Sy en haar man was met ’n oorsese vakansie, hele vastelande weg van hul sonskynkind, toe daardie een skoot geklap het.

Die skoot waarmee hul 12-jarige dogter haar eie lewe geneem het.

Die dogter wat haar depressie en seer so goed versteek het dat hulle eers in haar afskeidsbriewe, nege van hulle, daarvan te wete gekom het.

Maar vandag, vyf jaar nadat hulle Anneke op haar verjaardag begrawe het, eggo daardie één skoot nog steeds oorverdowend in die lewens van die Mostert-familie van Gauteng.

Die pyn van hul emosionele wonde is nog net so intens soos daardie ondenkbare dag toe Anneke haar pa se rewolwer uit die kluis gehaal en die sneller getrek het. En daardie een koeël sit steeds sy vernietigingswerk voort.

“Die tyd maak nie alle wonde gesond nie,” sê haar ma, Margha, vandag.

“Ek is steeds soos ’n zombie.”

Haar lyf en stem bewe asof sy kouekoors het terwyl sy praat.

Daardie een koeël het Margha (47) en haar gesin gebreek. Haar gesondheid, selfbeeld en selfvertroue is daarmee heen.

“Ek is ’n skadu van wie ek was. My en Daan se huwelik is op die rotse, en dit is omdat ons nie daarmee ge-deal het nie,” vertel sy oor haar huwelik met Anneke se pa.

Anneke se dood in 2015 het die land geskok. Sy was lewenslustig, ’n uitblinker aan die Laerskool Louw Geldenhuys in Roodepoort, en goed in karate.

“ ’n Gelúkkige kind,” beklemtoon Margha.

Margha sukkel om die dood van haar toe 12-jarige d
Margha sukkel om die dood van haar toe 12-jarige dogter te verwerk. Foto: Instagram

Daardie een skoot was geen impulsiewe daad nie, het die geskokte ouers ontdek toe hulle die briewe lees wat sy vir hulle gelaat het.

Sy het geskryf dat sy geboelie word, het Daan en Margha destyds aan Huisgenoot vertel.

Ook dat sy haar dood beplan het, en selfs uitgestippel het hoe sy begrawe wil word. Hulle het nooit enige tekens van depressie by hul dogter gewaar nie, het die gebroke ouerpaar destyds vertel.

Hul “sonskynkind” is op haar verjaardag begrawe, soos sy wou gehad het. Maar van genesing is daar by haar ouers nog bitter min sprake.

“Ons het werklik soveel ondersteuning gehad . . . tot die begrafnis verby was. Toe gaan almal aan met die lewe, behalwe ons as ’n gesin. Ons gesin is steeds ’n gebreekte bordjie,” sê Margha.

Sy het geskryf dat sy geboelie word, het Daan en M
Sy het geskryf dat sy geboelie word, het Daan en Margha destyds aan Huisgenoot vertel. Foto: Sharon Seretlo

Die Mosterts het uit hul huis in Roodepoort getrek net ses maande ná Anneke se dood. Daar was net te veel herinnerings.

Die huis in Northcliff, Johannesburg, waar hulle nou woon, het ’n onthaalarea met ’n groot swembad en braaiplek. Maar hier word weinig gebraai of gekuier, erken Margha.

Die donker wolk van Anneke se dood het ook oor die nuwe huis kom hang.

Daan en Margha woon hier saam met hul seuns, Anneke se jonger broers, maar is al “geruime tyd” van bed en tafel geskei.

Margha se verhouding met haar ander dogter, reeds ’n volwassene, het ook verbrokkel.

“Ons het hierheen getrek om oor te begin. Eintlik het ons vir ons pyn probeer weghardloop,” sê Margha en vee met een hand oor haar hare.

“Maar ons het glad nie aanbeweeg nie.”

Daan is nie tuis nie, maar die dominee se vrou is hier om Margha te ondersteun.

Sy vertel sy het 25 kg verloor sedert Anneke se dood. En sy het begin hakkel.

“Ek’s jammer,” vra sy verskoning.

“Ek sukkel om die woorde aldag uit te kry. Ek was in Maart twee weke lank gehospitaliseer. Hulle het gedink ek het ’n beroerte gehad; ek kon nie praat nie en het so gebewe, maar dit was ’n senu-ineenstorting van al die emosionele stres.”

Margha sê haar lewe het in duie gestort ná Anneke
Margha sê haar lewe het in duie gestort ná Anneke se dood en sy is ’n skadu van die mens wat sy eens was. Foto: Sharon Seretlo

Haar niere is ook vergroot, vertel sy, en sy het probleme met haar maag. Sy sê sy kan ook nie die voorgeskrewe antidepressante drink nie, want dit laat haar siek voel.

“Ek weet nie meer wie ek is nie. Ek het so met my geloof geworstel die afgelope vyf jaar. Soveel vir God gevra waarom, maar ek het besef ek gaan nie antwoorde kry nie.”

Margha het twee maande gelede eers die moed gekry om die bokse met Anneke se goed, soos dit van die ou huis af gebring is, oop te maak.

Sy het haar dogter se foto’s uitgepak en weer haar klasmaats se begrafnisboodskappe gelees.

Maar die res is nog net so in die bokse.

“Ek is steeds nie reg om dit uit te pak of deur te gaan nie. Ek weet ek klou vas. Ek is ook nie reg om Anneke se PlayStation vir die seuns te gee nie. Dit was hare.

Ek het ’n maand gelede haar naam vir die eerste keer gegoogle en toe al die ou berigte en foto’s van haar gesien,” sê sy en vee haar trane weg.

Sewe maande ná Anneke se dood, nog diep in rou gedompel, het hulle nog ’n traumatiese ervaring gehad.

Margha is deur drie gewapende rowers oorval toe hulle voor die hek van die ou Roodepoort-huis stilhou.

“Hulle het my karsleutel probeer gryp. Ek is geskop en geslaan en met pepersproei gespuit, maar ek het daai sleutel nie laat gaan nie, want ons seun was nog in die kar,” sê sy.

Die rower het sy pistool se loop teen Margha se voorkop gedruk.

“Ek het gesê: ‘As jy my skiet, maak net seker ek is dood.’ Ek was so stupid, maar in my dom kop het ek gedink ek sal dan saam met Anneke wees.”

Sy en Daan het deur die jare ál minder met mekaar gepraat. “Ek wou nie Anneke se dood aanvaar nie. En hy het mure om hom gebou tot ons net niks meer vir mekaar te sê gehad het nie.”

Margha dink nog elke oggend eerste aan haar dogter wanneer sy wakker word, vertel sy, en dan skeur die rou snikke weer deur haar skraal lyf.

Sy klap met haar hand op haar bors asof sy die pyn in haar binneste probeer verdryf.

“Ek is die spreekwoordelike voorbeeld van ’n Job. Dit is die hele tyd ‘kon ek maar net’, en ‘as ek maar net’, of ‘hoekom het ek nie net . . .’ Ek leef elke dag daarmee.”

Sy hoop ander ouers sal uit die tragedie van Anneke se dood leer.

Gaan deur jou kind se foon. As jy bewus raak van ’n geboelie, moenie dit net aanvaar nie.

“En bowenal, deal met jou rou, anders gaan jy soos ek eindig.”

Die soveelste keer probeer sy die klere regtrek wat sakkerig aan haar maer lyf hang.

Sy het nog nie nuwe klere gaan koop nadat sy al die gewig verloor het nie, verduidelik sy selfbewus.

“Waar is my sleutels?” roep sy dan.

“Seuns, het julle dit gesien? Sorry, julle, ek is stupid. My korttermyngeheue is aangetas, en ek raak soms deurmekaar.”

Dan raak sy weer rustiger en wys die covid-gesigmaskers wat sy vir die haweloses in die omgewing maak en uitdeel. Dalk kan sy so verhoed dat die virus nog ’n lewe vat.

“Ek is nog altyd ’n doener. Ek gee en gee, maar ek het myself verloor in die proses. Ek het nie hiermee ge-deal nie. Nie eens my nabye vriendinne weet regtig wat in die huis aangaan nie; wat met my aangaan nie,” doen sy weer hardop selfondersoek.

“Ek probeer nou begin om dit te verwerk. Maar dis hel . . .” 

  • As jy of ’n geliefde worstel met gedagtes oor die dood of om jou eie lewe te neem, kontak die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) se hulplyn by 011-234-4837 of 0800-567-567, die Destiny-hulplyn vir jeugdiges by 0800-414-243 of Cipla se geestesgesondheidshulplyn by 0800-456-789.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe