Candice Hamman (36) en Carel Janse van Vuuren (37) het vroeër vanjaar gesien hul seun, Owen van Vuuren, het met ’n skeel linkeroog wakker geword. 

Candice sê hulle was besorg en het hom vir oogtoetse gevat en dit het bevestig hy moet ’n bril kry.

Terwyl hulle vir hul seun se nuwe bril gewag het, het Owen se ouers begin opmerk sy balans gaan agteruit en hy kry geweldige gemoedskommelinge. 

Owen
Owen Foto: Verskaf

Die bekommerde ouers het hom na ses verskillende dokters geneem wat almal ’n oopruimte letsel of gat in sy breinweefsel vermoed het. 

Die dokters het die ouers aangeraai om ’n CT-skanderng te laat doen, maar hulle het gesukkel om die jong seun te kalmeer.

In dié tyd is die nasionale inperking weens die coronaviruspandemie ingestel en Candice en Carel is aangeraai om van hospitale weg te bly uit vrees dat hulle covid-19 opdoen. 

Ná 'n ellelange gesukkel, en nadat die inperkingsmaatreëls tot vlak 4 verlaag is, kon hulle eindelik ’n CT-skandering by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg laat doen. 

Owen is toe na die Nelson Mandela-kinderhospitaal oorgeplaas. Daar het hy ’n MRI-skandering ondergaan en sy ouers die skokkende diagnose gekry. 

Owen en sy boetie en ma
Owen by sy ma en boetie. Foto: Verskaf

Owen het ’n seldsame aggressiewe breingewas bekend as verspreide intrinsieke brugglioom (VIBG).

“Niks ter wêreld kan jou as ouer op dié diagnose voorberei nie,” sê Candice.

“Om te probeer verwoord hoe ek gevoel het toe ek uitgevind het, is ’n kombinasie van so baie gevoelens. Dis erger as verslaentheid. 

“Ons het gehoor dit is die ergste van die ergste. Jy hoor dié soort goed gebeur met ander mense, maar dink nooit dit kan met jou gebeur nie.” 

Owen het bestraling begin kry en Candice het gehoor dit sou net vir ’n ruk werk. 

“Owen het sy dae – party goed en ander waar ons voel ons is weer terug by die beginpunt. 

“Hy het ernstige gemoedskommelinge en raak toenemend gefrustreerd wanneer mense hom nie verstaan nie.”

Owen en sy boetie
Owen by sy boetie. Foto: Verskaf

Covid-19 het die gesin swaar getref, want Candice het haar werk verloor en sy en Carel probeer nou verwoed genoeg geld op BackABuddy.co.za insamel om vir klein Owen nog behandeling te kry.

“Ek slaap skaars. Ek vors gedurig alles na wat ek kan om Owen te probeer help. Elke dag raak moeiliker, want in dié stadium kry hy geen meer behandeling nie. Ek kan dit nie net aanvaar nie,” sê Candice.

“Ons samel geld in om vir Owen nog bestraling by ’n privaat hospitaal te kry asook om ’n proefmiddel, ONC201, uit Amerika of Duitsland te kry.

“Navorsing oor kinderkanker is baie onderbefonds, tot so ’n mate dat daar die afgelope 30 jaar geen vordering oor VIBG was nie.

“Daar is geen bekende oorsaak of genesing vir VIBG nie en dit kan met enigiemand gebeur.”