Dit is al sowat drie maande vandat Shanei Norris (23) en haar 16 maande oue babadogter Reanei in ’n gru-ongeluk in Drie Riviere by Vereeniging betrokke was. Shanei was kritiek, maar haar baba het gesterf. 

Steeds kan Shanei nie die ongeluk op 23 Maart onthou toe sy op pad was om haar dogtertjie by die dagmoeder af te laai nie. Sy weet ook nie dat daar dogtertjie dood is nie, “want wat help dit ons sê haar, maar sy vergeet dit ná 10 minute”, sê Noeleen van Blerk, ’n vriendin van Shanei.

Shanei se breinbesering in die ongeluk het ernstige geheueverlies veroorsaak.

Noeleen het aan Huisgenoot gesê Shanei kan net sowat 10 minute lank onthou.

“Die dokters kon nog nie vasstel of die geheueverlies tydelik of permanent is nie.

"Hulle het gesê in sommige gevalle word mense net op ’n dag wakker en kan hulle alles onthou; ander mense herstel nooit,” vertel Noeleen. 

Die vriendin vertel Shanei onthou haar dogter af en toe, maar dis asof sy elke keer dink sy het Reanei pas by haar pa, Reinier Stoltz, of by die dagmoeder afgelaai. 

Noeleen sê hul spits hulle nou toe op Shanei se herstel. Of en wanneer hulle haar van Reanei se dood sal vertel, is nog nie seker nie.

Sharnei is aanvanklik in die Sebokeng-staatshospitaal noord van Vanderbijlpark opgeneem, waar sy ses weke lank aangesterk het voor sy na die Cormed- privaat hospitaal in Vereeniging oorgeplaas is.  

“Sy kan glad nie loop nie," vertel Noeleen. "Haar regterbeen wat tydens die ongeluk vergruis is, kan nie reguit buig nie en bly in ’n 90 grade-posisie.

"Haar been is ná die ongeluk met penne versterk, maar het nog nie ten volle herstel nie. Sy het ook ’n probleem met haar linkerbeen waarvan die wond nog nie gesond is nie. Sy het ook bloedklonte daarin ontwikkel." 

Sharei is Vrydagmiddag na ’n tehuis in Parktown in Johannesburg geneem, waar haar pad na herstel sal begin. In die tehuis sal sy twee keer per week fisioterapie en sielkundige behandeling ontvang. Sy sal ook naweke die geleentheid kry om huis toe te gaan, waar sy saam met familie en vriende sal kan kuier.