Ná 70 jaar was Pieter Griessel (97) nog nie een keer deur sy vrou, Saida (93), na die sitkamerbank gestuur om daar te gaan slaap nie.

“Nee wat. Ek was nog nooit te erg in die moeilikheid nie,” skerts hy.

“Ek het ons king size bed vir ’n queen size ingeruil. Dan is daar minder plek en meer geleentheid om lepel te lê.”

Pieter en Saida het mekaar in 1949 deur Saida se niggie Hettie Axelson ontmoet.

“My niggie het vir my gesê daar is iemand by die kerk in Vanderbijlpark aan wie sy my wil voorstel.”

Pieter was ’n dominee by dié gemeente en het Saida daar raakgeloop.

“Ek het alles eintlik georkestreer,” sê hy.

Pieter Griessel
Pieter en Saida is al vir 70 jaar getroud. Foto: Verskaf

“Ek wou haar graag beter leer ken. Ek het my verstom aan haar mooi hande en mooi kapsel met die bolla en al.”

Dié twee het daardie aand tot tweeuur die oggend gekuier en die spreekwoordelike koeël was toe deur die kerk.

“Drie maande later is ons verloof en drie maande daarna is ons op 11 Maart 1950 getroud.”

Volgens Saida kon sy nie vir ’n beter eggenoot gewens het nie.

“Hy is baie lief vir die Here en lees elke aand getrou sy Bybel. Ons het net die Here om voor dankie te sê dat hy ons op mekaar se pad gestuur het.”

Pieter sê Saida se liefde en omgee het van hom ’n ryk man gemaak.

“Sy bederf my baie en maak die heerlikste kos. Daar was net liefde en omgee in die 70 jaar dat ons saam is.”

Die egpaar woon deesdae in ’n aftreeoord tussen Magaliesburg en Krugersdorp.

Hul kleinkinders beplan ’n groot makietie vir die twee se huweliksherdenking.

“Ons los dit aan hulle oor. Ons het geen idee wat beplan word nie,” sê Pieter.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.