As sy maar net ’n laaste keer daardie klein lyfie teen haar kon vashou. Of dalk nog net een keer haar laggende mondjie kon sien. Dan sou sy dalk kon aanvaar dat haar 16 maande oue dogtertjie werklik dood is.

Maar vir Shanei Norris (24) was daar nooit ’n oomblik van finaliteit om van klein Reanei afskeid te neem nie.

Toe familie en vriende net meer as twee jaar gelede om haar babagraffie gehuil het, was die jong enkelma steeds in ’n koma ná die motorongeluk wat haar dogtertjie se lewe geëis het – en ook die herinnerings aan haar.

“Ek het ’n tyd lank nie eens onthou dat ek ooit ’n ma was nie. Ek het nie my dogtertjie onthou nie,” vertel Shanei nou.

Weens breinskade wat sy in die ongeluk opgedoen het en die trauma van die gebeure is etlike jare uit haar herinnerings gewis. Tog het daar op haar lang pad na herstel in ’n Johannesburgse sorgsentrum later herinnerings aan ’n donkerkop­meisietjie by Shanei begin opduik.

Maar niemand het haar toe vertel daardie meisietjie leef nie meer nie.

“Niemand het die moed gehad om vir my die nuus te vertel nie,” vertel Shanei in haar eerste onderhoud sedert die ongeluk in Maart 2018. “Dokters het gereken die nuus sou my herstel kniehalter.”

Geliefdes sou daarom van Reanei praat “asof sy nog leef” of die onderwerp vermy.

’n Jaar het ná die ongeluk verloop voor Shanei tot haar groot skok toevallig in die media van haar kind se dood gelees het.

“Ek onthou hoe ek daar in die bed gelê het, heeltemal stukkend, asof ek nie wou aangaan nie. Later is die gebrokenheid met woede vervang. Ek was kwaad omdat dit so lank van my weggehou is,” sê sy.

“Maar toe word alles skielik glashelder: Toe moes ek éérs baklei – vir Reanei.”

Sy verlang nog elke dag na haar. Foto verskaf
Sy verlang nog elke dag na haar. Foto verskaf

En sy het. Shanei is eindelik aan die begin van die jaar, byna twee jaar ná die ongeluk, uit die versorgingsoord ontslaan.

Afgesien van haar “vergeetagtigheid” en plate in haar regterarm en -been wat haar bewegings strem, leef sy nou weer voluit. Sy het ook nuwe liefde gevind nadat sy en die pa van haar oorlede dogtertjie reeds voor die ongeluk uitmekaar is.

“Ek het besef ek sal myself moet optel. Dit sou my mos niks baat om vir die res van my dae in ’n hopie te bly lê nie,” sê sy moedig.

Maar sy erken ook: “Die merke aan my lyf het nou begin gesond word, maar my hart bly steeds ’n ander saak.”

’n Mens sou moeilik kon raai die vrou met die we­lige donker hare en warm glimlag is die afgelope twee jaar deur diep waters.

Haar langbroek verberg die letsels aan albei haar bene waarmee die ongeluk haar gelaat het.

“Ek weet nie of ek ooit weer gewoon sal kan loop nie,” sê Shanei, wat steeds mank loop. So erg is albei haar bene en pelvis beseer dat sy ná die ongeluk van voor af moes leer loop.

Maar van selfbejammering is daar geen sprake nie.

“Eintlik weet ek nou meer as ooit tevore watter groot voorreg dit is om te leef,” sê sy.

Voor die ongeluk het sy as ontvangsklerk by ’n mediese praktyk gewerk, vertel sy hier in die agtertuin van haar kêrel se ouerhuis in Vanderbijlpark.

Die oggend van 23 Maart 2018 was sy van die huis tussen Drie Riviere en Vereeniging waar sy toe saam met familie ­gewoon het op pad om Reanei by ’n kleuterskool in Vereeniging af te laai.

Reanei was ’n vriendelike dogtertjie. Foto verskaf
Reanei was ’n vriendelike dogtertjie. Foto verskaf

Van die ongeluk kan sy steeds niks onthou nie: van hoe haar Kia Picanto teen ’n bakkie gebots het, hoe die reddingskake haar uit die motorwrak moes bevry of hoe klein Reanei se lewelose liggaampie agtergebly het terwyl met Shanei in ’n kritieke toestand hospitaal toe gejaag is.

“Ek het ure lank op die toneel sit en wag op die lykswa,” het Reanei se pa, Renier Stols (toe 28), destyds aan Huis­genoot vertel.

“Haar lyfie was toegegooi onder ’n kombers – sy was nog warm.”

Die idee van daardie hartverskeurende toneel dryf Shanei vandag steeds tot trane.

“Ek wens ek kon iets onthou, selfs iets kleins. Maar dit maak nie saak hoe lank ek probeer fokus nie, my geheue roep niks op nie. Toe ek in die hospitaal wakker word, was my laaste herinnerings aan tye net ná skool.

“Dit was asof daar vir lank ’n gedeelte van my lewe eenvoudig uitgewis was – die gedeeltes voor en ná my dogtertjie.

“Dit was hel. Ek was in soveel pyn, onseker en heeltyd deurmekaar. Ek het soms aan iets gedink en dit dan minute later weer vergeet,” vertel sy van dié donker dae.

Ná drie maande in ’n hospitaal is Sha­nei na die Park Care-versorgingsoord in Johannesburg oorgeplaas. Haar bene is ná die ongeluk met penne gespalk en moes maande lank in ’n 90°-posisie bly. Mettertyd, danksy rehabilitasie, kon sy ’n rolstoel begin gebruik en later weer leer loop.

“Ek het aan die begin van verlede jaar alles stuk-stuk begin onthou,” vertel sy oor die herinnerings aan haar dogtertjie.

“Een aand het ek gedroom ek is by haar begrafnis. Toe ek wakker word, was ek buite myself van woede. Ek wou antwoorde hê. Maar dis was laataand, en teen die volgende oggend het ek reeds weer daarvan vergeet,” vertel sy.

“Ek het daarna dikwels oor Reanei gepraat. Maar ek het altyd gesê sy is by familie. Of sy is by haar pa.”

Toe, in Maart verlede jaar, kom sy toevallig op ’n ou artikel oor haar dogtertjie se begrafnis af.

 Shanei was in ’n koma met Reanei se begrafnis in
Shanei was in ’n koma met Reanei se begrafnis in 2018. Foto verskaf


“Ek is verbied om ’n selfoon te hê. Almal het geweet ek sou uitvind as ek toegang tot die internet gehad het. Maar op ’n dag het iemand ’n paar tydskrifte en koerante agtergelaat om my besig te hou. En dis toe ek dit sien: my dogtertjie se kissie. Ek het geweet wat ek eintlik nog heeltyd gevoel het – my liefkind is dood.”

Bekommerde personeel het ’n ontroosbare Shanei in haar kamer aangetref.

“Die trane het net aanhou loop,” onthou sy. “Ek wou by die Here weet: Jy het reeds alles van my gevat – wat nóg? Ek wou nie hê dit moet waar wees nie. Maar dit was – en ek het dit besef toe vriende my na my kind se graf op Meyerton gevat het. Dit was so finaal.”

Haar grootste troos, sê sy, is die video wat Renier destyds van die begrafnis gemaak het. Sy kyk dit soms oor en oor; en elke keer loop die trane.

Annelie Hunter Smith, haar tannie, is vir Shanei s
Annelie Hunter Smith, haar tannie, is vir Shanei soos ’n ma. Foto: ER Lombard

“In sekere opsigte was dit die draaipunt wat vir my so nodig was. Want nadat ek van Reanei se dood uitgevind het, het ek kliphard vir myself begin baklei. Ek wóú leef. Ek skuld haar dit.”

Sy het ’n tweede kans op lewe gekry, sê Shanei terwyl sy met blink oë vertel van die nuwe man in haar lewe. Sy en Ian van Aswegen (29), ’n vlieënier, het mekaar ontmoet toe hy saam met ’n vriendin van haar by die versorgingsoord vir haar gaan kuier het.

“Ons was mal oor mekaar – onmiddellik. Hy het my lief nes ek is. Dit het my lank geneem om teenoor hom oop te maak. Maar ek het vinnig besef as hy my so kruppel en mank aanvaar, moes Liewe Jesus hom seker vir my gestuur het.”

Hulle woon tydelik by sy ouers. Shanei kan weens die breinskade steeds nie werk nie en dokters monitor haar vordering.

“Ek weet nie wat môre inhou nie. Maar vandag, in die hier en nou, gaan dit beter as ooit,” sê sy met ’n glimlag.

”Daar is ál meer dae in my lewe dat ek lag, dat ek bly is om hier te wees, dankbaar vir iemand wat my liefhet.”

Tog is haar dogtertjie en die hartseer oor haar nooit vergete nie.

“Dit bly ’n ope vraag of daar ooit ’n dag sal verbygaan dat ek nie huil nie,” erken Shanei. “Maar een ding weet ek vir seker: Reanei is hier in my hart – sy lê nie in daardie graf nie.

“Dit is wat my dra.