Zarina Patel (47), haar ma, Rahima Loonat (70), broers, Zunaid (50) en Aadil (40), en halfbroers, Hassen en Hoosein, was verpletter toe haar pa, Shouqat Ally, in Maart 1989 tydens 'n sakebesoek aan Durban spoorloos verdwyn.

“Toe my pa wegraak het ons familie en vriende help soek; by hospitale, lykshuise, moerasse en enige plek waaraan ons kon dink,” sê Zarina. “In Durban is selfs 'n beloning aangebied, maar niemand het na vore gekom nie. Ek het onlangs die sosiale media begin inspan, maar daarvan het ook nog niks gekom nie.”

Volgens haar het mense al gesê hulle het hom in Londen en Indië gesien, maar niemand kon nog met bewyse vorendag kom nie.

Shouqat, wat dikwels vir sy werk moes reis, het verskaffers gaan besoek om voorraad te koop vir die klerewinkel wat die familie in Westonaria, Gauteng, gehad het.

“My pa was gewoond aan reis, maar hy het ons talle kere op 'n dag gebel om te hoor hoe dit met ons gaan, so lief was hy vir ons.

“My ma moes my pa drie dae later in Durban vir 'n troue kry, maar ná die tweede dag het hy ophou bel. My ma het agterdogtig geraak en die polisie en ons familie en vriende laat weet.”

Zarina, wat haar pa as 'n sterk man beskryf, sê hy het in die City Lodge-hotel in Durban tuisgegaan.

Die voorval het plaasgevind sowat 'n maand nadat sy en een van haar broers teruggekeer het van hul pelgrimstog na Mekka en hulle het uitgesien daarna om gehaltetyd saam met hul ouers deur te bring.

“Hy het die motor by die lughawe gelos om Durban toe te vlieg. Ek kan onthou dat ek nie baie gelukkig was dat my pa weggaan nie, want ek het hom baie gemis; daarom het ek my in my kamer besig gehou met my leerwerk.

“Ek onthou nog goed hoe hy in die gang afgestap het in sy pak en met sy aktetas en hoe ek uitgehardloop het om hom te druk en 'n soen te gee. Dit was die laaste keer.”

Sy vertel alles het goed gegaan met die gesin, maar ná hul pa se verdwyning het hul lewe stuk vir stuk uitmekaar begin val.

“Ons het op 'n mooi plaas in Zuurbekom gewoon, maar moes Lenasia toe trek toe die familieonderneming agteruit begin gaan en my ma moes die winkel verkoop.

“Sy is nou afgetree en kry 'n pensioen. Ek help ook waar ek kan.”

Nog meer spanning is op hulle geplaas toe Zunaid begin dwelms gebruik weens die pyn wat sy pa se verdwyning veroorsaak het.

In 1993 het Zarina 'n graad in openbare bestuur aan die Technikon Witwatersrand behaal en dieselfde jaar het sy getrou. Sy vertel sy het ná haar troue haar naam verander van Zaheerah omdat sy gehoop het dit sal haar lewe help omkeer.

Al haar groot mylpale het haar pa misgeloop.

“Ek het aanhou hoop hy sou eendag by die deur instap.

“Ek bid nog elke dag vir hom. Net God weet wat met hom gebeur het.”

Haar pa sou in Mei 73 jaar oud gewees het.

“As ons pa nog leef, sal ons hom so graag wil opspoor. Indien nie, wil ons net weet wat met hom gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik is.

“Daardie mens moet boet vir wat hy gedoen het.”