Shanei Norris (22) en haar dogtertjie, Reanei (1). Foto: Facebook

Dalk was dit omdat die woorde haar drie jaar lank ontbreek het – dié ewige woorde wat sy op die grafsteen van haar babadogtertjie moes laat graveer. Of dalk was dit eenvoudig omdat sy ná  soveel jaar steeds nie kans gesien het om wérklik afskeid te neem nie . . . 

Wat ook al die rede, dit het haar drie jaar geneem om op die afskeidswoorde vir haar 16 maande oue dogtertjie, wat byna drie jaar terug in ’n motorongeluk dood is, te laat besluit, vertel Shanei Norris (25) van Vanderbijlpark in Gauteng.

Reanei is op die oggend van 23 Maart 2018 oorlede toe sy en Shanei in ’n botsing reg van voor tussen Drie Riviere en Vereeniging betrokke was. Die jong ma was maande lank ná die ongeluk in ’n Johannesburgse sorgsentrum – sy kon nie eens haar eie kind se begrafnis bywoon nie. 

Trouens, toe familie en vriende net meer as twee jaar gelede om haar babagraffie gehuil het, was die jong enkelma steeds in ’n koma ná die motorongeluk wat ook die herinnerings aan haar dogtertjie uitgewis het. Want toe Shanei uit haar koma ontwaak, kon sy ’n tyd lank nie eens onthou dat sy ooit ’n ma was nie. Weens breinskade wat sy in die ongeluk opgedoen het en die trauma van die gebeure is etlike jare uit haar herinnerings gewis – totdat haar herinnerings aan die donkerkopdogtertjie ál hoe meer geword het.

Vandag lees die woorde op Reanei se grafsteen: “Earth has one little girl less, heaven has one special angel more. Reanei was taken too soon. I will always love you. Mom.” 

Shanei Norris
Shanei se afskeidswoorde aan haar dogtertjie, Reanei, is op die grafsteen gegraveer. Foto: Facebook
Shanei Norris
Reanei se pa, Renier Stols, se afskeidswoorde aan sy dogtertjie. Foto: Facebook

Die grafsteen is oor die naweek in ’n begraafplaas in Meyerton, waar Reanei in 2018 begrawe is, opgerig. 

Reanei se pa, Ian Stols, se woorde daarop lees: “To my dear angel in heaven. I just want you to know that you are always in my thoughts – and how much I love you. I know you are in God’s care, that is how it should be, but when I get to heaven, He will give you back to me.” 

Vandag vertel Shanei aan Huisgenoot: “Ek kan nie aan jou verduidelik hoe ek die laaste maande gewroeg het met die regte woorde nie, dis as gevolg van my dat alles stilgestaan het. Ek was sonder woorde. As ek probeer verduidelik het hoe ek oor my kind voel, het dit my laat skree van hartgebrokenheid.” 

Sy het die regte woorde gesoek wat pas by haar lieflingkind, sê Shanei. “Wanneer jy daardie grafsteen laat oprig, is dit asof jy sê: Dis nou finaal, ek aanvaar dit en ek beweeg aan. Asof jy sê: Sy is dood en sy kom nie weer terug nie. En dís wat my laat vries het.”

Shanei Norris was verpletter toe sy hoor haar kind
Shanei Norris was verpletter toe sy hoor haar kind, Reanei, is dood. Foto verskaf
Shanei en haar dogtertjie, Reanei. Foto: Facebook

Want al weet sy haar kind is dood, kom aanvaarding vandag nog vir haar moeilik.

“Jy moet onthou, ek het haar nooit dood gesien nie. Toe sy begrawe is, het ek in die hospitaal gelê. Ek het vir myself gesê: Maar ek het haar nie gesien nie, so dit kan nie waar wees nie,” sê Shanei.

Maar dit ís. En dié wrede werklikheid breek haar hart nog elke dag.

“Ek sukkel tot vandag toe steeds om te glo sy is regtig weg,” vertel Shanei. “Dit raak nooit beter nie – nie nadat jy ’n kind verloor het nie. Dit breek jou. Maar nou is haar grafsteen op, en al is dit nie ’n hoofstuk wat ek kan toemaak nie, kan ek haar ten minste daar besoek. Ek kan blomme gaan neersit en die steen skoonmaak; ek kan dalk net vir ’n oomblik by haar wees, al is sy ook nie regtig daar nie.”