Die botsing in Drie Riviere op 23 Maart vanjaar het Suid-Afrikaners aan die hart geruk: Shanei is met ernstige beserings in die hospitaal opgeneem en haar dogtertjie, Reanei, is op die toneel dood verklaar.

Shanei het ondanks haar beserings, waaronder inwendige bloeding weens ’n skeur aan haar lewer en ’n gebreekte been en arm, goed herstel, maar het weens ’n breinbesering ná die botsing aanvanklik nie na haar dogtertjie gevra nie.

Tracey Norris, Shanei se suster, vertel Woensdag aan Huisgenoot die 23-jarige het egter uitstekende vordering gemaak sedert sy in Junie vanjaar in ’n versorgingseenheid in Parktown in Gauteng opgeneem is.

Volgens haar het Shanei se toestand so verbeter dat die jong ma intussen na ’n onafhanklike saal in die eenheid oorgeplaas is.

“Sy is steeds in ’n rolstoel, maar het in die laaste paar weke die meeste vordering nog sedert die ongeluk gemaak,” vertel Tracey.

“Sy leer weer loop en help haarself boonop in en uit die rolstoel. Ons is baie hoopvol.”

Shanei moes rehabilitasie ondergaan in ’n poging om haar regterbeen weer reguit te buig nadat sy dié been in die ongeluk vergruis het.

Nadat die been gespalk en lank in een posisie gehou is, het dit daartoe gelei dat die spiere verkort het, en dit het weer daartoe gelei dat haar been konstant in die verkeerde posisie was.

“Haar regterbeen is nou vir die eerste keer ná maande weer reguit. Ons is baie dankbaar vir die vordering wat sy maak,” vertel Tracey.

Sy sê Shanei se geheue het al so herstel dat sy deesdae noem sy verlang na Reanei.

“Sy sê gereeld sy hoop Reanei onthou haar – en dat sy nie kan wag om haar te sien nie. Maar sy het nog nie een keer gevra om haar dogtertjie te sien of gevra waar sy is nie.”

Dokters kan nie in dié stadium ’n prognose maak oor Shanei se geheueverlies nie.

“Sy begin ál meer van die dinge voor die ongeluk onthou,” sê Tracey.

“Maar as jy vir haar nou iets vertel, vergeet sy dit byna weer binne tien minute. Dis maar moeilik, en wat dit vererger is dat ons nie kan bepaal hoe dinge oor ’n jaar van nou gaan lyk nie.

“Ons wil haar nie nou ontstel deur vir haar te sê Reanei is dood nie. Sy sal deur verskriklike trauma gaan, en dan is daar ook die moontlikheid dat sy dit weer sal vergeet. Maar die skade van die trauma sal blywend wees.”

Sy sê Shanei toon tog ook vordering ten opsigte van haar geheue. “Sy onthou alledaagse goedjies soos waar die messe- en vurkelaai is, of waar haar kamer is, maar dis bloot as gevolg van die roetine daarvan. Ons bly egter vol hoop vir die toekoms.”

Shanei is steeds weekdae by die sorgeenheid en naweke by Tracey of haar broer, Marc.

“Sy is ongelooflik positief en gewillig om te leer – en eindelik gaan dit haar met die herstelproses help.”