Sy smeek alle Suid-Arikaners om sosiale interaksies te verminder om die verspreiding van die coronavirus COVID-19 te bekamp deur by die huis te bly.

Tharina, wat oorspronklik van Roodepoort in Gauteng  is, sê sy wou aanvaanklik nie enigiets oor die virus sê nie, maar noudat die hoeveelheid Suid-Afrikaners wat positief daarvoor toets, styg kan sy nie meer stilbly nie. “Dis veral omdat dit in die area is waar my ouers en familie woon.”

Sy werk al die afgelope ses jaar op skepe in Amerika en dis hier waar sy haar man ontmoet het.

“Ek het in Oktober verlede jaar bedank om ’n lewe op land te begin. My man werk steeds op die skepe, maar kan weens die noodmaatreëls nie nou werk nie,” vertel sy aan Huisgenoot.

Al is sy nie iemand wat paniek saai nie, wil Tharina almal vra om tuis te bly.

“Ek sien nog te veel mense wat bymekaarkom om te braai. Al is dit wat ek die meeste mis van Suid-Afrika.”

Volgens haar is Italië in drie weke heeltemal op sy kop gedraai en is hulle al op dag sewe van self-isolasie.

“Hoe minder jy met mense kontak maak, hoe beter is jou kanse dat jy nie die virus sal kry nie.”

Wat Italië betref, het  die meeste mense wat die virus kry of gekry het eers ’n hele rukkie ná die tyd agtergekom hulle het dit.

tharina drago,corona,italië
'n Boodskap wat lui: "Alles sal weer okay wees en Suid-Afrika staan by jou," is op hul voordeur geplak om hul bystand vir Italië en Suid-Afrika te wys. Foto: Verskaf

“As mense nie weet hulle het die virus nie, gaan dieselfde in Suid-Afrika gebeur as by ons. Ons het gedink dit kan nie met ons gebeur nie en kyk waar is ons nou,” sê sy.

“Ná die noodbevel om tuis te bly het Italianers baie goed saamgewerk om die reëls na te kom. Al is dit nie lekker om dag in en dag uit by die huis te sit nie, haal ek my hoed af vir Italianers wat so positief bly.”

Tharina meen ook die groot aankope van kos is heeltemal onnodig in Suid-Afrika.

“Hulle sal die koswinkels vir julle oop hou as julle in kwarantyn geplaas word.”

Sy en haar man gaan net een keer per week of al om die ander week uit vir inkopies. Die res van die tyd bly hulle by die huis.

“Daar was aan die begin mense wat uit paniek groot aankope van kos gedoen het, maar dis glad nie meer die geval nie. Hulle hou al die koswinkels en apteke vir ons oop solank ons die reëls volg,” sê sy.

“Hier is al meer as 2 500 mense in Italië dood. Dis meer mense as wat jy ken. Bly by die huis en moenie dink dit kan nie met jou gebeur nie. Ek bid vir julle, Suid-Afrika. Ons almal doen dit.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.