Keëlstaaf-distrofie is op 19 by Stephanie Agnew gediagnoseer. Dis ’n oorerflike oogsiekte wat die ligsensitiewe selle van die retina aantas.

Teen haar 28ste verjaardag was haar sig feitlik nul. Vandag is Stephanie, haar ma, Linda, en twee van haar drie broers almal blind weens die oogsiekte.

Stephanie het in 2016, kort nadat sy haar sig verloor het, die polisieman Robbie Campbell (toe 47) ontmoet. Die twee was toe reeds al 18 maande bure, maar het mekaar nooit by hul woonstelblok raakgeloop nie. 

“Ons het 1,5 m van mekaar af gewoon, maar ons paaie het nooit gekruis nie,” sê Stephanie.

“Ons het mekaar daardie Oktober die eerste keer ontmoet tydens ’n saamkuiergeleentheid met diegene wat in dieselfde woonstelblok gebly het. En ons het nie eintlik op goeie voet begin nie – hy was amper te veel vir my,” erken Stephanie.

Maar Robbie het beslis gehou van sy oulike buurvrou en het ’n maand lank ernstig by haar probeer vlerksleep. Nadat hulle eindelik op ’n afspraak gegaan het, was die koeël deur die kerk.

“Dit was fantasties!” – en al het Stephanie nog nooit vir Robbie gesien het nie, weet sy tog hoe hy “lyk”.

“Ek ken sy bou – hy is ses voet vier (1,9 m) en ek is vyf voet vier (1,62 m), dus is hy baie langer as ek. En ek weet hy het breë skouers, maar afgesien daarvan moet ek op ander se beskrywings van hom staatmaak.”

’n Jaar later, op Kersdag, het Robbie die groot vraag gevra.

“Ons het oor trou gepraat en ek het gesê as hy ooit vir my ’n huweliksaanbod maak, wil ek graag hê my familie moet teenwoordig of op die een of ander manier betrokke daarby wees.

“Ons was almal bymekaar toe hy vir my ’n boks gee. Dit was ’n Apple TV," vertel sy. Maar Robbie kon glo haar teleurstelling op haar gesig sien omdat dit nie die verwagte verloofringboksie was nie. 

“Maar toe verras hy my deur op sy knie neer te sak en ’n toespraak te maak,” en sy beskryf dit as ’n “pragtige en verrassende” oomblik.

Die twee het by ’n plek in dieselfde straat as Stephanie se tante se huis ewige trou beloof.

“Dit het dieselfde wonderlike uitsig op die berge wat sy onthou sy as ’n kind gesien het toe sy nog sig gehad het,” sê Robbie.

“Sy kon haar die uitsig op die dag voorstel.”

Om Stephanie se wêreld vir ’n paar minute te probeer ervaar, het die gaste blinddoeke gedra terwyl die egpaar hul beloftes afgelê het.

“Die gaste het die blinddoeke goed ontvang, want hulle het die oomblik ervaar soos Steph en haar ma, wat ook blind is, dit ervaar het,” sê Robbie.

James Day, ’n ou skoolvriend wat die spesiale dag op film vasgelê het, sê dit is ’n dag wat hy nooit sal vergeet nie. Hy en een van Stephanie se broers het boonop geurige olies op stukkies materiaal gegiet. Dié geurige lappies is op verskillende tye deur verskillende mense aan die bruid oohandig.

“Dit was ongelooflik spesiaal en dit het my baie laat huil,” vertel die oorstelpte bruid.

James het nie daar opgehou nie. Hy het moeite gedoen om die foto’s in soveel detail as moontlik te beskryf sodat blinde vriende ook meer deel van die seremonie kon voel.

“Wanneer ons een van ons sintuie verloor, word die ander sterker,” sê James.

“Dit stel ons in staat om iets so mooi soos die beloftes op ’n totaal unieke manier te ervaar. Vandag kry ons die kans om dit uit Steph se perspektief te ervaar.

“Ek sal jok as ek sê ek het nie self ’n paar trane gestort nie. Ek het trouens vreeslik gehuil toe ek Steph in die paadjie sien opstap.

“Dit was maklik die mees emosionele trouplegtigheid waarvan ek nog deel was.”

Asof dit nie reeds oorweldigend genoeg is nie, het ’n spierwit uil ook ’n rol in die huwelikseremonie gespeel. Dié was die amptelike ringdraer en het die paartjie se trouringe aan Stephanie oorhandig. Sy het wel ’n beskermende handskoen gedra om haar teen die uil se skerp kloue te beskerm.

'n Uil het die paartjie se trouringe aan die bruid oorhandig. Foto: Facebook-videoskermgreep (James Day Photography)

Stephanie hoop dat deur haar ervaring te deel sy ander kan inspireer wat hul sig verloor het.

“Wanneer mense vir jou sê jy kan iets nie doen nie, kan jy nie toelaat dat dit jou beïnvloed nie,” sê Stephanie.

“Dit het my aangespoor om nog meer sukses te wil behaal. Almal het struikelblokke, daarom is dit belangrik om diep in jouself te delwe en te verstaan die lewe kan moeilik wees, maar daar is altyd maniere om dinge te hanteer.”

Met behulp van vriende het Stephanie boonop op haar troudag nog ’n besondere mylpaal gehaal: die eerste foto wat sy self van haar man geneem het.

Bronne: Daily Mail, Metro, Café Mom, nine.com.au