Die verliefde Gautengse paartjie was in die wolke toe hul dogtertjie in 2019 gebore is. Alles was perfek, nes hulle gedroom het.

Die dosent Maria Romano* en haar lewensmaat, die verpleegkundige Busi Ndlovu*, se reis na ouerskap het vier jaar gelede begin, maar hulle het gou besluit die gewone roete van anonieme skenkers en vrugbaarheidsklinieke is te kil en onpersoonlik vir hulle.

Die gay paartjie het hulle gewend tot ’n webtuiste wat voornemende medeouers en spermskenkers aan mekaar voorstel.

Maria en Busi beweer John het ’n ander agenda gehad toe hy ingestem het om as skenker op te tree.

Toe die vroue die gay IT-spesialis John Kabe* ontmoet, het hulle ­dadelik van hom gehou, en ’n ooreenkoms het gevolg.
Maria sou die baba dra, en danksy haar kwalifikasies sou Busi self die kunsmatige inseminasie tuis doen. Dit het agt maande geduur voor die proses suksesvol was, maar in 2019 is klein Lisa* eindelik gebore.

Aanvanklik het alles goed verloop. John, wat ondersteunend was tydens die swangerskap, het dikwels vir die baba kom kuier.

Maar toe kom die eerste uitval tussen die paartjie en John oor klein Lisa . . . en nou het die saak al in die hooggeregshof in Johannesburg beland.

Maria en Busi beweer John het ’n ander agenda gehad toe hy ingestem het om as skenker op te tree.

Hulle sê voorts hy het eers ná Lisa se geboorte op ouerlike regte begin aanspraak maak – en dat hy Lisa as “rook­skerm” wil gebruik om te verhoed dat sy eie familie uitvind hy is gay.

Ons wou ’n vriend­skap vestig en nie soos vreemdelinge wees wat net aanlyn ontmoet het nie.

“Ons was op soek na iemand wat nie aktief betrokke sou raak by die grootmaak van ons kind nie,” vertel Maria in ’n video-onderhoud aan Huisgenoot.

Busi sit langs haar op die rusbank, en die woelige klein Lisa, in ’n heldergeel rokkie, klouter van die een skoot na die ander.

“Ons het daartoe ingestem dat hy die kind mag ken, soms mag sien en dat sy sy familie mag ontmoet. Ons wou ’n vriend­skap vestig en nie soos vreemdelinge wees wat net aanlyn ontmoet het nie.”

Maar later, by ’n koffiekroeg in Johannesburg, sê John op sy beurt: “My profiel was duidelik. Ek wou ’n medeouer wees.” Langs hom op die tafel is ’n lêer vol hofstukke en afdrukke van Whats­App-gesprekke tussen hom en die paartjie.

John erken die paartjie het met hul destydse ontmoeting gesê hulle soek na ’n skenker wat nie “te betrokke” is nie.

“Maar dis ’n baie breë term,” sê hy nou.

Wat van sy beweerde agenda?

“Ek is ’n gay man, en ek het dit in my hofstukke geopenbaar. Hoe ek dit met my familie hanteer, het niks met hulle uit te waai nie en is nie relevant nie,” sê John.

Ek het gedink dit kan nie so sleg wees as ’n kind twee mense het wat vir haar lief is en haar versorg en beskerm nie.

“Ek wou net so graag soos hulle ’n kind hê.”

Maria woon en doseer al ’n paar jaar lank in Suid-Afrika. Om haar kind se identiteit te beskerm, wil sy nie meer verklap nie.

Sy het Busi vier jaar gelede danksy ’n afspraakwebtuiste ontmoet. “Ons het dadelik gekliek. Busi is kunstig, intelligent en sensitief. Haar Zoeloekultuur fassineer my.”

Maria, wat uit ’n hegte gesin kom, wou nog altyd ’n ma wees. Busi het voorheen nooit regtig oor ouerskap gedink nie, maar haar verhouding met Maria het dinge verander.

“Ek het gedink dit kan nie so sleg wees as ’n kind twee mense het wat vir haar lief is en haar versorg en beskerm nie,” vertel Busi.

John word as die pa op Lisa se geboortesertifikaat aangedui; hy het haar selfs op sy mediese fonds laat aanbring en het ’n jaar lank die helfte van haar dagsorg betaal.

Hulle het egter gou besluit dat die proses rondom ’n anonieme spermskenker te klinies is. “Ons wou ’n meer intieme benadering volg,” vertel Maria.

John het as ’n “ordentlike, intelligente ou” oorgekom. En hulle het daarvan gehou dat hy, soos Busi, die Zoeloekultuur met die kind sou deel.

’n Mondelinge ooreenkoms sonder regsadvies is tussen die vroue en John ­gesluit.

Die gesprek en proses het agt maande geduur, maar teen middel 2018 was ­Maria swanger. Aan Huisgenoot vertel John hy het saam met die verwagtende paartjie babagoed gaan koop en van ­Maria se sonarskanderings bygewoon.

Hy was selfs daar die dag met Lisa se geboorte. Maria was 10 uur in kraam voor sy ’n noodkeisersnee moes ondergaan.
John word as die pa op Lisa se geboortesertifikaat aangedui; hy het haar selfs op sy mediese fonds laat aanbring en het ’n jaar lank die helfte van haar dagsorg betaal, sê hy.

“Sou ’n gewone ‘sperm­skenker’ dit alles doen?”

Volgens John het hy ’n goeie verstandhouding met die paartjie gehad voor ­dinge in Augustus 2019 versuur het.

Ss die geregistreerde pa het John geweier om die reisdokumente vir Lisa te onderteken.

Op haar beurt verduidelik Maria: “Ná Lisa se geboorte het John dikwels kom kuier. As ’n paartjie het ons nog ’n roetine met ons pasgebore baba probeer vestig, en ek was nog besig om van die keiser­snee te herstel.”

Hulle het aan John gesê hy kan nie by hulle aankom net wanneer hy wil nie. Hulle is die ouers; hy die skenker.

“Die gesprek het nie goed afgeloop nie,” vertel sy.

Daarop sê John: “Dit het seergemaak.” Hy het Lisa nog nie weer gesien nie.

In Desember 2019 wou die vroue hul baba oorsee neem om Maria se familie te ontmoet. Maar as die geregistreerde pa het John geweier om die reisdokumente vir Lisa te onderteken.

“Volgens hulle is ek net die sperm­skenker, maar hier moet ek nou as die pa teken?”

Ek kon nie my ouers sien nie. Dit is baie hartseer. Ons dogter moet haar grootouers deur ’n WhatsApp-video leer ken.

In November 2019 het die vroue die hooggeregshof in Johannesburg gevra om te gelas dat John redes verskaf vir sy weiering om die reisdokumente te teken en dat die hof hom as sperm­skenker sonder ouerlike regte en verantwoordelikhede verklaar.

Die hof het gelas ’n familieadvokaat moet eers die kwessie van John se ouer­skapsregte ondersoek en binne 60 dae sy bevinding by die hof indien voor ’n bevel oor die reisdokumente uitgereik word.

Dus sou dit onmoontlik wees om daardie Desember al na Maria se tuisland te vlieg.

“Toe breek die pandemie aan. Ek kon nie my ouers sien nie. Dit is baie hartseer. Ons dogter moet haar grootouers deur ’n WhatsApp-video leer ken,” vertel ­Maria.

‘Sy moes haar grootouers deur ’n Whats­App-­video
‘Sy moes haar grootouers deur ’n Whats­App-­video leer ken’. Foto: Verskaf

Boonop het die familieadvokaat toe bevind John is wel daarop geregtig om as pa erken te word. Die vroue betwis dit nou, en die saak sal na verwagting later vanjaar voor die hooggeregshof kom.

“Ons droom het in ’n nagmerrie ontaard. Ons is die twee mense, die ouerpaar, wat na haar omsien en vir haar sorg. Ons sal nie tou opgooi nie,” sê Maria en Busi aan die einde van ons video-­onderhoud.

Maar in die koffiekroeg is John ewe vasbeslote.

“Ek sal die saak teenstaan sodat ek eendag aan my dogter kan verduidelik ek het vir haar geveg. Watter ‘spermskenker’ sal dit doen?”

* Skuilname.
Spermskenking en vaderskap: Wat sê die reg?

Robynne Friedman, ’n vrugbaarheidsprokureur van Johannesburg, sê ingevolge die Suid-­Afrikaanse reg is hierdie geval ’n baie ingewikkelde een.

“Die beste scenario is om iemand te kies waarna ons in ons wet as ’n ‘anonieme spermskenker’ verwys, met absoluut geen inligting om die skenker te identifiseer nie. Die skenker betree die proses suiwer om mense te help wat nie kinders kan kry nie, en hy sal uit die staanspoor ook nie aanspraak op ouerlike regte maak nie.”

“Die tweede soort skenker is bekend as ’n ‘bekende spermskenker’, wat ook wettig in ons land is, maar dit sal die scenario aansienlik verander.”

Robynne raai mense aan om ’n betrou­bare vrugbaarheidskliniek te gebruik eerder as webtuistes, asook om vooraf ’n vrugbaarheids­prokureur te raadpleeg en met kenners se hulp ’n omvattende sperm­skenkers­ooreenkoms op te stel.
Maar al is daar ’n waterdigte ooreenkoms met ’n bekende spermskenker in plek, en die skenker vestig ’n verhouding met die kind, is daar steeds ’n kans dat die skenker ouerlike regte kan eis.

“Die oomblik dat jy ’n patroon vestig vir die skenker om te kom kuier, ’n verhouding te bou of die kind finansieel te ondersteun, kan die skenker ’n aansoek by die hof bring om ouerlike reg te eis.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe