomstig van bloed wat gevind is en die polisie het beweer haar ouers het haar "per ongeluk" vermoor.

Kate en Gerry was siedend van woede oor die bewering.

Hofsake

'n Boek getiteld Madeleine McCann: The Truth of the Lie, wat deur die Portugese speurder Goncalo Amaral geskryf is, waarvolgens hulle in die verdwyning van Maddie geïmpliseer word, het tot verskeie hofsake, boetes en selfs 'n verbod op die boek in Brittanje gelei.

Kate het in 2011 haar eie boek, Madeleine: Our Daughter's Disappearance and the Continuing Search for Her, gepubliseer. Sy het destyds gesê dit was uiters moeilik om die besluit te neem oor die boek.

"My rede om dit te skryf, is eenvoudig: Om weer te gee wat die waarheid is," het sy in Mei 2011 gesê.

"Niks is belangriker vir ons as om ons kind te vind nie."

Sy het ook die polisie se gebrek aan proaktiewe optrede in die soektog na Maddie teleurstellend gevind.

"Ons dogter, en wie haar ook al gevat het, is daar buite. Ons het jul hulp nodig om hulle te vind."

Bronne: jewishchronicle.timesofisrael.com, 9news.com.au, nzherald.co.nz, telegraph.co.uk, goncaloamaraltruthofthelie.blogspot.com