Die glimlag van die jong man wat voor my sit, verbloem nie die hartseer in sy oë nie. Want op 21 jaar oud, met ’n lewe wat wink, het Wade Barkhuizen albei sy ouers verloor.

Binne die imposante gebou van die hooggeregshof in Johannesburg is Wade se pa, George (50), pas vir lewenslank tronk toe gestuur vir die koelbloedige moord op Wade se ma, die aantreklike, familievaste Odette (41).

Sy pa se vonnisoplegging kom ná ’n uitmergelende en emosionele wipwarit nadat Wade in 2015 begin vermoed het dis sy pa – en nie motorkapers nie – wat sy ma in die oprit van hul Johannesburgse onderneming doodgeskiet het.

Wade knyp-knyp met sy vingers aan die oor van sy koffiebeker terwyl hy vandag eksklusief met ons praat oor die verlies van sy ma en hoe sy pa se vreemde gedrag ná haar dood hom en sy ma se familie snuf in die neus laat ?kry het.

“Dit voel of ’n groot las van my skouers af is,” sê hy oor sy pa se moordverhoor wat ná vier jaar eindelik afgehandel is. ’n Glimlag van verligting pluk-pluk aan sy mondhoeke.

Langs hom aan tafel beaam Odette se pa, Stan Immelman (72): “Nou kan ons daardie botteltjie se prop styf toemaak, dit in die see gooi en daarvan vergeet. Ook Odette se ma, Pam (70), en broers, Stan jr. (43) en Shane (37), was vandag in die hof om geregtigheid te sien geskied.

Odette se pa, Stan, en ma, Pam, sê hulle is verli
Odette se pa, Stan, en ma, Pam, sê hulle is verlig dat hulle nou die aaklige hoofstuk in hul lewe kan toemaak en afsluiting kan kry. Foto: Fani Mahuntsi

Dan kwyn Wade se glimlag. Die man wat kort tevore uit die hof weggeneem is om sy vonnis te begin uitdien, die man wat sy ma vir miljoene rande se lewensversekering vermoor het, was vir hom soos ’n vreemdeling.

“Dit voel of al my herinnerings van my pa vals was. Ek sou nooit kon dink hy is tot so iets in staat nie.

“Hy’t my en my hele familie die steunpilaar in ons familie ontneem. My ma was die spil waarom alles gedraai het. Sy was die een wat Kersetes en verjaardagpartytjies gereël het,” sê hy.

“Ons probeer steeds haar tradisies voortsit. Maar dit sal nooit weer dieselfde wees sonder haar nie. Elke jaar is haar plek aan die tafel leeg.”

Dit was 11 Junie 2015 toe Odette wreed uit haar geliefdes se lewens geruk is.

Stan vertel hy het die oggend in die tuin van sy huis in Oakdene, Johannesburg, langs die huis van sy dogter en haar gesin, gewerk en wou ’n uiltjie knip toe sy foon lui. “Ek sal nooit aan iemand kan verduidelik hoe daardie oproep was nie. Dis die oproep wat enigiemand vrees; die een wat jy nooit wil ontvang nie.”

Dit was van een van die werkers by die Barkhuizens se onderneming wat motorruite herstel. Sy woorde het Stan se bloed laat stol: Odette is geskiet. Dit lyk soos kapers . . .

“Ek het nie geweet of my dogter nog lewe nie. Ek het dadelik gehardloop om Wade te gaan haal,” vertel Stan.

Wade was nog in die bed toe sy oupa inbars en sê hulle moet dadelik ry; sy ma is geskiet. Sy ouboet, Warwick (27), wat serebraal gestrem is, het tuisgebly. “Die firma is net om die draai, maar dit was die langste rit van my lewe,” vertel Wade.

Toe hulle daar aankom, sien hulle die polisiesperstroke en die bondeltjie onder ’n kombers. “Ek moes die kombers oplig om te sien of dit my kind is,” vertel Stan. “En dit was . . . Dit was Odette.”

Sy was reeds dood nadat sy in die kop en bors geskiet is. En eenkant, tussen die polisiebeamptes en Odette se ander familielede wat begin opdaag het, het haar man, George, gestaan.

Kort ná die moord het familie en vriende van Odett
Kort ná die moord het familie en vriende van Odette hulde gebring en op die toneel blomme neergesit. Foto verskaf

“Hy het die een ná die ander kalmeerpil gesluk,” onthou Shane. “Hy het vir ons almal pille aangebied. Maar dit het nie gelyk of hy enigsins geskok was nie.”

Net daar op die toneel het dinge vir Wade begin vreemd raak toe sy pa na hom toe stap. “Hy het vir my gesê ons probleme is nou verby.”

Daardie aand ná die moord het dinge ál vreemder geraak.

“Ons almal het verslae in die leefvertrek gesit en nie ’n woord vir mekaar gesê nie,” onthou Wade. “Maar in die kombuis het my pa gefluit terwyl hy skottelgoed was.”

Later, toe die res van die familie huis toe is, het George skielik met sy seuns oor emigrasie begin praat.

“Hy het vir my en my broer gesê ons moet Nieu-Seeland toe trek,” vertel Wade.

Ook Odette se ouers en sibbes het vermoed daar is groot fout.

Stan jr. vertel hy het op die moordtoneel ’n gesprek tussen twee polisiebeamptes gehoor: “Hulle het vir mekaar gesê hulle dink nie dit was ’n ­kaping nie. Ek en ­Shane het begin bespiegel dat dit George was. Dit het immers nie goed gegaan met hul huwelik nie.”

George en Odette was 24 jaar getroud, maar in die twee jaar voor haar dood was hulle van bed en tafel geskei.

“My pa het voor my ma se dood ál meer terug­getrokke geraak,” beaam Wade.

“Hy het hom by familie­byeenkomste onttrek. Ons het begin besef iets is nie reg nie; ons het gedink dis sy huweliks- en finansiële probleme wat hom kwel.”

Op 8 September 2015, byna drie maande ná die moord op Odette, is George in hegtenis geneem – dieselfde George wat op die moordtoneel gesweer het hy “sal nie rus tot die bliksems gevang is nie”.

Hy is van moord, bedrog en die on­wettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie aangekla.

Tydens die hofsaak het Odette se geliefdes gehoor wat hulle heimlik reeds vermoed het: George het sy vrou in die kop en bors geskiet en met haar motor weggejaag. In die hof is getuig dat hy R8 miljoen se lewensversekering op Odette uitgeneem het.

Odette se man, ­George, is vir lewenslank tronk to
Odette se man, ­George, is vir lewenslank tronk toe gestuur vir haar moord. Foto: Gallo Images/Sunday Times/Simphiwe Nkwali

“Die moord was geldelik gemotiveerd,” vertel Stan.

“Hy was op ’n slippery slope. Sy huwelik was daarmee heen.

“Odette wou skei en hul onderneming het finansieel swaargekry. Hy het nie geld gehad nie.”

Regter Ramarumo Monama het George op 27 September vir lewenslank tronk toe gestuur weens Odette se moord.
Hy het nog 15 jaar tronkstraf gekry vir skuldigbevindings op drie bedrogklagte.

En oplaas was Wade en sy ma se familie gereed om oor hul donker vermoedens te praat.

As kind het hy ’n goeie verhouding met sy pa gehad, sê Wade.

“Ons het baie dinge saam gedoen, soos om met vakansies in die see te swem of vis te vang.”

Maar in sy tienerjare het hy baie meer geheg aan sy ma geraak as aan sy pa.

“Sy was my alles. Sy was my beste vriend. Ek het in ’n stadium tuisonderrig ontvang, en wie wil nou nie sy beste vriend as sy onderwyser hê nie?”

Volgens Pam was haar dogter vol ­lewenslus.

“Die kinders in ons familie was mal oor haar. Hulle het dadelik na Odette gehardloop, en sy het nie geskroom om vir hulle roomys te koop of saam met hulle te speel nie.

“Odette laat ’n groot leemte in ons familie.”
 
Ook Odette se vele vriendinne het die hofsaak getrou bygewoon en in die so­siale media geregtigheid bepleit.

Wade sê: “Ek weet nie of ek ooit my pa sal kan vergewe nie. Ek het in die hof teen hom getuig en tot vandag toe het hy geen berou getoon nie . . .

“Hy het ’n hele familie in hartseer gedompel. Die grootste stem in ons familie is nou stil.”

FOTO'S: FANI MAHUNTSI, GALLO IMAGES/SUNDAY TIMES/SIMPHIWE NKWALI, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.