Marius Du Toit
Marius saam met Monica en Kyle in gelukkiger tye. Foto: Verskaf

“Mammie, kom dadelik – ons was in ’n groot ongeluk. Ek dink my seuntjie is dood . . .” 

Dít was die woorde van ’n kritiek-beseerde Marius du Toit (20) aan sy ma, Gerda van Wyk (46), nadat hy en sy meisie, Monica Deysel (20), en hul nege maande oue seuntjie, Kyle, Maandag in ’n verwoestende botsing in Randfontein, Gauteng, betrokke was.

Marius en sy gesin was van Kocksoord in dié buurt na Homelake, ook in Randfontein, op pad om by ’n familielid te gaan kuier toe hulle in ’n botsing reg van voor betrokke was. ’n Bestuurder wat glo ’n vragmotor in die aankomende baan verbygesteek het, het met die gesin se voertuig gebots.

“Ek was van my kop af; totaal en al histeries,” vertel Gerda oor Marius se oproep aan haar kort ná die ongeluk. “Ek kan nie vir jou beskryf wat alles deur ’n mens se kop gaan nie. Is my kleinkind régtig dood? Gaan Marius en Monica leef? Die wêreld draai om jou.” 

Marius Du Toit
Monica veg om haar lewe in die hospitaal. Foto: Verskaf
Marius Du Toit
Marius het erge breuke aan sy regterbeen en linkerarm opgedoen. Foto: Verskaf
Marius Du Toit
Klein Kyle het glo erge skedelbreuk opgedoen. Foto: Verskaf

Gerda sê sy het haar man, Johan, gebel en gevra om hom na die toneel te haas. “Ek kon net nie . . . Die Here hoor my, ek wou nie my kinders so sien nie,” sê sy.

Johan was binne minute op die toneel. Daar het hy ’n bebloede Marius buite die motor aangetref. Monica en Kyle, wat albei in die motorwrak vasgekeer was, was albei bewusteloos. 

Marius Du Toit
Die ongelukstoneel in Randfontein, Gauteng. Foto: Verskaf

“Klein Kyle het op die vloer van die motor gelê. Johan het vertel sy oë was omgedop. Niemand het geweet of hy leef of nie. Dis die ergste ding wat enige ouer kan oorkom,” sê Gerda.

Kyle en sy ouers is van mekaar geskei – die kleinding is na die Lenmed Randfontein-hospitaal gehaas en sy ouers, wat nie een ’n mediese fonds het nie, is na ’n provinsiale hospitaal in die omgewing geneem. 

Monica veg om haar lewe in die hospitaal. Foto: Verskaf
Klein Kyle in die hospitaal. Foto: Verskaf

By die twee onderskeie hospitale het nog slegte nuus gevolg: Kyle het skedelbreke opgedoen en moet in die intensiewesorgeenheid opgeneem word en Monica is met kritieke inwendige beserings aan lewensondersteunende masjiene gekoppel. Marius het ook ernstige kopwonde en skedelbreuk opgedoen en sy regterbobeen en linkerarm is “mors afgebreek”. 

Gerda huil.

“Geen ouer behoort hul kinders so te sien nie. Dit breek jou hart. En dan wonder jy nog of hulle gaan leef ook; jy pleit by die Here vir genade. Die kinders is so jonk, hul hele lewe lê nog voor hulle. En nou dít? Wat van daai seuntjie? Hy is maar nege maande oud, hy het sy ma en pa nodig.” 

Gerda sê Monica is Woensdag na die intensiewesorgeenheid geskuif, maar is steeds aan lewensondersteunende masjiene gekoppel. Marius is ook nog in die hospitaal en moet binnekort geopereer word – veral aan die regterbobeen-breuk. Kyle is Woensdag uit die hospitaal ontslaan.

Marius Du Toit
Monica veg nou om haar lewe in die hospitaal nadat sy en haar kêrel, Marius, Maandag in ’n verwoestende ongeluk was. Foto: Verskaf

“Elke oomblik; elke uur; elke dag bring nuwe vrese,” sê Gerda. “Monica se toestand is van almal nog die swakste. Dokters sê sy lyk beter, maar ons weet steeds nie of sy gaan deurtrek nie. Ek dink sy het in haar onderbewussyn gehoor hoe Marius vir my sê hy dink Kyle is dood. Ek dink sy wou opgee; dat sy nie wou aanhou baklei as haar kind nie gaan leef nie. Daarom praat ons nou met haar, ons sê vir haar Kyle is oukei.” 

Klein Kyle. Foto: Verskaf
Klein Kyle in die hospitaal. Foto: Verskaf

Terwyl Monica se toestand nog fyn deur dokters dopgehou word, ervaar Marius “onuithoudbare pyn”, sê Gerda. 

“Hy huil verskriklik,” vertel sy. “Die stuurwiel van die motor het teen sy bors vasgeslaan. Sy regterbeen het verskriklik sleg gebreek, dokters meen ’n operasie is ál manier om sy been te red. Dit breek my om my kinders so te sien. Sy salaris is nie genoeg vir ’n mediese fonds nie – al waarvoor ons kan bid, is vir ’n wonderwerk; vir mense om hul harte teenoor ons oop te maak.” 

Die ergste, sê Gerda, was om die waarheid oor sy meisie se toestand van haar seun weg te hou. “Dit het in een stadium gelyk asof Monica dit regtig nie gaan maak nie. Haar gesondheid het net aanhou versleg. Ons kon nie die nuus met Marius deel nie; nie terwyl hy self soveel seer het nie. Maar gister, toe dit gelyk het of Monica se gesondheid weer ’n keer slegter word, móés ons hom vertel. Hy is stukkend – absoluut stukkend.” 

Terwyl die volgende paar dae nog onseker is, bly sy op haar knieë, vertel Gerda. “Al wat ek kan doen, is om vir genade te smeek; by die Here te smeek dat die kinders albei deurtrek en oukei is. Want sonder hulle . . . joeg, ek weet nie. Sonder hulle is ek niks nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe