Veronisha Adams
Veronisha Adams van Johannesburg gebruik nou haar eie gesig op die vermiste persoon-plakkate wat versprei word in die hoop om haar tweelingsus, Veronique, 32 jaar ná haar verdwyning op te spoor. Foto: Verskaf

Dit voel aardig om haar eie gesig op vermiste persone-pamflette te sien pryk, maar dis dalk die enigste manier om haar identiese tweelingsus op te spoor byna 32 jaar nadat sy vermis geraak het, sê ’n vrou van Johannesburg.

Dis vir die familie swaar om te aanvaar dat meer as drie dekades al verloop het sedert Veronique Adams op 6 Maart 1989 verdwyn het, sê Veronisha Adams, haar suster.

Veronique was 11 maande oud toe sy na bewering deur haar oppasser in Eldorado Park in Gauteng ontvoer is. Jare se soektogte na haar het geen vrugte afgewerp nie.

“Jy sou dink dat ’n mens ná al die jare berusting gevind het of aanbeweeg het, maar die teendeel is waar. Elke dag is swaar. Almal mis haar verskriklik baie en ons hoop dat ons eendag met haar herenig sal kan word,” sê Veronisha Maandag aan Huisgenoot.

Veronisha Adams
Klein Veronisha en Veronique Adams kort voordat Veronique in Maart 1989 na bewering deur haar oppasser ontvoer is. Foto: Verskaf

Veronisha het nou ’n hernude poging in die soektog na haar suster aangewend – deur haar eie gesig te gebruik op die vermiste persone-plakkate wat in haar sussie se naam versprei word. 

“Ons het nog nooit ophou soek na my suster nie, maar ons het gereken dit kon nie kwaad doen deur my eie gesig op die plakkate en pamflette te gebruik nie. Ons is identiese tweelinge en sy sou waarskynlik vandag steeds baie soos ek lyk,” verduidelik sy.

Veronisha sê haar ma, Junice Adams, is gebroke sedert Veronique se verdwyning. Junice het destyds ’n oppasser aangestel om na die tweeling en hul ouer suster om te sien terwyl sy werk. “My oom het die gewoonte gehad om in die middae ná werk eers ’n draai by ons huis te kom maak voor hy self huis toe is. Op die dag van Veronique se verdwyning het hy juis dit gedoen, maar hy het my en my vyfjarige suster alleen tuis aangetref – die oppasser en my sussie was skoonveld,” vertel sy.

Veronisha Adams
Veronisha en Veronique saam met hul ousus in 1989. Foto: Verskaf

In die jare sedertdien was daar vele leidrade, vertel Veronisha. Die familie het selfs ’n paar keer DNS-toetse laat doen, maar vergeefs. 

“Die laaste keer het ’n vrou van Durban met ons kontak gemaak. Sy was nie seker wie haar familie is nie en het nogal na my gelyk, maar die DNS-toetse het bevestig sy is nie my suster nie. Dit het ons harte gebreek,” vertel sy.

Dit was Veronisha se pa, Jacobus, se grootste droom om sy dogter eendag in lewende lywe te sien, vertel sy. Maar dié droom is saam met hom graf toe in 2004. 

“Mense vra ons hoekom ons nie met ons lewens aangaan nie, maar dis nie so eenvoudig nie,” sê Veronisha. “Dis nie asof sy dood is en ons blomme by haar graf kan neerlê nie. Niemand van ons weet waar sy is nie, ons weet nie eens of sy leef nie. Wanneer jy saans eet, wonder jy of sy kos het. Wanneer jy gaan slaap, wonder jy of sy ’n dak oor haar kop het. Dit maak jou mal.” 

Veronisha Adams
Só lyk die vermiste persone-plakkaat waarop Veronisha haar eie gesig gebruik in die hoop om haar tweelingsuster op te spoor. Foto: Verskaf

Sy sê haar grootste hoop is dat haar ma sal leef wanneer Veronique gevind word. Daarom hoop sy haar hernude poging in die soektog na haar suster werp hierdie keer vrugte af.

“Dit sal die grootste seën wees om te kan toekyk hoe sy en my ma mekaar omhels . . . Daarom baklei ons so hard in die soektog na haar. Of ons suksesvol gaan wees, weet niemand nie. Maar ons gaan beslis nie net terugsit en aanvaar dat ons haar nooit weer gaan sien nie.” 

Lede van die publiek met inligting oor waar Veronique haarself bevind, kan Missing Children SA kontak by 072-647-7464. 

‘Geen dossier’ 

Kol. Brenda Muridili, ’n nasionale polisiewoordvoerder, sê die polisie het vrugteloos gesoek na ’n saaknommer en die vermiste persone-dossier met betrekking tot Veronique se verdwyning. Volgens haar kon die polisie se afdeling wat met vermiste persone-sake werk geen inligting oor die saak bekom nie. Muridili het Huisgenoot by verdere navraag na die Gautengse polisie verwys, maar Huisgenoot wag op terugvoer van die provinsiale polisie.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe