Saans is haar aande ’n nimmereindigende nagmerrie, sê Drienie Janse van Vuuren (25). Haar angsdrome is gevul met vrae oor haar broer, Jan-Adriaan (22), se raaiselagtige verdwyning – en hoe dit moontlik is vir ’n mens om sonder enige teken te verdwyn.

Drienie sê sy het op 19 Oktober laas met Jan-Adriaan – ’n motorwerktuigkundige – gepraat. Maar volgens huurders op die perseel in Heuweloord, Pretoria, waar hy ook ’n huurder was, was hy op 18 Oktober vir die laaste keer by die huis.

Hy is glo in dié tydperk laas by Eagles Nest, ’n kroeg en restaurant in Valhalla, opgemerk. Hy was glo ook op 22 Oktober laas aktief op sy WhatsApp-profiel.

Oor wat van haar broer geword het, is vir sy geliefdes en selfs die polisie ’n raaisel, sê sy.

“Al wat ons kan doen, is om te bid en om by die Here te smeek dat hy veilig huis toe kom,” sê ’n emosionele Drienie Maandag aan Huisgenoot.

Jan-Adriaan
Hulle lewe is ’n nimmereindigende nagmerrie, vertel sy gesin. Foto: Verskaf

“’n Mens kan jou regtig nie hierdie hel indink nie. Jy lees daarvan op sosiale media – maar jy dink nooit in dat dit ook jou eie werklikheid kan word nie. Jy is angsbevange vir die telefoon om te lui . . . Bang dat dit dalk slegte nuus kan wees.

“Hoe kan ons slaap as ons nie weet of hy leef of dood is nie? Ons weet nie of hy veilig is nie; of hy kos het om te eet nie. Daar is geen teken van enige aard nie – hy is net weg, en dit maak ons rasend van bekommernis.”

Jan-Adriaan het kort voor sy verdwyning van The Reeds na Heuweloord, albei in Centurion, verhuis. Drienie vertel sy sou op 20 Oktober, met haar broer se verjaardag, by hom gaan kuier het.

“Hy sy nog vir ons die adres gestuur het omdat ons na sy verhuising nog nie daar gekuier het nie. Maar hy het toe nooit nie. Ek het op die dag van sy verjaardag daarvoor gevra en hy het die boodskap ontvang, maar hy het nooit daarop gereageer nie. Ons het net nooit weer van hom gehoor nie.”

Jan-Adriaan
Jan-Adriaan. Foto: Verskaf

Sy sê die familie gaan gebuk onder erge spanning omdat dit die soveelste tragedie is wat hulle tref.

Haar pa, Jan-Adriaan sr., is in 2017 dood aan ’n hartaanval. Haar ouma, Magda, was vir haar “soos ’n ma” voor sy in Oktober verlede jaar ’n stryd teen kanker verloor het. Boonop is haar ma, Liezel Steyn (43), se oudste suster, Corrie le Roux (45), nou in ’n koma in die hospitaal nadat sy in ’n ongeluk met ’n bromponie betrokke was.

“Ons probeer maar oukei wees en ’n front voorhou, maar ons almal weet dis nie oukei nie. En hoe kan dit ook wees? Iemand vir wie ons lief is het spoorloos verdwyn – en ons moet met ons lewe aangaan terwyl hy dalk vrees vir sy eie.”

’n Vermiste persone-saak is by die polisie in Weirdabrug in Centurion aangemeld. Die Gautengse polisiewoordvoerder het nie Maandag onmiddellik op navrae reageer nie.