Maar op Donderdagoggend 23 Januarie is die ritueel op ’n gewelddadige en noodlottige manier beëindig; Jan van Aswegen (64) is deur vier pitbulls verskeur.

“Ons almal by die klub ken mekaar, ons is soos ’n familie by South Downs Country Club,” vertel Hans Oelofse, Jan se neef en beste vriend. 

“Daar is nou ’n groot leemte. Omdat ons so ’n hegte gesin hier is, kan ’n mens dit voel. Almal praat daaroor en probeer dit verwerk, omdat dit op so ’n verskriklike manier gebeur het,” verduidelik hy.

As bestuurder by die klub, het Hans nie daardie oggend saamgespeel nie. Hy het eers van die voorval te hore gekom toe een van die vriende histeries in sy kantoor inbars om die nuus te deel.

Jan van Aswegen
Jan en sy vrou, Johanna. Foto: Verskaf.

“In daardie stadium was ek nog nie angsbevange gewees nie, want sy woorde aan my was: ‘Jan is in bad shape, but he will survive’,” onthou Hans.

Jan en sy gholfvriende het gehoor hoe ’n vrou gil toe hulle naby die vierde putjie kom. Toe hulle ondersoek instel, het hulle gesien hoe vier pitbulls ’n 74-jarige vrou by haar huis, wat aan die gholfbaan grens, aanval.

“Ons dink iemand wat ’n pakkie wou aflewer het die honde ontstel sodat hulle hul eienaar aanval,” vertel Hans. Jan het heldhaftig oor die heining gespring om die vrou te help. Die pitbulls het die vrou gelos en dadelik op hom gefokus en hom aangeval.

Toe Hans by die hospitaal aankom, moes hy die tragiese nuus aanhoor dat sy vriend klaar aan sy wonde beswyk het. Volgens Hans is die vrou steeds nog kritiek in die Netcare Garden City-hospitaal. 

Daar is op 31 Januarie ’n begrafnis vir Jan by die Seester Gemeente in Brackenhurst gehou. “Ek staan sy familie by waar ek kan. Ek en Jan was nie net neefs nie, ons was boesemvriende,” vertel Hans. 

Jan van Aswegen
Foto: Verskaf.

“Ek is nog steeds ’n bietjie teleurgesteld en het baie vrae,” bieg Hans. Die hartseer lê nog vlak; sy boesemvriend wat binne oomblikke vir ewig van hom af weggeruk is, weeg nog swaar in sy gedagtes.

“Dit is moeilik. Ek is kwaad vir hom omdat hy oor die heining gespring het, maar aan die ander kant is ek ook ongelooflik trots op wat hy gedoen het,” vertel Hans. 

“Hy het nie die gevaar gesien wat die ander mense gesien het nie, en dit gee vir my ’n bietjie gemoedsrus,” sê hy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.