Dit het twee maande gelede met Louwrika (37) en Bradley Snow (38) gebeur, maar hul verhaal en dié van hul seun, Liam (3), het ’n gelukkige einde.

Hul blondekopseuntjie het langer as 20 minute nie ’n pols gehad nie. Hy het "vir ’n ewigheid" nie asemgehaal nie.

Maar danksy die vinnige reaksie van die Snow-gesin van Vereeniging, leef hul seun vandag.

“Dit was ’n Sondag. My ouers het van die Vrystaat af by ons kom kuier en hulle het die middag so drieuur gery. Ek en my man het net ingestap en gaan sit. Die sitkamer kyk oor die swembad uit. Daar is so 'n groot venster en geen gordyne nie; dus kan 'n mens die swembad duidelik sien,” vertel Louwrika aan Huisgenoot.com.

Die omheinde swembad se hekkie was oop. “Ons het net kom sit, toe kom ons dogtertjie, Kaitlyn (5), in die sitkamer in en ek vra waar Liam is. Ek en Bradley het albei gelyk opgestaan en toe ek uithardloop, het ek hom gesien, met sy oranje onderbroekie aan, bo-op die water dryf. Toe ek hom uitruk, het Bradley met mond-tot-mond-asemhaling begin en ek het geskree.”

Bradley het jare gelede ’n noodhulpkursus gedoen. “Ek het net geskree en geskree. Ek het die ambulans probeer bel, maar kon nie deurkom nie. Ons bure aan albei kante het ons gehoor en na ons gehardloop.

“Ek het gesukkel om hulle by die hek in te laat, maar intussen het Bradley heeltyd met CPR aangehou. Dis toe dat ons buurman sê ons kan nie wag vir ’n ambulans nie. Hy het ons Midvaal-hospitaal toe gejaag,” vertel sy.

Liam was blou en het geen polsslag gehad nie en Louwrika en Bradley het hulle vir die ergste gereed gemaak.

“Daar was geen teken van lewe nie. Teen die tyd dat ons by die hospitaal gekom het, was Bradley al seker langer as 10 minute besig om ’n pols te probeer kry.”

Die res van die Snow-gesin het in die gang gestaan terwyl Midvaal-dokters gespook het om Liam aan die lewe te kry. Hospitaalrekords wys hulle het nog 12 minute gesukkel om ’n polsslag te kry.

Dr. Tanja Nell, 'n internis, was eintlik gereed om Liam dood te verklaar toe die byna onmoontlike gebeur.

"Toe ek daar aankom, het hy glad nie goed gelyk nie. Ek het 'n ander dokter vir raad gebel, want ek werk nie baie met verdrinkings nie. Ons het aangehou en sy liggaamstemperatuur laag gehou en toe kry ons 'n polsslag," sê Tanja.

Sy vertel sy het self 'n driejarige seuntjie. "Ek het net my werk gedoen, maar ek het so hard gebid ook dat die seuntjie oukei sal wees."

“Ek en Bradley het net aanhou bid terwyl ons in daardie gang gesit het. Hy het nog vir my en Kaitlyn gesê ‘nou’s dit net ons drie’ toe dr. Nel uitkom en sê daar is ’n hartkloppie,” sê Louwrika.

Foto: Verskaf
Liam Snow (3) het by die dood omgedraai. Foto: Verskaf

Maar Liam was nie buite gevaar nie.

Hy is per helikopter na die Garden City-hospitaal in Johannesburg vervoer waar ’n span pediatriese spesialiste gewag het.

"Nadat daardie helikopter opgestyg het, het die personeel in ongevalle eers gaan sit en huil en toe gaan ons aan," sê Tanja. 

Louwrika sê hulle is toe ook na die Garden City-hospitaal toe. 

“Ons bure, Paddy Rogan en Deon van den Berg, was so ongelooflik. Hulle het ons van Vereeniging af Johannesburg toe gery. Hulle het besef ons sal nie self kan bestuur nie,” sê Louwrika.

Dokters by die Garden City-hospitaal het Liam se liggaamstemperatuur verlaag om breinskade te voorkom. “Hulle het hom in sulke bubble wrap-komberse toegepak sodat sy liggaamstemperatuur 34 °C  is."

Hy is vyf dae lank in 'n geïnduseerde koma gehou en op die sesde dag het hy sy oë oopgemaak en probeer beweeg.

Die Snows het steeds nie geweet of Liam breinskade opgedoen het nie.

“Ek was net verlig hy leef en met elke dag wat verbygaan, sien ek hoe hy verbeter. Twee weke nadat ons hom in daardie hospitaal laat opneem het, het hy by die hospitaal uitgestap.”

Foto: Verskaf
Liam was vir twee weke in die hospitaal en het ten volle herstel.

Louwrika sê Liam het ten volle herstel. “Hy het geen breinskade nie. Ons het hom vir spraakterapie, arbeidsterapie en fisio geneem en almal het bevestig hy is fine.”

Liam het ook vir dr. Tanja Nell by haar spreekkamer gaan kuier om dankie te sê. 

"Toe hy daar instap, het ek sommer begin huil. Dit is so seldsaam dat 'n kind wat amper verdrink het, so herstel," sê sy. 

Foto: Verskaf
Die Snow-gesin. Bradley en sy vrou, Louwrika, saam met hul twee kinders, Kaitlyn en Liam.

“Natuurlik voel 'n mens skuldig as ’n ouer, want God het dié kind aan jou gegee, maar dit was ’n ongeluk en ongelukke gebeur. As ons nie dadelik besef het hy is nie in die huis nie, was dit dalk te laat. Hy moes net-net sy bewussyn in die swembad verloor het. As Bradley opgehou het met mond-tot-mond-asemhaling of ons bure het nie kom help het nie of die dokters by Midvaal het nie alles probeer nie of ons het nie by Garden City beland nie, weet ek nie watter skade daar sou gewees het nie,” sê Louwrika.

Die hele gesin het daarna vir traumaberading gegaan. “Kaitlyn sukkel die meeste, want sy het langs Bradley gestaan terwyl Liam so blou was. Sy het toe Liam by die huis inkom, vir hom gesê: 'Jy mag nie weer in die swembad gaan slaap nie, boetie’.”

Louwrika sê voorheen het hulle net vir hul bure gewaai wanneer hulle verbyry. Nou ken hulle hulle en het goeie verhoudings opgebou.

Foto: Verskaf
Liam en sy ousus speel weer nes voor die ongeluk.

Dit voel soms onwerklik dat hul seuntjie ongeskonde is.

“Ek en Bradley kyk soms so vir mekaar as hy iets ouliks of stouts doen en dan glimlag ons. Ons wil mekaar knyp om seker te maak dis die werklikheid, want dit was so amper of ons was regtig net drie.”