Dit is die verhaal van ’n haas ondenkbare ge­sinstragedie: ’n gekwelde jong man uit ’n gebroke huis wat deur sy eie pa doodgeskiet is toe dié hom vir ’n inbreker aangesien het, en sy verpletterde ma se soeke na ’n swaarder straf nadat haar eksman met slegs ’n waarskuwing uit die hof gestap het.

Maar dit is ook ’n hofdrama waarin die coronavirus ’n onvoorsiene speler geword het.

Die 49-jarige Sharon Taylor was platgeslaan toe haar eksman, Coert Kruger (51), verlede September as ’n vry man uit die streekhof in Vanderbijlpark gestap het nadat hy skuldig bevind is aan die moord op hul seun, Coert jr. (30).

Coert jr. is deur sy pa doodgeskiet.
Coert jr. is deur sy pa doodgeskiet.

“Die landdros het gesê hy kan aan geen erger straf dink as dié dat Coert elke dag in die spieël in sy seun se moordenaar gaan vaskyk nie,” verduidelik Sharon nou aan Huisgenoot.

“Ek was briesend . . . Daar was geen boetedoening nie.”

Sharon, wat die landdros gevra het om haar eksman lewenslank tronk toe te stuur, het die saak nie daar gelaat nie. Sy het die nasionale vervolgings­gesag (NVG) oortuig om teen die uitspraak in die streekhof te appelleer.

En einde verlede maand – meer as ’n jaar ná Coert jr. se dood – is die uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria hersien. Dié keer is hy tot agt jaar tronkstraf gevonnis, opgeskort vir vyf jaar.

Maar Sharon was nie daar om te sien hoe haar wens volbring word nie, want weens die inperking kon geen party voor die hof kom nie. Die regter het sy bevinding op grond van die vorige hofrekord gemaak.

“Ek wou graag daar wees,” vertel Sharon. “Want dis ék wat die NVG gekry het om te appelleer, ék wat die saak voor die hooggeregshof gekry het . . .

“Ek wou graag daar wees om te sien my harde werk tel vir iets; om geregtigheid te sien.”

Tog voel sy verlig dis verby.

“Ek is moeg baklei.”

Maar haar hartseer en woede wyk nie. En Coert sr. se stilswye sedert die tragedie verdiep haar pyn, vertel sy.

“Dis hartverskeurend dat Coert se lewe geneem is deur die pa na wie se goedkeuring hy so gesmag het.

“En dis onmenslik dat daardie einste pa nie die guts het om my in die oë te kyk en jammer te sê dat hy my enigste kind se dood veroorsaak het nie.”

Daar is sekerlik vir enige ouer niks ergers as om te hoor jou kind is dood nie, sê Sharon vanuit haar huis in Kempton Park.

“Maar dit is selfs erger om te hoor jou kind se eie pa het die sneller getrek.”

Coert sr. en sy tweede vrou, Riana, het die polisie op 22 Maart verlede jaar na hul kleinhoewe buite Vanderbijlpark ontbied toe ’n alarm in die huis op die buur­erf afgaan. Dit behoort ook aan Coert, maar was leeg.

’n Emosionele oomblik toe Coert sr. verlede jaar n
’n Emosionele oomblik toe Coert sr. verlede jaar net ’n waarskuwing gekry het in die hof in Vanderbijlpark. Langs hom is sy vrou, Riana. Foto: Elizabeth Sejake

Coert was buite die huis terwyl sekuriteitswagte binne was. Die hof het gehoor hy het ’n figuur op die dak gesien wat op hom afpyl – hy het gedink dis ’n inbreker en nie besef dis sy seun nie.

Hy het ’n skoot met sy haelgeweer ­afgevuur en Coert jr. noodlottig in die regterdy getref.

Later het die hof gehoor Coert jr. was aan dwelms verslaaf en dat hy glo goedere uit die huis wou steel om te verpand.

Ook vir Coert sr. was dit ’n skok en ’n verskriklike slag dat hy sy eie kind se lewe weens ’n misverstand geneem het.

Die hooggeregshof se nuwe uitspraak lui Coert mag nie weer ’n vuurwapen besit nie, en die tronkstraf sal in werking tree as hy weer ’n misdaad pleeg. Tog sou ’n langer vonnis as agt jaar “onvanpas wees” vir die pa wat sy seun weens ’n misverstand doodgeskiet het, het die hof bevind.

Maar vir Sharon is daar min sprake van vergifnis vir haar eks, van wie sy al meer as twee dekades geskei is.

Die trane maak maskaraspore oor haar wange terwyl sy op die skerm in die video-onderhoud praat.

“Ek wil nie 25 jaar later soos ’n verbitterde eks klink nie. Ja, natuurlik is ek verbitter, maar oor my seun en sy dood. Ek is stukkend en wens ek kon verstaan hoe dit gebeur het. Ek wens die nagmerrie kon sin maak,” sê Sharon.

“My seun is uitgemaak as ’n junkie wat net wou steel. Ek en my getuienis is afgemaak as te emosioneel. Te emosioneel? Wat verwag hulle?

Coert sr. saam met Sharon en hul seun.
Coert sr. saam met Sharon en hul seun.

“Sy pa se straf vir ’n skoot in die rug is om by die huis te sit en vir homself jammer te voel.”

Sharon en Coert sr. het in 1995 ná vyf jaar van getroude lewe geskei. Volgens haar was dit storm­agtige jare.

“Daar was nooit werklik gelukkige tye nie, en Coert jr. het dit nie vrygespring nie.”

Ná die egskeiding het haar seun by haar gewoon tot hy 15 was; daarna by sy pa. Maar hy is op 16 uit die skool om stukwerk te doen – en volgens Sharon het hy vyf jaar gelede dwelms begin gebruik.

“Ek is nie blind vir my seun se foute nie. Wat hy gedoen het, was verkeerd. Hy het keer op keer sy rug op die dwelmduiwel probeer draai. Maar hy was nie ’n junkie nie. Hy was ’n sagte mens met die mooiste hart. Hy was opreg en eerlik oor sy swaarkry.”

In die maand voor sy dood was Coert jr. dwelmvry, hou Sharon vol.

“Hy wou sy lewe regruk; ’n vaste werk kry. Sy haartjies was mooi geknip; sy skoene blink gepoets,” vertel sy.

Maar omstreeks 23:00 daardie ver­skriklike nag kom die oproep: Haar seun is dood. Sy moet hom in die Sebokeng-­lykhuis gaan uitken.

En sy pa? vra sy toe.

In die aanhoudingselle, hoor sy.

“Niks kan jou daarop voorberei nie.”

Die volgende dag is sy na die Sebokeng-polisieselle.

“Coert het geweier om my te sien,” beweer sy.

Dan is sy opnuut woedend.

“Watter pa skiet sy seun, sien hoe sy kind doodbloei, maar weier om met die ma te praat? Ek wou weet hoe hy so ’n fout kon maak. Dit is my reg.

“Het my kind gely? Wat was sy laaste woorde? Wat het hulle gedoen om hom te probeer red?”

Sy het elke dag van Coert sr. se verhoor by­gewoon.

“Maar tot vandag toe het hy nie een woord met my gepraat nie. Hy’t nie een keer jammer gesê nie.”

En toe kon sy weens die inperking ook nie daar wees vir die slothoofstuk van die hofsaak nie.

Dit skeel haar min dat mense haar dalk oordeel omdat sy ’n swaarder straf vir Coert sr. wou hê.

“Hy is die man wat my seun dood­geskiet het; nie my eksman nie,” vertel sy.

“Ek het nie soos die hof vir hom sim­patie gevoel nie. Want vir mý kon hy nie een keer sê hy is jammer nie. Met my seun kon hy nooit dinge reggemaak het nie, en nou is dit te laat.”

Sharon weet nie of sy ooit werklik sal vrede vind nie. Maar sy berus haar in die hersiene hofuitspraak.

“Ek wil nie meer baklei nie. Ek wil nie meer daagliks met hierdie woede in my wakker word en gaan slaap nie.”

Coert jr. is drie dae ná sy dood veras. Destyds was daar op haar versoek niemand by die verassing nie, vertel Sharon. Maar nou wil sy graag ná die inperking ’n gedenkdiens hou.

“Dit het voorheen nie reg gevoel om tot siens te sê nie. Dalk sal ek nooit hierdie hoofstuk werklik afsluit nie. Maar ek móét aangaan met my lewe – vir my kind.”


Coert sr. het by monde van sy prokureur, David Mey, gereageer op Huisgenoot se versoeke om kommentaar op Sharon se bewerings.

“Coert wil nie betrokke raak in ’n smeerveldtog nie en distansieer hom en sy gesin heeltemal van die bewerings wat gemaak word.

“Hy en Sharon is al langer as twee dekades geskei . . .  Die familie gaan deur ’n baie moeilike tyd en wil graag hierdie moeilike hoofstuk afsluit,” sê Mey.

“Een ding wil Coert wel sê: Streeklanddros Robert Button was reg . . . Hy sal elke dag vir die res van sy lewe sy seun se moordenaar in die spieël sien.”

FOTO'S: RAPPORT/ELIZABETH SEJAKE, FACEBOOK/COERT KRUGER, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.