“Die tyd het oplaas gekom dat geregtigheid geskied,” laat weet Suzette (62) in ’n SMS-boodskap.

Vir haar was dit ná al die jare die belangrikste: Om toe te sien dat Chantelle, haar dogter, se vermeende moordenaar agter tralies sit. Maar jare lank het geregtigheid haar bly ontwyk. Haar dogter se vermeende moordenaar was sewe jaar lank voortvlugtig, en niemand kon daarin slaag om hom vas te trek nie. 

Tot ’n skokwending in Januarie vanjaar Suzette én die owerheid stomgeslaan het: Jurgen Vandekeere het homself aan die polisie in Benoni, aan die Oos-Rand, oorhandig. Die voortvlugtige was glo moeg om te vlug. 

“Ek het die nuus van die verhoordatum gister ontvang,” vertel Suzette telefonies aan Huisgenoot.

“Ek kan dit steeds nie glo nie. Dit voel nog elke dag te goed om waar te wees. Ek het soveel dae en nagte omgehuil – vreesbevange dat die polisie hom nooit sou vang nie. En nou gaan die verhoor eindelik voorkom.” 

Jurgen Vandekeere. Foto: Gallo Images/Foto24/Lerat
Jurgen Vandekeere. Foto: Gallo Images/Foto24/Lerato Maduna

Dit sal 'n tweede poging tot ’n verhoor wees. Jurgen is kort ná Chantelle se wrede moord op 1 April 2011 in hegtenis geneem, maar het tydens sy borgtogtydperk as verhoorafwagtende gevlug en nooit opgedaag vir die verhoor in September 2013 nie.

Chantelle is 10 dae voor haar mondigwording op ’n kleinhoewe by Benoni vermoor. Jurgen, wat ’n opsigter op die hoewe was, het haar na bewering ure aaneen gemartel en verkrag voor hy haar bebloede liggaam gewas en op die woonstelvloer neergelê het.

Nadat ’n verhoorafwagtende Jurgen vermoedelik met ’n vervalste paspoort landuit gevlug het, is hy minstens twee keer gewaar. Hy was ook op Interpol se rooikennisgewinglys, maar owerhede kon nooit daarin slaag om hom vas te trek nie.

Suzette Barnard met ’n geraamde foto van haar vermoorde dogter, Chantelle. Foto: Rowyn Lombard.

Maar nou, sewe jaar ná sy verdwyning, gaan Jurgen tussen 11 en 22 Mei vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg verhoor word op aanklagte van moord en verkragting.

“Ek het hom nog nie gesien sedert hy weer in hegtenis geneem is en agter tralies is nie,” vertel Suzette. “Jis, ek was te bang. Nie vir hom nie – vir die dinge wat ek dalk sal sê. Nege jaar se seer doen vreemde dinge. Dit maak ’n bitter woede in jou wakker.” 

Dis Suzette se man, Fanie (60), en haar seun, Jacques (33), wat haar emosioneel ondersteun.

“Ek weet een ding verseker: Hy gaan nou kry wat hom toekom. Hy gaan nou boet vir Tellie se walglike dood,” sê Suzette.

Sy het haar geliefdes en ander wat die hofsaak gaan bywoon versoek om pers na die verhoor te dra, sê Suzette. Dit was Chantelle se gunstelingkleur – en ’n simbool van die vrede wat kom.

Suzette Barnard. Foto: Onkgopotsi Koloti
Suzette Barnard. Foto: Onkgopotsi Koloti

Die vrees bly vlak lê oor daardie eerste herontmoeting, sê Suzette. Of sy sterk genoeg sal wees om die man wat haar dogter wreed uit die lewe geruk het, in die oë te kyk . . . 

“Ek onthou nog hoe Jurgen jare gelede in die hof gestaan het, altyd so half met sy hande agter sy rug inmekaargevleg. Daardie hande . . . die wrede hande wat my dogter se lewe kom neem het. Die hande wat haar so seergemaak het; wat haar van my af weggeneem het.

“Daar is niks meer wat ek kan doen nie. Ek het aanhou baklei en nooit opgegee nie, en nou sit hy agter tralies. Nou moet ek wéér glo dat daar eindelik geregtigheid vir my Tellie-kind sal wees.” 

  • Kapt. Peter Mbobani, die ondersoekbeampte in die saak, sê Jurgen sal in Mei verskyn op dieselfde aanklagtes as dié waarvan hy in 2011 aangekla is: moord en verkragting. Mbobani sê hy het sy borgtog verbeur en sal dus voor en tydens die verhoor in aanhouding in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria bly.