Mari (28) en Johan Botha (37) van Kempton Park het byna drie jaar lank gesukkel om swanger te raak.

Toe Mari eindelik swanger raak, was die egpaar in die wolke. 

“Ek ly aan lupus, ’n outo-immuunsiekte. Toe ek 16 weke swanger was, het hulle gesien daar is bloedklonte in die naelstring. Ruaché het nie genoeg voedingstowwe gekry nie,” vertel Mari aan Huisgenoot.com. 

Toe Mari 26 weke swanger is, op 15 Mei, moes dokters noodgedwonge Ruaché uit haar ma se maag haal. Dié mikro-premature baba het net 440 g geweeg en was net 26 cm lank.

Sedertdien is dié piepklein mensie in die Life Wilgers-hospitaal in Pretoria. 

Foto: Verskaf
Haar ouers sê dis erg om al die pype aan haar te sien. Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Met geboorte was Ruaché 'n skraps langer as 'n pen. Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Maar sy is 'n klein vegter. Foto: Verskaf
Foto: Verskaf
Kyk net daardie klein handjie. Foto: Verskaf

“Sy was so groot soos ’n baba van 19 weke omdat sy nie mooi gegroei het nie,” verduidelik Mari. 

Die dokters het die ouers gereed gemaak vir die ergste. Die kans dat sy sou oorleef was bitter skraal, maar sy veg voort. 

“Ek het myself reggemaak dat sy baie klein gaan wees. Ek was ’n paramedikus en het gereeld premature babas in broeikaste vervoer, maar sy was so klein. Letterlik so lank soos ’n pen,” vertel Johan. 

Hoewel hy gereed was dat Ruaché in lewensgevaar sou wees, het hy verwag sy vrou sou oukei wees. 

Mari het egter ’n bloedklont deur haar long gekry en daarna is nog bloedklonte deur haar niere. Vir meer as 50 dae was sy in die hospitaal en in die waakeenheid waar sy om haar lewe moes veg. 

“Die eerste maand het ek nie vir Ruaché gesien nie, want ek mag nie naby haar gekom het nie omdat die kans vir infeksie so groot is,” verduidelik Mari. 

Sy is ’n week gelede eindelik huis toe, maar ontvang steeds dialise. 

“My nierfunksie lyk nog sleg, maar dokters glo dit sal verbeter.” 

Foto: Verskaf
Mari kan aan haar dogter raak, al kon sy haar nog nie vashou nie. Foto: Verskaf

Johan se stem breek toe hy praat oor die dinge wat hy vir sy oudste sê wanneer hy haar besoek.

“Ek praat met haar en sê vir haar hoe trots ons op haar is."

Mari vertel verder toe Johan se stem wegraak. Sy sê sy sing weer vir hul kleinding.

“Ek sing ‘Jesus loves you, this I know’ en ander kinderliedjies. Soms vat sy 'n mens se vinger so vas,” vertel sy. 

Die egpaar kon Ruaché nog nie vashou nie.

Foto: Verskaf
Johan en Mari Botha sien daarna uit om hul baba vas te hou. Foto: Verskaf

Ruaché moes ook ’n operasie ondergaan nadat haar derms ’n gaatjie in gekry het. ’n Sakkie is aan haar derms vasgemaak wat as haar derm dien en sal eers later, wanneer sy sterker is, verwyder word. 

“Dit is waarna ons volgende uitsien. Om haar eindelik vas te hou. Ons mag nou net ons hand op haar neerlê,” vertel Mari. 

Kyk 'n mens na foto’s van Ruaché twee maande gelede kan jy tog sien sy het gegroei en daar is al 'n bietjie vet aan haar lyfie.

Mari en Johan vertel Ruaché het ’n groot mylpaal behaal. Sy weeg nou 1 kg en is 34 cm lank. 

Foto: Verskaf
Steeds piepklein, maar sy weeg nou 1 kg. Foto: Verskaf

Ruaché ontvang geskenkte borsmelk van die Suid-Afrikaanse Borsmelkbank.

Mari vertel sy kry maar net meer as ’n teelepel vol melk per voeding. 

“Sy het so 'n paar dae gelede ’n infeksie opgedoen en ons was bekommerd, maar dit gaan nou baie beter. Sy is van die ventilator af,” vertel Johan. Sy ontvang steeds suurstof.

“Dit gaan beter en gisteraand (Dinsdag) het Johan vir die eerste keer haar stemmetjie gehoor, want die pype is uit haar keel. Ek het nog nie self nie, maar hy sê dis so ’n sagte muisstemmetjie,” vertel Mari. 

Ja, moenie dink dié klein lyfie het nie veggees nie, sê Mari laggend. 

“As die verpleegsters haar op haar linkersy draai, raak sy opstroppelis. Sy wil net op haar regterkant lê. Sy frons gereeld en het vreeslik baie gesigsuitdrukkings.” 

Die Bothas hoop dat klein Ruaché vir haar pa se verjaardag by die huis sal wees. Om huis toe te gaan, moet Ruaché minstens 1,8 kg weeg, agt bottels per dag drink, geen suurstof nodig hê nie en geen infeksies hê nie. 

“Ons hoop en glo dat sy op 15 September huis toe sal kan gaan. Dit is al wat ek vir my verjaardag wil hê. My twee meisies by die huis,” vertel Johan.