Die departement het gesê dit is “genoodsaak weens die erns van die bewerings van molestering” van sowat 54 leerders deur die skool se veiligheidswag. 

Die departement het gesê hulle het sedertdien vasgestel dat die aantal leerders wat beweer hulle is gemolesteer, tot 83 gestyg het.

Die naam van die skool is aan News24 bekend, maar word weerhou om die identiteit van die kinders te beskerm.

Die veiligheidswag is Maandag in hegtenis geneem en het Woensdag in die Protea-landdroshof verskyn.

Hy bly in polisieaanhouding tot sy volgende hofverskyning op Woensdag 18 Oktober.

“Dit is met groot hartseer dat ek julle inlig ons het pas bevestiging ontvang dat die aantal leerders wat gemolesteer is, tot 83 toegeneem het,” het die departement se woordvoerder, Steve Mabona, in ’n SMS gesê.

Die departement sal binnekort met die beheerliggaam ontmoet om redes te verskaf waarom hulle nie ontbind moet word nie.

’n Onafhanklike liggaam is aangestel om alle bewerings teen die skoolhoof en haar bestuur te ondersoek.

Die departement het gesê hulle is tevrede met die beradingsproses wat deur ’n multidissiplinêre span gedoen is, wat bestaan uit amptenare van die departement, departemente van maatskaplike ontwikkeling, gesondheid en die Teddy Bear-kliniek.

“Ons is dankbaar teenoor alle belanghebbendes, veral die Teddy Bear-kliniek en ons psigo-sosiale ondersteuningsdienste. Ek is dankbaar dat die departement die saak prioriteit gegee het en ons sal geen steen onaangeroer laat nie. Ons sal voortgaan om die situasie noukeurig te monitor,” het Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, gesê.

Lesufi het gesê die verdagte, in sy 50’s en bekend aan die gemeenskap, het glo in Februarie die kinders, wat wissel van gr. R tot gr. 7, gemolesteer.

Volgens die departement het dit eers uitgekom op 26 September toe ’n grootouer vir die skoolhoof van ’n voorval vertel. Alle onderwysers is toe opdrag gegee om die leerders daaroor uit te vra.

Bron: News24