Hy hou aan hoop hy sal enige oomblik deur die vrolike stemme van sy kinders uit sy nagmerrie wakker word.

“Dit voel of hulle nog hier langs my moet staan, jy weet? Hulle was dan nou-nou nog hier by my,” sê André de Vries en sy stem breek. Met rukkende skouers en sy gesig in sy hande knipmes sy lyf vooroor teen die smart.

Dis asof hy homself in stilte afvra: Hoe verwerk ’n mens die dood van jou twee jong kinders? Die dood van álbei.

Dan kyk hy op en prewel hoorbaar: “Oomblik vir oomblik. Dag vir dag.” Langs André vee sy vrou, Odeté, die trane van haar wange af asof sy stilweg sy woorde beaam.

Dis nou al twee weke sedert albei hul kinders, die sewejarige Dameon en vyfjarige Kayllé, op ’n luilekker Sondag­middag in ’n plaasdam verdrink het. Maar vir die gebroke egpaar van Gansbaai bly dit bitter onwerklik.

Die 33-jarige André staar uitdrukkingloos na die pophuis op die werf wat hy besig was om vir sy dogtertjie te bou.

“Hulle is weg,” sê hy kopskuddend en begin wegstap, huis toe om nog ’n sigaret te gaan haal. “Net so. Gone.”

Odeté (36) vertel sy en haar man het dié middag ’n middagslapie gevat toe die kinders besluit het om te gaan swem.

“Hulle het geweet hulle mag nie uit die huis uit as een van ons nie wakker is nie. Dis ’n reël in ons huis,” sê sy.

“Ek verstaan nie waarom hulle dit gedoen het nie. Hulle is regtig gehoorsaam.” Sy swyg toe sy besef wat sy sê en ook haar bolyf buig vorentoe onder die gewig van haar pyn, haar gesig in haar hande.

Dan korrigeer sy haarself: “Hulle wás regtig gehoorsame kinders.”

Die grondpad na die plaas Vlooikraal, in die distrik Baard­skeerdersbos buite Gansbaai, verklap dat dit  onlangs swaar gereën het.

Die lug is vandag blou, maar ’n swaarmoedigheid hang oor die tweeslaapkamerplaashuisie. Op die werf lê ’n swart skopfietsie vergete in die stof.

Jy verwag amper om die rooikop Dameon by die huis te sien uithardloop om te kom groet. Kayllé met haar donker krulle sou kort op sy hakke gewees het. Sy was haar ouboet se skaduwee.

Maar dis André wat oor die lewelose werf aangestap kom om die plaashek oop te stoot. Odeté kom by die voordeur uit met haar arms styf om haar, ’n wapperende pienk lint in haar hare. Hulle kan doen met vars lug, sê André dan, en dra vier plastiekstoele na buite.

“Dít is die dam,” beduie hy. Dis klein, merk jy dadelik op, en skaars 20 m van die voordeur af. “Die dam is omtrent nooit vol nie. Dis net met die onlangse reën dat die water nou so hier tot by my heup is. Dit was die kinders se speelplek.”

Odeté huil.

“Hoe is dit reg dat ’n sewejarige en vyfjarige net verdrink in ’n dam wat omtrent nooit bestaan nie?” vra sy.

Die gesin het vyf jaar gelede van Johannesburg na Gansbaai verhuis. Alles verkoop en toe met net vier sakke op die Shosholoza Meyl hierheen gekom. Sodat hul twee kinders naby André se pa op Gansbaai kon wees.

En ’n jaar gelede het hulle van Gansbaai, waar die egpaar ’n elektriese en instandhoudingsonderneming bedryf, hier na die gehuurde erf op Vlooikraal getrek.

“Die kinders het die plaaslewe ge-love,” vertel Odeté, self ’n plaaskind. “Hier kon hulle vrylik in die veld rondhardloop, boomklim en vrugte pluk en op hul fietse vlei toe ry sonder enige worries. Hulle was ons geluk. Ons alles.”

Dameon en Kayllé. Foto verskaf
Dameon en Kayllé. Foto verskaf

Sy wys na ’n hoenderhaan met rooi, wit en groen vere wat in die stof skrop. “Dis Romeo; hy was Dameon se haan.”

Daardie laaste Sondagoggend was Dameon sommer baie opgewonde. Hy en sy pa het lank voor sonop opgestaan.

“Weke lank wou Dameon saam met my duikertjies gaan jag. Ag, dis nie regtig jag nie. Hy was net opgewonde om hul blink ogies in die flitslig te sien en hul voetspoortjies te soek,” vertel André.

Odeté het ’n fles koffie vir die twee gemaak, vir Dameon gehelp om sy baadjie aan te trek en toe weer gaan slaap.

“Ons het tot onder die rivier geloop. Ons het gesels oor die hase wat ons langs die pad sien en bokkies gesoek.”

Met sonsopkoms het hulle die koffie gedrink en huiswaarts gekeer, waar André in sy werkwinkel doenig geraak het. Die kinders het buite gespeel.

Dameon en Kayllé was onafskeidbaar. Foto verskaf
Dameon en Kayllé was onafskeidbaar. Foto verskaf


“My lae rug word toe verskriklik seer en ek sê vir Dameon ek gaan ’n rukkie op die bed lê, en as ek aan die slaap raak, moet hy my wakker maak.” Dan skud André weer sy kop. “Ek het soveel vrae. Ek verstaan nie waarom hy my nie wakker gemaak het nie.”

Dis was omstreeks kwart oor vier die middag toe Odeté wakker word.

“Ek het besef hoe stil dit buite is en gedink André het die kinders dorp toe gevat. Maar toe sien ek André lê op die bed en slaap,” vertel sy en veg teen die trane.

Odeté het André wakker gemaak en hulle het verwoed na die kinders begin soek. André het ’n fluitjie geblaas. Volgens hul reël moes die kinders huis toe hardloop wanneer hulle die fluitjie hoor. Daar was geen reaksie nie.

Dameon en Kayllé was onafskeidbaar. Foto verskaf
Dameon en Kayllé was onafskeidbaar. Foto verskaf

Toe loop Odeté na die dam met die opgeboude grondwal en word yskoud. Die kano was met ’n tou aan ’n boom vas, maar weg van die oewer op die water.

Eenkant het die roeispane los op die water gedryf.

Op die gras het sy swemhanddoeke, ’n piekniekmandjie vol appels en koekies en ’n vergete lemoenskil gesien.

“Ek het dit heeltemal verloor. Die kinders het geweet hulle mag nie by die dam wees as Mamma en Pappa nie by is nie,” sê sy en vee die trane af. “Daar was ’n kussing in die kano; iets was nie reg nie.”

Van die kinders was daar geen teken nie. Hulle het mense gebel om te help soek. Toe is dit al donker en hulle het ’n soeklig op die water geskyn. André het aan die een kant ingeduik en Japie Swart, die plaaseienaar, aan die ander kant.

“Die water was verskriklik koud. Ek kon niks sien nie en het gevoel-voel in die water vir my kinders se lyke. Ek sal dit nooit vergeet nie,” vertel André.

“Ek het uit die water gekom toe ek ­Japie hoor skree. Toe ek na hom kyk, sien ek hoe hy die kinders uit die water lig. Hy het met hulle in sy arms na die oewer geloop en hulle op die gras neergelê.”

Sy kinders was yskoud en potblou.

“Hulle het nog vir my gekyk,” sê André skor. “Ek kon nog die angs in hul oë sien. En Dameon was nooit bang nie. Ek wil hom nie so onthou nie.”

Dameon se fiets. Al wat in die huis op Gansbaai oo
Dameon se fiets. Al wat in die huis op Gansbaai oorbly, is herinnerings van hul eens gelukkige kinders. Foto: Jacques Stander

Niemand weet hoe dit gebeur het nie. Hulle vermoed Kayllé het uit die kano geval en Da­meon het haar probeer uithaal. Hulle kon albei swem.

“Ek is kwaad vir Dameon. Hoekom het hy my nie wakker gemaak nie? Hy het geweet hulle mag nie gaan swem nie. En kwaad vir myself; hoekom het ek aan die slaap geraak?” sê André.

’n Gedenkdiens is drie dae tevore by die dam gehou. ’n Groot houtkruis staan naby die plek waar hul lykies gekry is.

Odeté met Kayllé se teddiebeer. Foto: Jacques Stan
Odeté met Kayllé se teddiebeer. Foto: Jacques Stander


“Kayllé was ’n regte babbelbek,” onthou Odeté. “Ek sou soms vir haar sê: ‘Sjuut gou, Mamma het net vyf minute nodig.’ Ek wens nou ek het dit nooit gesê nie.

“Ek wens ek het nooit gekla oor tandeborsels op die verkeerde plek nie. Niks daarvan maak nou saak nie.”

Sy snik terwyl André weer na die halfgeboude pophuis staar. Die huisie waar sy dogtertjie nooit sal speel nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe