Die Ticketpro Dome het sy deure gesluit.
Die Ticketpro Dome het sy deure gesluit.

Maar dit is al wat dit nou is: herinneringe. Die immergewilde arena se verhoog is nou stil nadat hulle aangekondig het hulle sluit hul deure.  

“Dit is besonder teleurstellend en hartverskeurend vir ons bedryf. Die Ticketpro Dome was die tuiste van talle internasionale konserte in Suid-Afrika en laat ’n groot leemte,” sê Carol Weaving, besturende direkteur van RX Africa, wat die Dome bestuur. 

Sy sê die pandemie en die verbod op massabyeenkomste het sy tol geëis en hulle het geen ander keuse gehad nie. 

“Die konstante veranderings en covid-19-regulasies het groot skade aangerig. Dit was die laaste spyker in die doodskis.” 

Die Dome het op 8 April 1998 met ’n konsert deur Diana Ross geopen. Meer as 15 000 mense het dit bygewoon. Wyle oudpres. Nelson Mandela was een van die eregaste. 

Deur die jare het talle internasionale sangers en groepe in die Dome opgetree soos Katy Perry, Pink, Lionel Richie, Lauren Hill, Pharrell Williams, Celine Dion en Michael Bublé.

Dit was ook die tuiste van talle plaaslike kunstenaars soos Prime Circle, The Parlotones, Lira, Black Coffee en die Soweto Gospel Choir. Die rapper Cassper Nyovest was die eerste plaaslike kunstenaar wat die Dome uitverkoop het met oor die 20 000 kaartjies. 

“Ons wil graag al ons ondersteuners en vennote bedank vir hul ondersteuning oor die afgelope 20 jaar,” sê Carol. 

Die oorhandiging van die Dome aan die nuwe eienaar sal op 7 September gebeur. Dit is nog nie duidelik wat die nuwe eienaar se plan met die Dome is nie. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe