Anette Ogden van Meyerton, Gauteng, versamel en re
Anette Ogden van Meyerton, Gauteng, versamel en restoureer al drie jaar lank poppe. Foto: Verskaf

Geld was skaars toe Anette Ogden groot­geword het. Al het sy daarna gesmag om met ’n poppie van haar eie te speel, moes sy daarmee tevrede wees om met haar niggie se Barbies te speel wanneer dié kom kuier het.

Vermoedelik het die klein meisie toe al vir haarself gesê sy sal eendag al die poppe besit wat haar hart begeer.

En kyk nou net.

Deesdae spog Anette (63) met meer as 400 poppe wat in drie Wendyhuise in haar agterplaas op Meyerton in Gauteng woon. Haar versameling sluit in Barbies, lappoppe, poppe van papiermaché en ’n baie duur “Reborn”-pop wat soos ’n regte pasgebore baba lyk.

Mense noem haar die “poppetannie”.

Dit het haar nie lank geneem om dié versameling bymekaar te maak nie. “Ek het eers ná 60 poppe begin versamel toe ek ontdek dis my passie in die lewe. Ek sê vir mense dis in die haak as ek nou sou sterf, want ek het drie jaar lank gedoen wat ek wou.”

Haar stokperdjie het in 2018 begin toe sy beskadigde ou poppe begin restoureer en besef het sy is gek daaroor. “Ek het myself voorheen nooit as ’n kreatiewe mens beskou nie, maar ’n mens kan met behulp van die internet enigiets leer.”

Deesdae is sy so lief vir haar poppe dat sy hulle selfs op uitstappies neem. “Ek sit een of twee van die groot meisies in my kar, maak hulle met ’n sitplekgordel vas en neem hulle saam dorp toe.

“Ek het al die klein seuntjiepoppe na die renbaan geneem en foto’s van hulle geneem,” sê Anette, ’n voormalige administratiewe klerk by die departement van gesondheid.

Die ma van drie en ouma trek haar poppe vir spesiale geleenthede aan. “In die somer trek ek vir hulle somerrokkies aan en hulle hou op die gras langs my swembad piekniek. Paasfees kry hulle Paaseiers en ’n klein geskenkboksie.”

Anette brei al jare lank kindermussies, truie en sokkies vir liefdadigheidsorganisasies. In 2018 het sy besluit sy benodig ’n pop so groot soos ’n kind sodat die pop haar breiwerk kon aanpas.

Sy het allerhande temas vir haar poppe om haar med
Sy het allerhande temas vir haar poppe om haar medepopgeesdriftiges mee te vermaak. Foto: Verskaf

Sy het in die sosiale media begin rondvra. “ ’n Vrou van die Oos-Rand het my ’n hele spul poppe gratis aangebied. Ek was dankbaar, maar nie een van haar poppe was so groot soos ’n kind nie.

“Iemand anders het vir my ’n klomp porseleinpoppe aangebied. Daar was twee lekker grotes onder hulle, maar ook hulle was ongelukkig nie groot genoeg nie, en ek was bang hulle sou beskadig word deur die ge­durige hantering tydens die aanpassessies. Ek het toe meer as 40 poppe gehad, maar steeds nie wat ek benodig het nie,” vertel sy.

Anette het eindelik ’n pop so groot soos ’n driejarige gekry wat die perfekte grootte was.

En toe gebeur dit.

Terwyl sy die aanpaspop skoonmaak en aanmekaarstik, het iets binne haar gekliek – dit was heerlike werk.

Sy het nog advertensies vir poppe in die sosiale media begin plaas. Sy het ook by popversamelaarsgroepe op Facebook aangesluit. Meteens was dit net poppe waar jy kyk.

“Ek het sowat 400 poppe, wat my Barbie-­poppe insluit. As ek nog die poppe gehad het wat ek al weggegee of verkoop het, sou my versameling op 500 gestaan het.”

 ’n Gerestoureerde pop. Foto: Verskaf
’n Gerestoureerde pop. Foto: Verskaf

Om ’n pop te restoureer kan tussen een en vyf uur neem, sê Anette. Die langste wat sy aan ’n enkele pop gewerk het, was 10 uur toe sy ’n pop se hare verwyder en noukeurig nuwe hare vasgewerk het.

“Party poppe, soos die lappoppe met ’n rubberkop, neem ’n uur om skoon te maak. Ek haal die opstopsel uit en gooi dit weg of vervang dit, afhangend van of dit skoon is of nie.

“Ek was die lyfie met seep en water. Terwyl dit op die wasgoedlyn droog word, haal ek die kop af en was die pop se hare en gesig. Wanneer die lyfie droog is, sit ek die opstopsel terug en heg weer die kop vas.”

Anette laat graag haar poppe se hare doen sodra hu
Anette laat graag haar poppe se hare doen sodra hulle opgeknap is. Foto: Verskaf

En hoeveel kos die stokperdjie haar?

“Wil jy hê ek en my man moet skei?” lag Anette.

Haar man, Henry (65), is ook lief vir versamel – hy gaar voëls en afstand­beheerde karre op.

“Ek het oor die jare duisende rande bestee om die poppe aan te trek. Maar my man bestee weer duisende aan sy voël- en karversameling, so hy kan nie oor my poppe kla nie.”

Maar eintlik geniet Henry sy vrou se nuwe stokperdjie. Hy help haar selfs met herstelwerk.

“My man is heeltemal oukei daarmee, want soos hy sê, hulle skree nie, hulle huil nie, hulle val jou nie lastig vir enig­iets nie en hulle kan jou nie snags wakker hou nie.”

Haar kinders is skeptieser oor haar nuwe kroos.

Dié ma en ouma het meer as 400 poppe en bêre haar
Dié ma en ouma het meer as 400 poppe en bêre haar indrukwekkende versameling in drie Wendyhuise. Foto: Verskaf

“Hulle dink dis ’n bietjie vreemd. My enigste kleindogter het met hoërskool begin toe ek begin versamel het. Sy het vir my gesê: ‘Ouma, hoekom het jy so laat daarmee begin?’ ”

Anette koop of kry gereeld ou poppe – soms wat sy kan hou en ander kere poppe wat sy vir hul eienaars moet herstel. Sy het baie ruimte vir al dié werk; daarom verkoop sy soms poppe om vir nuwes plek te maak. Sy vra tot R700 vir ’n pop.

Sy het ’n Wendyhuis gekoop om die poppe te bêre sodat hulle nie die huis oorvat nie.

“Ek het met een Wendyhuis begin, maar dit het vinnig vol geraak omdat ek dit nie kon gebruik vir bergplek én herstelwerk én uitstalling nie. Nou het ek drie Wendyhuise. Ek gebruik een om die poppe in glaskaste uit te stal. Die ander is die ateljee waar ek werk en my foto’s neem, en die derde een is my bergplek.

“Ek dink nie my man gaan ’n vierde Wendyhuis toelaat nie.”

Anette sê haar gunstelingpop is hierdie looppop om
Anette sê haar gunstelingpop is hierdie looppop omdat dit kinderlike gelaatstrekke het. Foto: Verskaf

Haar duurste pop is die Reborn-pop wat Henry in 2019 vir haar gekoop het. Die pop is ’n realistiese uitbeelding van ’n pasgebore baba en kos R3 200.

Haar gunstelingpop is ’n ander een, wat toevallig ook die oudste pop in haar ver­sameling is.

“Dis byna 100 jaar oud en ’n bejaarde vrou van Vereeniging wat getrek het en moes afskaal, het dit vir my gegee.

“Ek dink sy het gesê haar pa het die pop uit Spanje gebring. Dis gemaak van papiermaché en saagsels en ek moes dit na ’n poppehospitaal vir herstelwerk stuur.”

En wie gaan eendag al die poppe erf? Anette sê dis ’n moeilike besluit.

“Dis ingewikkeld. Ek het al baie daaroor gedink. Ek sal ’n familielid vra om dit tussen my vriendinne te verdeel wat van poppe hou.

“Die ding met poppe is dat dit ’n baie emosionele ding is. Vir een mens is daardie ou pop in die motorhuis net ’n ou speelding, maar vir ’n ander persoon bring dit baie herinnerings terug.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe