Maar toe die teenmisdaad-aktivis Yusuf Abramjee self in die sosiale media aangevat word dat hy die wet oortree het, het dié waghond sy tande gewys.

Want Yusuf hou by die wet. En die video wat die kuberruim ingestuur is waar hy glo oor die 160 km/h in sy BMW jaag, is vals. Dit is nie hy agter daardie stuur nie, sê Yusuf.

Yusuf is so kwaad dat hy Dinsdagmiddag klagtes van crimen injuria, intimidasie en laster by die Wierdabrug-polisiekantoor in Centurion, Gauteng, aanhangig gemaak het. Want die skuldiges moet boet. Hy kan nie toelaat dat sy integriteit so swartgesmeer word nie.

En die rede vir dié swartsmeerdery? Alles omdat hy op 19 Januarie 'n video op Twitter gedeel het van 'n spoedvraat wat oor die 300 km/h op 'n Johannesburgse hoofweg gejaag het. Dié beweerde spoedvraat is die afgelope Sondag by ’n begrafnis in Limpopo vasgetrek.

Sedert Yusuf dié video gedeel het, het hy al “’n hele paar” anonieme dreigemente oor die telefoon ontvang. 

Maar gister was die gort gaar.

“Mense het gister vir my ’n video aangestuur waarin dit lyk asof ek self onlangs oor die 160 km/h gejaag het,” vertel Yusuf, duidelik ontstoke oor die jongste wending in die pogings om hom te intimideer. 

Hoewel die BMW-motor in die “vals video” soortgelyk is aan syne, verskil die registrasienommer en gaan hy nou klagte by die polisie indien sodat “die misdadigers wat my beskuldig, gevind kan word.

Yusuf Abramjee
'n Skermgreep uit die video van die "valse video" wat aanlyn rondgestuur word. Foto: Facebook.

“Ek dink die misdadige spoedvrate en hul aanhangers is kwaad omdat ek hulle in die sosiale media ontbloot en dus probeer hulle my geloofwaardigheid aantas,” verduidelik hy. 

Benewens die klagte wat Yusuf by die polisie gaan maak, wil hy ook die mense wat die video opgeneem het, persoonlik dagvaar wanneer hulle opgespoor word.

Yusuf, wat gereeld artikels, foto’s en beeldmateriaal oor misdaad in die sosiale media deel, sê hy gaan nie nou laat slap lê nie.

“Dit is ’n ernstige saak. Ek sal nie geïntimideer of afgeskrik word nie. Ek sal aanhou om misdadigers te ontbloot, maak nie saak wat nie,” sê Yusuf ferm. “Misdadigers moet besef dat hulle nie mense of die land kan afpers nie. Ons kan hulle nie hul sin gee nie.”

Dit is vir Yusuf veral belangrik dat die klagte nie net as waarskuwing vir misdadigers en hul aanhangers dien nie, maar dat daar ook strafregtelik teenoor hulle opgetree word. 

“Ons kan nie vir misdadigers hul sin gee nie; ons sal nie geïntimideer word nie. Ek voel nou selfs meer vasbeslote om misdadigers aanlyn te ontbloot sodat dit dalk die polisie kan help om hulle in hegtenis te neem,” vertel Yusuf.

“Misdadigers moet ’n les geleer word en my persoonlike veiligheid en integriteit is belangrik. Daarom moet ek stappe teen dié misdadigers doen,” sê hy.