Karina van der Westhuizen (33) het nog vir haar dogtertjie gesê om in die bed te gaan klim en omgedraai om met haar verloofde, Jean-Pierre le Roux (38), te sit en gesels toe sy die bloed teen haar slaap en wang sien afloop.

Karina, wat die fratsvoorval vandeesweek wonderbaarlik oorleef het, het Vrydag, enkele dae later, vertel sy het nie dadelik geweet wat haar tref nie.

Die voorval het Dinsdag om 20:23 gebeur.

“Ek het net vir my dogtertjie gesê sy moet solank kamer toe gaan, ek gaan haar nou kom nag soen. Ek en JP het net begin gesels toe ek voel iets loop teen my voorkop en wang af. Ek het gewonder hoekom begin my kop so pyn.”

Sy het die projektiel in die haar dik, lang hare gekry en besef dit was ’n dwaalkoeël wat deur die dak gekom het.

“Ek het gedink dit was die gloeilamp aan die dak wat ontplof het, maar toe ek opkyk, sien ek die lig brand nog.”

Dit is toe dat sy die gat in die dak sien.

Karina, Jean-Pierre en haar kind bly agter op die erf in ’n woonstel waar haar pa en suster-hulle in die hoofhuis bly. Dit is ’n motorhuis met ’n sinkdak wat in ’n woonstel omskep is.

Karina van der Westhuizen en haar veloofde, Jean-P
Karina van der Westhuizen en haar verloofde, Jean-Pierre le Roux. Foto: Facebook

“Ek het vir JP geskree hy moet my pa gaan roep. Hy was so in skok, hy het net klere en goed begin gryp om hospitaal toe te gaan.”

Sy en haar pa is na die Life Bedford Gardens-hospitaal se ongevalle-eenheid.

“Ek kon voel ek het nie ’n gat in my kop of iets nie, meer soos ’n sny, maar ons is dadelik hospitaal toe omdat dit so baie gebloei het.”

Karina vertel die personeel was geskok toe hulle hoor wat gebeur het.

“Hulle kon nie glo dat ek niks makeer nie. Ek het self daar ingestap.”

Karina moes twee kramsteke aan haar kop kry en is dieselfde aand ontslaan. Intussen het Jean-Pierre die saak by die polisiekantoor aangemeld. Karina het die volgende dag haar verklaring gaan aflê.

“Dit is maar ’n wilde area. Dit het al gebeur dat mense in die area ná sportwedstryde net skote in die lug afvuur as hul span wen. Daar is ook vir JP gesê daar was die aand ’n kaping in die area . . . Maar nooit sou ek dink ’n koeël sou deur die dak kom nie. Wie dink so iets sal hulle tref?”

Sy vertel dit het nog nie ingesink nie.

“Gister was ek baie stil . . . Ek besef dit is ’n wonderwerk. My dogtertjie het net oomblikke tevore nog voor my by die bed gestaan. Dis net die Here se genade.”

Kapt. Johan Jordaan van die Cleveland-polisiekantoor het bevestig ’n klag van poging tot moord is aangemeld. Hy kon geen rekord van ’n kaping in die area kry nie.

“Ons ondersoekbeampte ondersoek die saak. Die projektiel is vir forensiese ontleding ingestuur sou ons dalk iets op ons sisteem kan optel of as ’n voorval weer in die toekoms aangemeld word.”