’n Nuwe studie toon dat mense wat in die eerste twee maande van die jaar gebore is baie maklik die beroepsleer klim en finansiële sukses behaal. 

Luidens die studie wat in die Journal of Social Sciences gepubliseer is, is daar beslis 'n verwantskap tussen die maand waarin jy gebore is en jou toekomstige beroep.

Navorsers het bevind dat ’n groot aantal Hollywood-sterre tussen 20 Januarie en 18 Februarie gebore is en dat hulle onder die Waterdraer-sterreteken val. 

Die studie het ook mense van verskeie velde bestudeer, insluitend politici, wetenskaplikes, skrywers, sport-ikone, sangers en akteurs van oor die jare heen. 

Die gevolgtrekking is dat die meeste bekendes se sterreteken Waterdraer is. 

Bekende eienskappe van dié teken is iemand wat energiek, vol verbeelding en visie is en wat maklik onafhanklik kan werk. 

Hulle is ook gereeld die uitvoerende bestuurshoof van maatskappye. 

Bekende Waterdraers sluit in die Hollywood-aktrise Jennifer Aniston (49), die Amerikaanse mediamagnaat Oprah Winfrey (64) en die sokkerster Cristiano Ronaldo (33). Plaaslike bekendes soos die Paralimpiese swemheld Natalie du Toit (34) en die voormalige Proteas-kaptein Graeme Smith (37) val ook onder die sterreteken.

Bronne: Practical Parenting; The Sun